top of page

Gedagte vir Vandag

16 Februarie 2021

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (50)

(Matt. 16:21–25:46)


Jesus spel koninkrykswaardes vir leiers en die geloofsgemeenskap uit (6).

(Matt. 20)


Die versoek van Jakobus en Johannes (1)

(Mark. 10:35-45; Luk. 22:24-30)

In God se koninkryk is daar nie ‘n rangorde nie!


Matt. 20:20-21 – “Toe kom die vrou van Sebedeus met haar twee seuns by Jesus en kniel voor Hom om Hom ‘n guns te vra. ‘Wat kan Ek vir u doen?’ Vra Hy vir haar. Sy sê vir Hom: ‘Belowe my dat hierdie twee seuns van my in u koninkryk langs U mag sit, een aan u regterhand en die ander een aan u linkerhand.’


Onderweg na Jerusalem praat Jesus die derde keer met Sy dissipels oor Sy naderende lyding, dood en opstanding in Jerusalem, en 'n mens sou nou verwag dat die dissipels met groot erns hulle sal gereed maak om ook saam met Hom te ly. Hy het immers pas hulle meegedeel dat hier nie nou sprake is van eer en loon nie, en dat dié wat eerste wil wees, laaste sal wees. Desondanks wys die dissipels dat hulle tog op die een of ander wyse, steeds ‘n oorwinning oor ‘n aardse koninkryk in Jerusalem verwag. Naywer tree onder hulle op die voorgrond want in ‘n aardse koninkryk is daar ‘n reeks belangrike ampte onder die koning. Daarom kan gewedywer word om die belangrikste ampte te bekom.


Nie Jakobus, Johannes of hulle moeder het waarlik verstaan wat Jesus hulle oor beloning (Matt. 19:16-30) of die ewige lewe (Matt. 20:1-16) geleer het nie. Sy “kniel voor Jesus om Hom ‘n guns te vra” en stel haar seuns se begeerte om eervolle plekke in sy koninkryk te beklee, “een aan Sy regterhand en die ander een aan Sy linkerhand.” Johannes en Jakobus se ma neem die inisiatief om die uitsoekposte vir hulle, in Jesus se kabinet te verkry wanneer Jesus die Romeine in Jerusalem gaan verjaag. (Terloops, vrouens het destyds geen aansien gehad nie behalwe deur haar man of seuns. Indien haar seuns die ereposisies sou beklee, sou sy ook daarby baat. Die “guns wat sy gevra het”, het dus oor haarself gegaan.)


Wanneer ons nou agterna na hierdie gebeure kyk, weet ons wat Jesus bedoel het met die koninkryk van God en dat Hy die Messias is, maar op daardie stadium het Hy nog nie soos die Messias opgetree nie. Johannes, Jakobus en hulle moeder se onkunde maak dus nie haar versoek verregaande nie. Alle ouers wil graag hê hulle kinders moet voorspoed beleef en indien ons sou dink dat sy gereken het haar twee bloedjies die hoogtepunt van die skepping is, sou verkeerd wees.


Sy het immers voor Jesus gekniel en eerbiedig Hom ‘n guns gevra. Sy klink nie na ‘n eiegeregtige of eersugtige vrou nie, meer na vandag se soort gelowige moeder. Miskien het sy Jesus se guns gevra om Johannes en Jakobus se toekoms saam met Hom te verseker. Johannes was Jesus se geliefde dissipel en sy wou dalk sy liefde met Jesus deel. Sy het dalk vanweë haar geloof verder gesien dat Jesus wél die Messias is en dat Hy van ‘n ander Ryk is. Ons weet nie.


Indien sy dalk van mening was dat Jesus koning sou word in Jerusalem, een wat dinge weer sal regruk in Israel sodat dit weer met die gewone mense beter kon gaan, was dit ook nie totaal van die spoor af nie. God het ook gemeen hulle het ‘n ander koning nodig, daarom stuur Hy sy eie Seun as Koning. Haar seuns het alles net so gelos en het Jesus as die vervulling van hulle behoeftes gevolg. Die probleem egter is watter sóórt koning hulle in gedagte gehad het. Hulle het dalk gedink dat hulle as lede van Jesus se binnekring, se status ‘n bietjie laag was en Jesus moet nou daardie behoefte van verhoogde status kom voorsien. Ons weet nie!


Wat ons wel weet is dat die Here nie ons behoeftes wat op die oppervlak van ons selfsugtige denke lê, vervul nie. Hy kyk dieper, tot daar waar ek en jy onsself nie ken nie, tot by ons werklike nood. Dáár help Hy ons. Dit is wat die moeder van Johannes en Jakobus ook moes leer. As ons leiers in die samelewing wil wees, moet ons eers leer om soos Jesus, diensknegte te wees. Die voorbeeld wat Hy vir ons gestel het, is dat kinders van die Here nie net by Hom “sit nie, nie aan Sy regterhand of aan Sy linkerhand”, of Sondae net in die kerk “sit” en luister nie, maar werk en dienaar wees. Jesus is Koning, maar heeltemal anders as wat ons soek! Ons moet altyd Jesus se nederigheid en ootmoed onthou. Hy was ewe tuis by die geleerdes in die tempel, as by die verwerpte melaatses. Hoe voel ek en jy daaroor? Wil ons sit of wil ons doen?


“Christenleiers moet oppas vir die dodelike valstrik om net húlle gunstelingwaardes af te dwing – en die res te ignoreer” (Billy Graham).


Gebed: Here, U voorbeeld wys vir my dat U plesier het aan ‘n nederige hart daarom vra ek dat U die illusie dat ek enigiets sonder U kan doen, sal wegneem. Leer my die grense van my kennis, want U het my gemaak wat ek is. Leer my die grense van my vermoëns sodat ek in Ú my krag sal soek, krag wat my nie langs U sal “sit” nie, maar krag om diensbaar te wees in U koninkryk. “Vader, U het my gemaak wat ek nou is: in Christus het U my geskep om my lewe te wy aan die goeie dade waarvoor U my bestem het” (Ef. 2:10). Help my deur U genade daarmee. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page