top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 5 Augustus 2022

Koos Espach


Sewe diakens word gekies (4)


Vat hande met die bedienaars van die Woord


Hand. 6:2-4 – “Die twaalf apostels roep toe al die gelowiges bymekaar en sê vir hulle: ‘Dit is nie reg dat ons die verkondiging van die woord van God verwaarloos om die versorging te kan behartig nie. Nou, broers, soek sewe mans onder julle uit wat daarvoor bekend is dat hulle vol van die Heilige Gees is en wysheid het, sodat ons hulle vir hierdie taak kan aanstel. Ons sal dan al ons aandag aan gebed en die bediening van die woord bly gee.”


Vergelyk ook Matteus 28:19-20 – “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”


Die organisasie van die gemeente was nie ingewikkeld nie. Die geloofs- en gebedslewe, hulle byeenkomste in die tempel en in die huise, die opname van bekeerlinge, het onder die leiding en bestuur van die apostels gestaan. Die apostels het verder ook die armeversorging behartig – hulle het die geld wat die rykes geskenk het, in ontvangs geneem en aan elkeen volgens sy behoefte uitgedeel (4:35).


Die eerste interne krisis in die vroeë gemeente was egter op hande, maar die apostels het deur die leiding van die Heilige Gees, die krisis afgeweer. Hulle het die hele gemeente bymekaargeroep, waaruit blyk dat die apostels die saak baie belangrik geag het en strukture verander sodat hulle hul primêre verpligting, die verkondiging van die woord van God, kon behartig (Matt. 28:19).


Baie mense verkeer onder die indruk dat daar nooit enige probleme of verskille van mening in die kerk mag wees nie. Ons moet egter onthou, ons mense is die kerk. Ek en jy is weliswaar nuutgemaakte mense, maar ons is steeds mense wat foute maak, mense wat dink dat die leierskorps, die dominee of pastoor, alles moet hanteer. Klink dit bekend? Is dit die werk van ons geestelike leiers om alleen die gemeente op die hande te dra, almal tevrede stel? Wel, selfs Jesus, kon dit nie doen nie. Is hulle primêre taak nie nog steeds om God se woord te verkondig en te bid nie – “aandag aan gebed en die bediening van die woord bly gee nie?” Dit is tog seker waarvoor die Here sy aardse kerkleiers roep en toerus, en wanneer hulle oorbelaai is met duisende ander dinge, hoe lofwaardig dit ook al mag wees, raak hulle te besig om by die dinge van die Here uit te kom!


Dis nie maklik om in ’n leiersposisie te wees nie. Predikante en pastore moet mooi loop, want sê en doen hulle iets waarmee die gemeentelid nie saamstem nie, kry hulle die wind van voor. Mense vergeet dat hulle ook maar gewone mense is wat kan foute maak. Ja, hulle is deur God geroep en dit is ’n spesiale roeping met baie groot verantwoordelikhede, maar dis nie ’n maklike taak om voltyds vir God te werk nie.


Die kerkleiers is gewone mense en kan maklik in ’n gat trap. Daarom die voorstel, nee eintlik opdrag, dat almal hande sal vat met die bedienaars van die Woord: “Broers en susters, ek wil julle mooi vra om groot respek vir al die leiers in die kerk te hê. Onthou, die Here het hulle aangestel om sy wil aan julle bekend te maak. As julle die spoor byster raak, moet hulle julle aanspreek, en as julle swaarkry, moet hulle julle vertroos. Wees baie lief vir hulle en sien op na hulle. Moet asseblief nie onder mekaar stry en baklei nie. Dit pas nie by gelowiges nie” (1 Tess. 5:12-13: Die Boodskap).


Daar aan die voorkant van die gemeente kan dit baie alleen wees. Almal ken jou naam, want jy staan voor. Almal weet wat jy doen en nie doen nie, want die stories vlieg gou rond. Reik uit na die leier(s) van jou gemeente. Ondersteun hom of haar. Stuur ’n e-pos. Stuur ’n WhatsApp met ’n teksvers. Bid elke dag vir hom of haar om staande te bly. Dis dalk net die petrol wat hulle nodig het om deur ’n persoonlike krisis te kom.


In ’n kerk het elkeen ’n verantwoordelikheid, ’n taak om te doen. Die Heilige Gees skenk ons die wysheid en elkeen het gawes ontvang om “die regte dinge” te doen. Ek en jy moet daarom Sy leiding volg en ons gawes aanwend, seker maak dat ons weet wat ons s’n is en dit doen tot God se eer en tot voordeel van die kerk. Kom ons stel ons leiers vry om die Woord te bestudeer, te bid en te preek. Kom ons bid gereeld vir hulle en hou hulle arms hoog. Dan kan ons die seën van die Here oor Sy kerk verwag, want dan word die kerk mos volgens Sy beginsels bestuur!


“God roep ‘n mens om predikant te word, nie om hom- of haarself te verneder om ‘n koning te word nie” (Charles Spurgeon).


Gebed: Vader, ek besef dat ek ook moet uitreik na die predikant of leier van my kerk. Wys my waar ek ’n verskil kan maak in sy of haar lewe. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page