top of page

Gedagte vir Vandag

17 Februarie 2021

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (51)

(Matt. 16:21–25:46)


Jesus spel koninkrykswaardes vir leiers en die geloofsgemeenskap uit (7).

(Matt. 20)


Die versoek van Jakobus en Johannes (2)

(Mark. 10:35-45; Luk. 22:24-30)


Gaan ek en jy enduit saam met Jesus?


Matt. 20:22-23 – “Toe antwoord Jesus: ‘Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle die lydensbeker drink wat Ek gaan drink?’ ‘Ons kan,’ antwoord hulle. Jesus sê toe vir hulle: ‘Ja, my beker sal julle drink. Maar om aan my regter- en my linkerhand te sit, daaroor besluit Ek nie; dit is vir dié vir wie my Vader dit gereed gemaak het.”


Vergelyk ook Joh. 6:64b-66 – “Jesus het immers van die begin af geweet wie dit is wat nie glo nie, en wie dit is wat Hom sou verraai. Verder het Hy gesê: ‘Daarom het Ek vir julle gesê niemand kan na My toe kom as die Vader dit nie aan hom gegee het nie.’ Hieroor het baie van Sy dissipels omgedraai huis toe en nie meer saam met Hom gegaan nie.”


Onderweg na Jerusalem het die twee broers en hulle ma miskien allerlei gedagtes oor ‘n moontlike staatsgreep deur Jesus, begin losmaak. Hulle skram steeds weg van die lyding waarna Jesus verwys. Hulle het nog glad nie verstaan dat Jesus wel Jerusalem toe gaan om te gaan ly en sterf nie. Hulle wil graag in Jesus se heerlikheid deel. Dit is egter baie duidelik dat hulle, na alles wat Jesus gesê het, nog steeds nie verstaan dat Sy volgelinge ‘n totaal ander lewensbeskouing behoort te hê, waarvolgens ereposisies nie by Jesus saak maak nie.


Liefdevol wys Jesus hulle daarop dat hulle nie goed begryp wat hulle vra nie. Toe Hy pas tevore van sy komende lyding gepraat het, het hulle nie die nodige aandag daaraan gegee nie. Daarom stel Hy nou aan hulle die vraag of hulle “die lydensbeker kan drink wat Hy gaan drink?”, om hulle te laat begryp dat alleen die weg van selfontsegging op verheerliking uitloop. Alleen diegene wat bereid is om saam met Hom die lydensbeker te ledig, sal deel hê aan Sy verheerliking. Sou Jakobus en Johannes daartoe bereid wees? Sou ek en jy bereid wees?


Sonder aarseling antwoord hulle dat hulle kan! Jesus stem toe dat hulle die lydensbeker sou deelagtig word, verwysend na wat op hulle wag nadat Hy opgevaar het hemel toe. Later sou hulle ten volle die bitterheid van die beker leer ken. Jakobus was die eerste aan die beurt. In 44 n.C. het hy ‘n marteldood deur die swaard van Herodus gesterf (Hand. 12:2) en Johannes is na die eiland Patmos verban omdat “hy die woord van God en die getuienis van Jesus verkondig het” (Op. 1:9). Maar om die plekke van eer toe te ken, berus by die Vader. Sulke plekke van eer is daar wel, maar God sal dit toesê aan diegene wat Hy daartoe waardig ag.


Johannes skryf in sy evangelie vir ons dat Jesus deur Sy goddelike kennis van die mens, presies weet wie nie Sy woorde glo nie. Hierdie wete het Hy “van die begin af”, vanaf die begin van Sy aardse optrede, al geweet. As Middelaar besit Hy die voorkennis van alles wat Hy sal wedervaar, die geloof en die ongeloof, die guns van mense en die onguns, die dissipelskap en die vyandskap, die verering en die verwerping.


Vir die sondige mens is dit onmoontlik om uit eie beweging na Jesus toe te kom en in Hom te glo. Hy kan dit alleen doen as die Vader “dit aan hom gee”, dit wil sê aan hom die genade skenk om te kan glo. God bring deur die gehoorde woord en die werking van die Gees, die mens in beweging om na Jesus te kom. Die normale toedrag is dus dat mense voortgaan in sonde en ongeloof; die wonder van genade is dat sommige hulle tot Jesus keer, bereid is om “die lydensbeker saam met Hom te ledig,” en gered word.


“Hieroor het baie van Sy dissipels (volgelinge) omgedraai huis toe en nie meer saam met Hom gegaan nie.” Hulle was vol verwagting dat Hy die Messias, volgens hulle eie standaarde sou wees, maar Hy volhard met gesprekke oor geestelike dinge. En die eise wat Hy stel om die ewige lewe te verkry behels die drink van ‘n lydensbeker. Dis verregaande! Hulle wou iemand volg wat vir hulle iets kon dóén – kos gee wanneer hulle honger is, gesond maak wanneer hulle siek is en tot hulp kan wees teen Romeinse druk. Maar toe hulle hoor wat Hy eis, toe is die kerk meteens leeg! Sy mooiweers-vriende verlaat Hom toe die eerste skaduwee oor hulle val – die skaduwee van die kruis!


Talle mense loop vandag nog van die Here Jesus af weg wanneer hulle voel Sy dienslewering is nie na wense nie. Baie kan soms maklik om verkeerde, hoogs verdagte en selfs selfsugtige redes agter Jesus aanstap. Party mense stap agter Jesus aan net omdat hulle die duiwel en die hel vrees. Ander weer omdat hulle glo dat, indien hulle so 'n tydjie hier en daar aan God afstaan, God hulle darem iewers hier en daar sal beloon. Is ek en jy bereid om enduit saam met Jesus te stap? Sy pad gaan deur Getsemane, “deur die stadspoort tot buitekant die laer en die smaad dra wat Hy gedra het” (Heb. 13:12-13). Dit is ‘n eensame pad wat later nie meer die geringste teken van ‘n voetspoor het om te volg nie – slegs ‘n stem wat sê: “Volg My!” (Matt. 4:19).


“Wie saam met Jesus wil wandel, moet in dieselfde rigting as Hy gaan” (Anoniem).


Gebed: Here, daar is só baie mense wat moeg en moedeloos raak vir die uitdagings van die evangelie. “Daar is so baie weë wat vir ons as mense reg lyk, maar dis weë van die dood” (Spr. 14:12) want U is nie daar nie. Ek weet net by U is daar verlossing, hoop en lewe, U het die woorde wat die ewige lewe gee. Hierdie keuse is 'n keuse wat ek telkens weer en weer wil maak. Ek besef dit is nie alleen een van die moeilikstes nie, maar ook een van die belangrikstes. Ek weet ook dit is 'n keuse met geweldige implikasies want as ek U uitnodiging aanvaar om U te volg, moet my lewe 'n lewe word waar ek myself verloën, ek minder word en U meer, my kruis opneem en saam met U die lydensbeker ledig. Help my asseblief Here, dat ek standvastig sal bly in my keuse en nie handdoek sal ingooi nie. Tot eer van U Naam! Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page