Gedagte vir Vandag

Donderdag, 4 Augustus 2022

Koos Espach


Sewe diakens word gekies (3)


Die Heilige Gees inspireer ons tot dade van liefde en barmhartigheid


Hand. 6:2-4 – “Die twaalf apostels roep toe al die gelowiges bymekaar en sê vir hulle: ‘Dit is nie reg dat ons die verkondiging van die woord van God verwaarloos om die versorging te kan behartig nie. Nou, broers, soek sewe mans onder julle uit wat daarvoor bekend is dat hulle vol van die Heilige Gees is en wysheid het, sodat ons hulle vir hierdie taak kan aanstel. Ons sal dan al ons aandag aan gebed en die bediening van die woord bly gee.”


Vergelyk ook Jak. 1:22-25 – “Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself. Iemand wat altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is soos een wat na sy gesig in ‘n spieël kyk: hy bekyk homself, gaan van die spieël af weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het. Maar iemand wat hom verdiep in die volmaakte wet wat ‘n mens vry maak, en hom daaraan hou en nie vergeet wat hy hoor nie, maar dit doen, hy sal gelukkig wees in wat hy doen.”


In daardie spesifieke “tyd in die geskiedenis van die kerk, toe die gelowiges nog steeds meer geword het” (v. 1), het daar ’n murmurering ontstaan onder die Griekssprekende Jode. Vandag kan ons dit beskou as voorbeeld van die aanslag wat die destydse kerk van binne beleef het en hoe die aanslag afgeweer is deur die wysheid van die Gees.


Die apostels het besef dat hierdie probleem die gemeente in twee kon skeur en neem die inisiatief by die voorsiening wat nou gemaak word. Hulle het die hele gemeente saamgeroep, aan hulle die probleem geskets en voorgestel dat hulle sewe mans uit die gemeente se geledere kies wat vir hierdie taak aangestel sal word om die versorging in hulle midde te behartig. Die sewe mans moes bekend wees – d.w.s. ‘n mate van gesag hê – en hulle moes “vol van die Heilige Gees wees en wysheid hê.” Hulle optrede moes getuig dat die krag van die Here by hulle aanwesig is, hulle plek voor die Here ken en met praktiese wysheid, Sy voorskrifte uitvoer en in situasies reg optree.


Probleme in die kerk is daar om opgelos te word, en nie te wag dat dit handuit ruk nie. Ons kan hier by die apostels ‘n belangrike les leer dat ons iets konkreets aan ons probleme moet doen. In die wêreldnuus en selfs Suid-Afrikaanse nuus, hoor ons dikwels van vergaderings en konferensies wat gehou word om die nood van mense te bespreek. Duisende woon dit by teen ‘n enorme onkoste en miljoene woorde word daar uitgespreek. Dit is miskien nodig vir sulke konferensies, maar ons het nog steeds die armes, die hongeriges, die hulpeloses en onderdruktes in ons midde. Dit blyk dat mense dink (veral sekere regerings), as hulle oor ‘n probleem gepraat het, dit opgelos is. En wat gebeur ná besprekings op kerkvergaderings? Word daar iets uitgerig vir die koninkryk van God?


As gelowiges moet ons nie siende blind wees op die kennis van die woord en dit nie dóén nie, dan “bedrieg ons onsself.” Om die woord net te lees of te hoor, is nie genoeg om ons saak met die Here te bevorder nie. Om Sondag na Sondag te luister na die woord en dit dan nie toepas in ons daaglikse gang van die lewe nie, baat niks. Die woord moet nie op die kerkbank agtergelaat word nie maar van die “kerkplek na die werkplek” toe geneem word. Geloof sonder dade is nutteloos! Ons moet dink aan mense wat in nood is, die weduwees, weeskinders, werkloses of minderbevoorregtes. Ons behoort biddend te dink vir wie ons iets prakties kan doen om die lyding en smart van hulle te verlig. Dit hoef nie noodwendig op ‘n groot skaal gedoen te word nie.


Jakobus sê ons “moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie.” Dit help nie as ons daaglikse Bybellees daaruit bestaan deur net die boekmerk verder en verder aan te skuif nie! Ons moet hóór wat ons daar lees. Dit moet tot iets verder lei – aksie, gehoorsaamheid. Ons moet as't ware die alledaagse lewe en verhoudings met mense toepas – alle mense, selfs die boemelaar, die gevangene, die carwatch. Dis nie net wat ek sê nie, Jésus sê so en ons erken dat ons geroep is om, net soos ons Here, almal wat na Sy beeld geskape is, met deernis nederig te dien.

As gelowiges behoort ons dag vir dag en in alle omstandighede, op die regte manier aan God se woord onsself te toets. Sy woord is soos ‘n spieël waarin ons kyk en nie net ons bekende self raak te sien nie. Dit is om met onderskeidingsvermoë op die uitkyk te wees vir iemand wat die Here oor ons pad stuur wat in ons ‘n gevoel van omgee wakker maak – hoe klein of onopsigtelik dit ook al is. “Ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid” (1 Joh. 3:18).


“Wie Jesus se voorbeeld wil volg, moet besef dat diens aan God en diens aan die nederigste medemens vir Hom een en dieselfde ding is” (Dietrich Bonhoeffer).


Gebed: Here, ek wil U woord dóén. Ek wil nie net ‘n leerder van die evangelie wees nie maar deel wees van U Liggaam – ‘n deel wat nie net hoor en glo nie maar doen en uitleef. Dankie dat ek in staat gestel word deur U wat my krag gee, want alleen sal ek dit nóóit regkry nie. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon