top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 2 Augustus 2022

Koos Espach


Sewe diakens word gekies (1)


God se kinders is nie in kampe verdeel nie


Hand. 6:1 – “In daardie tyd, toe die gelowiges nog steeds meer geword het, het daar teen die Hebreeussprekendes klagtes gekom van die Griekssprekendes dat hulle weduwees in die daaglikse versorging afgeskeep word.”

Die Raad het die apostels gegesel, belet om weer in die Naam van Jesus verder te preek en losgelaat. Hulle het egter “nie opgehou om die mense elke dag in die tempel en in hulle huise te leer en die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is nie” (5:42). Die gelowiges se getalle het a.g.v. hierdie arbeid toegeneem en feitlik daagliks het die aanvanklike Jerusalem-gemeente van 5 000, vermeerder (4:4).


Met die uitbreiding van die gemeente het daar egter wrywing tussen die Grieks- en Hebreeussprekendes gekom aangesien die weduwees van die Griekssprekende Jode nie hulle regmatige aandeel in die daaglikse armeversorging ontvang het nie. Die Griekssprekende gelowiges was buitelandse Jode wat om verskeie redes elders gewoon het en daar aan die Griekse kultuur en taal blootgestel is. Baie van dié mense het op hulle oudag teruggekeer Jerusalem toe. Hulle wou naby die tempel wees omdat hulle geglo het God daar is en hulle by Hom wil wees wanneer hulle sterf. Die Hebreërs aan die ander kant was die Jode wat al die tyd in Jerusalem bly woon het en Hebreeus en Aramees gepraat het.


Die Jode het ‘n sisteem gehad waar elke Vrydag aan die plaaslike armes genoeg geld gegee is vir veertien maaltye uit fondse wat die inwoners van ’n stad of dorp voorsien het. Vir behoeftige vreemdelinge is voorsiening gemaak uit fondse wat deur beamptes van huis tot huis gekollekteer is. Maar as ons die Oosterse kultuur van destyds in ag neem dat niemand hulle aan vroue gesteur of hulle ernstig geneem nie, is dit merkwaardig dat Lukas wel hier melding maak van die weduwees. Vroue het eenvoudig nie enige status gehad nie en boonop was hierdie vroue arm weduwees, ou-vrouens wie se lewens amper verby is en wat buitendien geen bydrae kon lewer tot die gemeente se finansiële posisie nie. Hoekom ‘n bohaai opskop oor hulle?


Nou voor julle dalk hier ophou lees en my kwalik neem oor die onsensitiewe opmerkings, onthou, daar is nie belangrike en onbelangrike mense in die kerk nie. Almal is voor God ewe belangrik. Die versorging van weduwees was baie belangrik in die antieke tyd, omdat weduwees nie ‘n eie inkomste gehad het nie en totaal uitgelewer was aan hulle families en die gemeenskap. Jesus het mos by geleentheid gesê die kindertjies is die belangrikste: die mense met die minste aansien, die mense waaraan niemand hulle juis steur nie – juis aan húlle behoort die koninkryk van God (Luk. 18:15-17).


Jesus kom met ‘n troefkaart hoe kinders van God optree. As Sy nuutgemaakte kinders dink en tree ek en jy anders op teenoor ander. Ons bly standvastig as kinders van God ten spyte van ons eie probleme. Ons bid selfs vir die weduwees en wese dat hulle dieselfde vreugde, vrede en liefde van God sal ken en ervaar as ons. Wat is ons en besit ons wat ons nie ontvang het nie? (1 Kor. 4:7). As Christus ons vrede is, beteken dit dat ons harte vol vrede moet wees. Hierdie vrede vind neerslag in elke faset van ons lewe. Ons gemoed en denke, ons wil, ons alles – is daarvan deurdrenk, want “die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor ons harte en gedagtes die wag hou” (Fil. 4:7). Dit is Hy wat ons waardig maak!


Daarom is ons liefde vir die “onbelangrikes van die lewe”, God-gesentreerd. Ons vestig ons hoop, liefde, vrese, geluk, ons álles, op Hom. Hy is ons voortbestaan. “Ons moet daagliks streef om ter wille van ander, ‘n mens te wees omdat ons ter wille van God, ‘n mens is!” (Ds. Johan Smit). Ons kan nie, nee, ons mag nie, self-gesentreerd wees nie. Dit is om ‘n afgod van onsself te maak. God se soort liefde is om vir die verkeerde mense liefde te betoon, selfs vir hulle van wie ons nie hou nie. Kom ek en jy vra die Heilige Gees om ons te help om vir mense te begin omgee, veral ons ou-mensies. Ons kom ook eendag daar. Om net besorg te wees oor onsself is vervelig en buitendien laat ek en jy al die kanse wat die Here ons bied om te dien, deur ons vingers glip. Bewys aandag, deernis en ontferming aan ander, dis wat Jesus vir ons gedoen het. Deur onsself te gee as dienaar, is die beste belegging by God, by Hom is gewaarborgde ewige wins!


“Elke stukkie genade en menslikheid, elke onselfsugtige daad wat ons die wêreld instuur, het ‘n positiewe invloed op die harte en gedagtes van die mensdom in sy geheel” (Albert Schweitzer).

Gebed: Ons Vader wat in die hemel is, hoe kan ek bid vir die koms van U koninkryk, terwyl ek nog in my eie koninkryk vasgevang sit? U asem gee lewe aan alles op aarde, U laat die son op sy tyd opkom en dit skyn oor almal. U spreek en die reën val, op almal. Maak my oplettend vir U boodskap van die liefde, om lief te hê – vir almal. Help my om vir ander om te gee. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page