top of page

Gedagte vir Vandag

5 Januarie 2021

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING.

(Matt. 16:21–25:46)

Jesus se vierde toespraak; Verhoudings tussen gelowiges.

(Matt. 18:1-35)


Aanleiding tot afvalligheid (3)

(Mark. 9:42-48; Luk. 17:1-2)

Klou in geloof vas aan Jesus!

Matt. 18:8b-9 – “Dit is vir jou beter om vermink of kreupel die lewe in te gaan as om met altwee jou hande of voete in die ewige vuur gegooi te word. En as jou oog jou van My afvallig maak, ruk hom uit en gooi hom van jou af weg. Dit is vir jou beter om met een oog die lewe in te gaan as om met altwee oë in die vuur van die hel gegooi te word.”


Vergelyk ook 2 Tess. 1:7-9 – “Aan julle lyding en ons s’n, sal God ‘n einde maak wanneer die Here Jesus met sy magtige engele in ‘n vuurvlam uit die hemel verskyn. Dan sal Hy die mense straf wat nie vir God ken nie en dié wat die evangelie van ons Here Jesus nie gehoorsaam nie. Die ewige verdoemenis sal hulle straf wees, altyd geban uit die teenwoordigheid van die Here en van sy magtige heerlikheid.”


Indien ons nie gehoor gee aan Jesus se waarskuwing: “Wee die mens wie afvalligheid toelaat of veroorsaak”, volg Hy met ’n ellende-aankondiging vanweë die teenwoordigheid van die werklikheid van struikelblokke, dinge of mense wat ander in sonde laat val: “Die ewige vuur van die hel wag vir daardie mens!” Die hel wat ‘n vernietigingsproses is wat nooit heeltemal vernietig nie: “Daar gaan die wurm nie dood nie en word die vuur nie geblus nie” (Mark. 9:48).


Ek dink julle sal met my saamstem, die beskrywing van die hel is genoeg om jou slapelose nagte te gee … maar, sal God regtig so hard wees? Gooi God regtig mense in die hel? Paulus sê ja en nee. Ja, omdat dit God se oordeel is oor dié “wat nie Hom ken nie en dié wat die evangelie van ons Here Jesus nie gehoorsaam nie.” Nee, omdat dit nie God se wil is dat enigeen hel toe moet gaan nie. Die Woord van God gryp elkeen soms voor die bors en draai nie doekies om nie. Dit is veral vir dié wat van die pad af is, nie lekker om die nuus te hoor nie, maar dit moet ons mede-gelowiges nie keer om hulle herhaaldelik aan die waarheid te herinner nie. Die waarheid is dat God sy wil in Jesus openbaar het: “Hy het ons so lief dat Hy sy Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe kry” (Joh. 3:16).


Iemand vertel die storie van die dag toe Adam gesondig het, het 'n bom gebars, 'n bom baie skadeliker as enige kernbom, selfs die kernbom wat Hirosjima en Nagasaki verwoes het in Augustus 1945. Die skokgolwe van die Adamsbom ervaar ons nog elke dag, die uitstraling daarvan maak ons steeds siek, letterlik tot die dood toe. Adam het, tragies genoeg, veel bereik – met een daad het hy die hele mensdom in ellende gedompel. In elkeen van ons laat die skokgolwe van die Adamsbom 'n verdere ontploffing plaasvind, met groter en groter skade – uit die een oortreding het baie oortredinge gevolg en mense het afvallig geraak van Jesus, weggedryf van Hom en volhardend begin kies om hulle eie baas te wees, eerder as om in geloof aan Hom vas te klou.


Maar ... God kan 'n lewensbom maak, en Hy hét. Toe God se Seun mens geword het in Betlehem, het die lewensbom begin tik – “Soos een oortreding gelei het tot veroordeling vir alle mense, so het een daad van gehoorsaamheid dus ook gelei tot vryspraak en lewe vir almal” (Rom. 5:18). Menslike bomeksperte het gemeen hulle ontlont die Lewensbom toe hulle Hom aan die kruis vasspyker, inteendeel, hulle het tóé die lont aangesteek – Jesus was besig om op “Goeie Vrydag,” met Sy "een daad van gehoorsaamheid", Adam se "een oortreding" ongedaan te maak.


Drie dae later, het die Lewensbom ontplof toe Jesus deur die krag van die Heilige Gees uit die graf kom. In die skokgolwe van dáárdie ontploffing kom mense tot geloof, word hulle met God versoen – Adamskinders word God se kinders. Iets soos 'n kettingontploffing gebeur ook hier – elkeen wat glo, ontplof ‘n nuwe lewe! Die lewe van mense wat weet hulle is vrygespreek van skuld, al is hulle Adamskinders. Die lewensbom is uiteindelik sterker as die doodsbom. Adam se val en skuld bind hulle nie meer nie, want hulle is getref deur die krag van Jesus se opstanding en gehoorsaamheid.


“Soos een oortreding gelei het tot veroordeling vir alle mense, so het een daad van gehoorsaamheid dus ook gelei tot vryspraak en lewe vir almal.” En dit is geloof waaraan ons moet vashou, geloof waarvan die hoop nie beskaam nie (Rom. 5:5): Die oortuiging dat God se genade in my en jou lewe gewen het teen die sonde; dat die lewe wat God ons gee, sterker is as die dood wat ons vir onsself verdien het. En as God in my, selfs in mý, kan oorwin, waarom dan nie in jou nie? Waarom dan nie in baie, ander mense nie? Want ek is ook mos Adamskind, ook mens, nes jy! As jy sterf in die keuse om sonder God te leef, stuur Hy jou hel toe. Die hel is die plek waar Hy vir my en jou, ons sin gee. Dit is dáár waar Hy sê: “Laat jou wil geskied, en nie Myne nie.” Die keuse is elkeen s’n om te besluit waarheen, hemel of hel! Daar is nie ‘n middeweg nie.


“The gospel is this, the power of God is more powerful than the power of sin. Christ is much more powerful than Adam in us” (Edward Markquart).


Gebed: Hemel Vader, dankie dat U genade groter is as die sonde, ook die erfsonde. Heerlik is die evangelie van ‘n God wat só groot is in Sy genade, dat U alle sonde reinig in die bloed van Christus. Dit is ‘n onbeskryflike troos om te weet dat Jesus in die plek van Adam gekom het, dat ek kon opstaan omdat Hy opgestaan het ... en dat ek mag glo dat Sy opstanding nog méér mense sal laat opstaan. Dankie Jesus dat U my uit die uitsiglose sonde-lewe, wat uiteindelik in eindelose ellendes gaan wegsink, bevry het, en my weer ’n lewe saam met God gegee het, ’n lewe waarin ek uiteindelik al die ellendes van hierdie ou wêreld, finaal sal agterlaat. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page