Gedagte vir Vandag

12 Januarie 2021

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING.

(Matt. 16:21–25:46)


Jesus se vierde toespraak; Verhoudings tussen gelowiges.

(Matt. 18:1-35)


‘n Broer wat sondig (3)

(Luk. 17:3)

Gebed help niks … of help dit?


Matt. 18:17-20 – “En as hy na hulle nie luister nie, sê dit vir die gemeente. As hy ook na die gemeente nie luister nie. Moet jy hom as ‘n heiden en ‘n tollenaar behandel.” ‘Dit verseker Ek julle: Wat julle ook al op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat julle ook al op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly. Verder verseker Ek julle: As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry, want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.”


Jesus neem nou die proses verder deur ‘n derde stap by te voeg. As die oortreder steeds weier om sy of haar sonde te erken, “moet dit aan die gemeente gesê word” sodat die saak deur die hele gemeente hanteer word. Die bedoeling is weer pastoraal om hom/haar liefdevol tot inkeer te probeer beweeg. Die prosedure van eers alleen, dan twee of drie getuies, dan die gemeente is ‘n uitkringende aksie wat die oortreder wil laat verstaan dat die hele huisgesin van God oor hom/haar bekommerd is.


Indien ook hierdie appèl nie slaag nie, moet hy/sy soos ’n “heiden en ’n tollenaar behandel word”. Hierdie opdrag impliseer ’n afstand, die een of ander vorm van uitsluiting uit die gemeente. Ons eerste gevolgtrekking is dat Jesus hier die opdrag gee dat die oortreder onverbeterlik is omdat alle pogings om hom/haar tot ander insigte te bring, hooploos is en hy/sy aan hulle eie oordeel oorgelaat moet word. Maar dit is egter presies wat Jesus nie gedoen het nie, Jesus het juis geen beperkinge op vergifnis geplaas nie. Hierdie radikale handeling het dus steeds die pastorale oogmerk om die sondaar tot sy/haar sinne te bring. (Dit het natuurlik meer effek gehad in die eerste paar eeue, omdat ‘n oortreder dan sonder opsies was om na ’n geloofgemeenskap terug te keer.) Die onus rus stééds op die geloofsgemeenskap om onderlinge konflik en sondige optredes uit te sorteer, voor dit in onderlinge vetes verander.


Wat aan Petrus beloof is nadat hy bely het dat “Jesus die Seun van God is” (16:19), word nou aan ál Jesus se volgelinge opgedra. Petrus se belydenis, werk soos ‘n sleutel vir elkeen wat dieselfde belydenis, opreg agter Petrus kan aan sê! Hierdie belydenis is as’t ware die sleutel wat die deur of pad na God se koninkryk oopsluit. Terselfdertyd sluit dit die pad na die hemel tóé, vir diegene wat nie bereid is om in geloof, wil erken dat “Jesus die Christus, die Seun van die lewende God” is nie. Elkeen wat volhardend hulle rug op die egte en ware Evangelie draai, word uitgesluit, die deur van God se koninkryk gaan vir hulle toe! Let wel, dit is nie Petrus of ons geloofgemeenskap wat as sleuteldraers, die koninkryk oop of toesluit nie, dis God self! Ons wys maar net die deur na die ware lewe toe aan, deur saam met Petrus te bely dat Jesus meer as net ‘n mens is wat tussen ons kom woon het (Joh. 1:14). Hy is God self!


Voortspruitend uit die gemeente se verbondenheid met die lewende Here in hulle midde, beloof Jesus dat die hemelse Vader die gebed van selfs net twee gemeentelede sal verhoor. Jesus wys hiermee op die geweldige verantwoordelikheid wat rus op die geloofsgemeenskap om dié manier van doen te volg, want dit het ewige konsekwensies. Want “waar twee of drie saamstem hieroor, sal God die Vader dit aan hulle toestaan.” God is immers in ons midde. Daar word dus eendragtig vir die sondaar by God ingetree. Soos die belofte van gebedsverhoring, word die belofte van Jesus se teenwoordigheid nou aan die saamkom van twee of drie in sy Naam verbind. (Hierdie is nog ’n duidelike voordeel daarvan om ’n teks in konteks te lees, omdat die gebedsverhoring hier nie maar net op enigiets dui nie [daar is ander tekste wat natuurlik oor ander tipes gebedsverhoring insluit]. Hier dui dit net op dít wat met onderlinge vermaning te make het.)


Die merkwaardigste is dat Jesus so min voorwaardes stel: “As twee van ons op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal sy Vader wat in die hemel is, ons dit laat kry.” Dit is natuurlik “enige saak” binne die wil van God. In hierdie geval gaan dit oor ons “broer of suster van ons geloofsgemeenskap wat afvallig geraak het, wat oortree het.” Al wat ons moet doen is dat “twee van ons oor die saak moet saamstem en daaroor bid”net twee! Dis een van die redes waarom God ons in ‘n kerkfamilie geplaas het – om onselfsugtigheid aan te leer. In ‘n geloofsgemeenskap leer ons om “ons” in plaas van “ek” te sê, en “ons s’n” in plaas van “myne”, want God sê: “’n Mens moet nie sy eie voordeel soek nie, maar dié van ander” (1 Kor. 10:24).


Wat doen ek en jy persoonlik om te sorg dat ons kerkfamilie warmer en meer liefderyk teenoor mekaar word? Gee ons nog om vir die een wat God se pad byster raak? Tree ons met liefde teenoor hom/haar op? Die beginsels wat Jesus hier uitgelig het, dui daarop dat 'n ware gelowige nie mag stilsit en 'n medegelowige op sy dwaalweg laat voortgaan nie. Ons mag ook nie die maklike weg kies en hoop ander gemeentelede sal maar vermaan en hom/haar terugroep nie. Verder dui dit daarop dat 'n sondaar se oortreding nie op die strate vir almal se oë en ore oopgegooi mag word nie.


In der waarheid het álmal liefde nodig en verg dit een lang en aanhoudende gebed om wysheid, sodat ons steeds in liefde sal optree. En Jesus belowe “waar twee of drie in sy Naam saam is, daar is Hy by ons.” Net twee: ‘n Man en sy vrou; twee jong kindertjies; ma en haar kinders; twee vriende/vriendinne; ouderling/diaken en wykslidmaat …! Ons kan mekaar onderlangs aangluur en Jesus se belofte verwerp. Of ons kan dit uittoets en met verligte “Christus-harte” in liefde laat voortleef en omgee vir ons geloofsgemeenskap. Die regte keuse, sal tot gevolg hê dat die kerkdeure gesluit moet word indien ons iemand daar wil weghou, want waar Jesus in ons midde is, verander dinge!


“Een van die beste maniere om soggens op jou voete te kom, is om eers op jou knieë te gaan” (Anoniem).


Gebed: Here, laat my toe om die geur van U teenwoordigheid te versprei, oral waar ek gaan. Deurdring my lewe met die glans van U lig sodat dié wat die pad byster geraak het, bewus mag word van U warmte en liefde wanneer hulle met my in aanraking kom. Laat elkeen wat in die skadu’s lewe, na my kyk en net vir U sien. Maak hulle wat afgedwaal het, se oë dof wanneer hulle na waardelose dinge kyk. Maak hulle harte nuut sodat hulle kan terugdraai na die ewige Lig. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

H/v Eerstestraat & Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: [email protected]

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:30 - 17:30

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:30 - 17:30

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.