top of page

Gedagte vir Vandag

24 Februarie 2021

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (56)

(Matt. 16:21–25:46)


Jesus se gesag in Jerusalem bevraagteken (2).

(Matt. 21:1–22:46)


Die intog van Jesus in Jerusalem (2)

(Mark. 11:1-11; Luk. 19:28-38; Joh. 12:12-19)

Entoesiasme maak blind!

Matt. 21:6-9 – “Die twee dissipels het toe vooruit gegaan en gedoen wat Jesus hulle beveel het. Hulle het die donkie en die vul gebring, van hulle klere op die diere gesit, en Jesus het opgeklim. Die grootste deel van die skare het van hulle klere op die pad oopgegooi, en ander het takkies van die bome afgebreek en dit op die pad gestrooi. Die mense wat voor Jesus geloop het en dié wat agter Hom aan gekom het, het begin uitroep: ‘Prys die Seun van Dawid! Loof Hom wat in die Naam van die Here kom! Prys Hom in die hoogste hemel!”


Vergelyk ook Joh. 12:12-13 – “’n Groot menigte mense wat na die Paasfees toe gekom het, het palmtakke gevat en Hom tegemoet gegaan en uitgeroep: ‘Prys Hom! Loof Hom wat in die Naam van die Here kom! Die Koning van Israel!” (Aanhaling uit Ps. 118:25).


Die twee dissipels vind alles soos Jesus vooruit gesê het. Hulle ondervind geen probleme nie en bring “die donkie en die vul”, plaas “van hulle klere op die diere, en Jesus het opgeklim.”Op feestelike wyse ry Jesus só Jerusalem binne, met die klere van arm vissermanne as ‘n saal. ‘n Groot skare verwelkom Hom met “palmtakke” en bevestig eintlik Sy koningskap, want hulle rol as’t ware die “rooi tapyt” vir Jesus oop, deur hulle klere voor Hom oop te strooi terwyl hulle uitroep: “Hosanna vir die Seun van Dawid! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Hosanna in die hoogste hemele!” (1953 Vertaling).


Die palm word beskou as die simbool van vreugde en oorwinning, en is gewoonlik by die huttefees gebruik. Nou dien dit om die Koning by Sy aankoms te verwelkom. Die Messiaanse begroeting uit Psalm 118:25-26 word Jesus toegeroep, hoewel hulle Hom aansien as die Messias volgens eie opvatting. “Hosanna” is ’n Hebreeuse uitroep wat beteken: “Gee tog hulp” of, “red ons nou” en is by die Paasfees gebruik as groet. Jesus kom wel na die stad juis om te help, om redding te bring, maar dan op ’n ander manier as wat die skare verwag. Ook die toeroep: “Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!” dien as benaming vir die Messias. Die toevoeging: “Die Koning van Israel!” het ook Messiaanse betekenis, maar word hier verkeerdelik bedoel, aangesien die Jode ’n aardse koning verwag wat hulle staatkundig van die Romeinse juk sou verlos.


Dit was tradisie dat 'n oorwinnaar na ‘n veldslag die hoofstad van sy ryk triomfantlik binnery. Maar hier is die kontras waarmee Jesus die Dawidstad as Koning binnery, opvallend. Hy ry as 'n nederige Koning op die vul van 'n eselin. Jesus kom Jerusalem binnegery om redding te bring, maar op ‘n totaal ander manier as wat die mense gedink het. Die mense wou Hom verander in ‘n aardse koning wat hulle moes verlos van die Romeinse juk, maar Jesus kom doen beter, Hy kom eintlik om hulle te verlos van ewige verlorenheid!


Die skare in Jerusalem wou Jesus iemand maak wat húlle graag wou hê Hý moes wees. Was die palmtakke se swaaiery nie dalk om Jesus vir hulle as koning in te palm nie, ‘n koning wat hulle drome en wense kon vervul nie? Nie dat dit noodwendig verkeerd is nie, maar ek wonder of hulle opreg was in hulle verering, want ‘n paar dae later het hulle uitroepe van “Prys Hom! Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!” en “Die Koning van Israel!” verander in “Kruisig Hom!”


Voldoen Jesus aan die verwagtinge van die mense van die 21 ste eeu? Is baie van ons se “palmtakswaaiery” en vroom uitroepe nie dalk ook om Jesus by ons agendas te laat inpas nie, instede om Jesus toe te laat om Sy wil in liefde na te speur nie? Hoe baie gebeur dit nie dat ons wil hê dat Jesus moet wees soos ons Hom wil maak nie? Hoeveel keer het ons nie al gedink dat wat nou met ons gebeur, pas nie in by óns prentjie van hoe Jesus behoort op te tree nie? Dit voel vir my en jou asof Jesus nie Sy kant van ons ooreenkoms bring nie. Ek meen, ek probeer my uiterste bes om mý kant van die ooreenkoms te bring – elke Sondag in die kerk, gee my maandelikse bydrae, dien op die kerkraad, en ...! Is ek nie ook maar op ‘n manier tussen die skare met my palmtak om Jesus in te palm sodat Hy kan optree volgens mý skema, die skema wat ek vir Hom uitgedink het, nie? Hoeveel gelowiges in die wêreld redeneer dalk so?


Dalk moet ons wees soos die eenvoudige donkie, soos hierdie donkie wat die heilige troon van meer as ‘n koning geword het, die troon van die Seun van God self. Jesus kom wys ons hiermee dat iets waaraan ons min waarde heg soos byvoorbeeld ‘n donkie, juis waardevol vir God kan wees. Die donkie was ‘n Jesus-draer wat nederig gedien het sonder om die eer daarvoor te kry. Hy het Jesus op Sy laaste rit Jerusalem binnegedra sodat ek en jy Jesus die wêreld kan indra, om “die pad te leer wat Hy wil hê ek moet volg” (Ps. 32:8), en nie waar ék en jý wil gaan nie.


“As jy wil weet hoe populêr die kerk is, kom kyk hoeveel mense kom Sondae-oggende kerk toe! As jy wil weet hoe populêr die dominee is, kom kyk hoeveel mense kom Sondae-aande kerk toe! As jy wil weet hoe populêr Jesus is, kom kyk hoeveel mense kom wyksbyeenkomste of omgeegroepe toe!” (Onbekend). (Met verwysing na normale tye sonder Covid)


Gebed: Dankie Here dat U my leer dat ware grootheid nooit selfgerig is nie. Om werklik ‘n bydrae te lewer tot die samelewing, kan ek nie net ‘n palmtak-swaaier wees en niks verder doen nie Maak my nederig, ‘n donkie-ryer wat weet ek het ‘n veilige tuiste by U, terwyl die storms in hierdie deurmekaar wêreld om my woed. Maak my gewillig wanneer ek twyfel, sodat ek uit “dankbaarheid my getuienis as ‘n lofoffer vir U kan bring” (Rom. 12:1). Saam met Paulus wil ek “tot diens vir U wees en my verantwoordelikheid hou omdat ek moet. “Wee my as ek dit nie doen nie” (1 Kor. 9:16). Maak my gewillig om diensbaar te wees. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page