top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 11 Augustus 2022

Koos Espach


Sewe diakens word gekies (6)


Meld aan vir diens en dien met vreugde


Hand. 6:5-7 – “Die voorstel het by al die gelowiges byval gevind, en hulle het Stefanus gekies, ‘n man met ‘n vaste geloof en vol van die Heilige Gees, en verder Filippus, Progorus, Nikanor, Timon, Parmenas, en Nikolaus wat van Antiogië afkomstig was en vantevore uit die heidendom tot die Jodedom oorgegaan het. Die gelowiges het hulle voor die apostels gebring, en dié het vir hulle gebid en hulle die hande opgelê. Die woord van God het verder versprei, en die getal gelowiges in Jerusalem het geweldig toegeneem. Selfs ‘n groot aantal priesters het gelowig geword.”


Net toe dit wou lyk asof die vroeë kerk in die moeilikheid is oor die groot werklas van die apostels, het hulle met die nodige wysheid van die Heilige Gees ‘n ideale plan beraam. Die oplossing was om sewe mans uit eie geledere aan te stel om die gemeente se armes te versorg sodat die apostels hulle kon toespits op die verkondiging van die evangelie.


Die gemeente plaas die sewe manne voor die apostels en biddende lê hulle die hande op die sewe manne. Dat hulle dit biddend doen wys dat hulle glo die Here stel die manne, met die handoplegging, aan vir hulle werk. Hulle word aanvanklik nie diakens genoem nie, maar ons vind die wortels van die diakenamp hier want hulle het werk gedoen wat vandag deel van die diakens in die kerk se opdrag is. Hulle moes aan drie vereistes voldoen: Iemand van goeie getuienis wees, vol van geloof en vol van die Heilige Gees.


Lidmate moet goeie getuienis oor die diaken hê. Daar moet dus nie stories rondlê oor goed wat hy/sy aangevang het of steeds aanvang nie. Hoe sal ʼn mens weet of iemand vol van geloof is? Hy/sy is nie skaam oor hulle verhouding met die Here nie, maar praat spontaan daaroor en nog belangriker, hulle leef hul geloof uit en dien met vreugde. Almal is vol van iets. Party mense is vol van hulleself, maar iemand wat as diaken kan dien, moet weet die aarde draai om die son, en nie die wêreld om hulle nie. Hulle moet vol van die Heilige Gees wees. Kerkleiers leef onder die heerskappy van die Heilige Gees.


Paulus skryf later in 1 Timoteus 3 van nog sewe kwalifikasies vir diakens: Diakens moet waardig wees, iemand na wie lidmate opkyk; moenie uit twee monde praat nie, iemand wat vir die een so sê en vir ‘n anders sus sê net om by almal aanvaar te word nie; wanneer alkohol gebruik word moet dit verantwoordelik en met wysheid gepaard gaan; omdat ʼn groot deel van ʼn diaken se opdrag die versorging van lidmate behels en daar ook geld by betrokke is, moet hy/sy nie ʼn vuilgewinsoeker wees nie; iemand wat die waarhede van die evangelie ken en oortuig is daarvan; ’n goeie eggenoot vir sy vrou of sy vir haar man en kinders wees; eie huisgesin goed beheer want die diaken gaan in die huisgesin van God werksaam wees.


Wie is gewoonlik die diakens? Die manne en vroue wat in die kerk werk – niemand anders as elkeen wat in Jesus glo nie. Elke lidmaat het een of ander werk in die kerk, daarom geld hierdie lysie van vereistes ook vir ons en kan elke gelowige nader staan, want ons almal moet op ’n manier ook in dié prentjie van Paulus kan pas. Wanneer ons so ’n lysie kry, wil ons mos gou ’n rooi pen gaan haal en onsself ’n punt gee om te sien of ons dit maak of nie. En wanneer ek en jy egter na die lysie hier bo kyk, besef ons terdeë dat ons ver weg is van volpunte. Hoe hanteer ’n mens dit? Ons kan natuurlik in depressie verval voordat ons begin, kop skud en handdoek ingooi. Ek weet ook dat ek nie 10 uit te 10 gaan kry nie, en nog nooit kon kry in die 54 jaar as Kerkraadslid nie! Maar dit is ook fine, want ten minste het ek met alles in my probeer, en God sien dit raak. Hy gaan my ook nie “kantoor” toe roep om te gaan buk om die pyn van ’n rottang op my sitvlak te laat voel nie.


Wat leer ons hieruit? Daar is nié ’n rottang saam met die verpakking van die vereistes nie. Ons moet weet dat die Here se kerk op ander maniere bestuur word as aardse besighede. Wanneer daar onmin in die kerk is, moet ons bid vir hemelse wysheid, leiding en rigting vanuit God se Woord. Die kiesing van die sewe was nie vakante poste wat gevul moes word nie. Dit is iemand wat ʼn belangrike funksie moet vervul in die kerk van die Here. Die bestuur van die kerk is ‘n gewigtige besluitnemingsproses. Dit is iets wat net in gehoorsaamheid aan Christus gedoen kan word, want Hy is Hoof van die kerk, en die kerk is die liggaam van Christus. Christus het sy bloed aan die kruis gestort vir Sy kerk. Hy is dus die regmatige Eienaar van die kerk. Dien Hom met oorgawe en geniet dit!


“Waar ook al die Woord van God suiwer verkondig word, dáár bestaan die kerk van Christus, al is dit ‘n gemeenskap vol foute” (Johannes Calvyn).


Gebed: Here, U verwag ’n hoë standaard van U kinders. U bloed het my vrygemaak van die bande wat die sonde om my gehad het. Nou is ek deur U krag in staat om vry en skoon te leef. Ek is nie meer in die mag van die sonde nie. Help my om in U lig te leef. Help my deur u Gees om ‘n beter punt uit tien te kry van U rigtinggewers, nie ter wille van myself nie, maar uit dankbaarheid teenoor U! Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page