top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 4 Julie 2022

Koos Espach


Die gebed van die gelowiges (8)


Die Heilige Gees met ons in beheer


Hand. 4:31 – “Nadat hulle gebid het, het die plek waar hulle bymekaar was, geskud. Hulle is almal met die Heilige Gees vervul ...”


Vergelyk ook 1 Tim. 1:7 – “Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.”

Die Heilige Gees gee ons krag. Die Gees laat ’n mens oorloop van liefde vir ander. En Hy help ons om nie verkeerde dinge te doen nie. Onder die Gees se leiding raak ons nie slawe van sonde nie. Ek en jy het as Christen gelowiges die verantwoordelikheid om die vrug van die Gees soos Paulus vir ons beskryf in Galasiërs 5:22, aan die “boom van ons lewe” raak te sien. Donald Barnhouse skryf die kern van die vrug van die Heilige Gees is liefde: Vreugde is liefde wat sing; vrede is liefde wat rus; geduld is liefde wat uithou; vriendelikheid is liefde se aard; getrouheid is liefde se sagte aanraking; goedhartigheid is liefde se dade; getrouheid is liefde se goeie gewoonte; nederigheid is liefde wat selfvergetend handel; en selfbeheersing is liefde wat die leisels hou.


Dis met die laaste een van die nege fasette waarmee baie van ons gereeld in die hek duik. As die omstandighede nie lekker is nie, kom die selfbeheersing se wieletjies sommer gou af. Die meeste van die kere kan ons onsself mooi beheer. Al deel die ander persoon klappe uit, is ons rustig en praat ons sag om die woeste winde wat die ander een aandryf te kalmeer. Maar as die omstandighede gunstig is vir selfbeheersing om buite beheer te raak, lê die oorlog om die draai. Dis nou veral wanneer ’n mens moeg is. Dan is dit asof ons nie meer so versigtig is nie.

Die wagte wat moet seker maak dat ons in beheer van onsself is, het eenvoudig net nie krag om op te staan of die aanval teen te staan nie. Dis sulke tye wanneer ons ons top blaas en dinge sê en doen wat maar kon gebly het. Dis die lewe. Daar gaan tye kom wanneer die lewe ons batterye leeg getrek het. Stres by die werk vat baie energie van ons. Moeg stap ons by die huis in en liefie sê net iets oor dit of daai wat aandag nodig het. Met die soldate wat pê is, is daar nie keer nie. Die selfbeheersing is buite beheer en as ons ons weer kom kry, lê daar ’n paar lyke rondom ons.


Hierdie is eintlik ’n tekortkoming in ons mondering. Ek vermoed dit is een van die newe-effekte van die sondeval. Die sondeval het ons almal gewond en ons moet besef dat ons op ons eie te swak is om altyd alles onder beheer te hê. Tog kan ons iets hieraan doen. Daar is Iemand wat ’n Meester is op die gebied en ons graag hiermee wil help – die Heilige Gees. Waarheid is, Hy is nie vermink deur die sondeval nie. Die Heilige Gees is altyd in beheer, al is die grond goed voorberei vir die teenoorgestelde.


God het geweet dat die impak van die sondeval ons met ’n paar swakhede gaan los. Gelukkig het God ons nie oorgelaat aan onsself met ons eie beperkte kragte nie. Nee, Hy het vir ons Sy Gees gegee om te help. Hy wat weet hoe om in beheer te wees. Die Heilige Gees wil ons elkeen regtig help om in alle omstandighede binne beheer te wees. Hy wil ons hand neem en by elke moeilike kruising oor die pad help. Hy wil ons wys hoe om dit te doen.


Die probleem is dat Hy ons nie lekker kan help as ons nie vir Hom ruimte maak in ons lewe nie. Hy staan nie doer anderkant met ’n megafoon in die hand en skree op mense nie. Dis nogal nie Sy manier van doen nie. Sy stem is maar sag en kom nie oor die gedreun van die wêreld aangerol nie. Eintlik weet ons dit. Ons weet die Heilige Gees praat sag. Ons weet ons moet plek maak vir die Heilige Gees om in ons lewens te woel. Ons weet ons moet met onsself ’n afspraak maak om elke dag stil te word en te luister na die leiding van die Gees. Een van die gawes van die Heilige Gees, wat terloops, vir elkeen van God se kinders beskikbaar is, is om te alle tye in beheer te wees – kortom, selfbeheersing te toon – die bedwing van ons drifte en hartstogte! Is dit waar van my en jou lewe? Is ons altyd in beheer? Waar verloor ons dit soms? Wat moet ons anders doen?


“Weet maar waar jou krag vandaan kom: As die Heilige Gees nie jou poging ondervang en met sy glans deurstraal nie, sal jy min vrug op jou woorde sien” (Corrie ten Boom).


Gebed: Vader, U Heilige Gees vul ons met krag en liefde en selfbeheersing. Dankie vir hierdie geskenk wat U aan my gegee het. Help my om dit elke dag te gebruik sodat ek U Naam sal verheerlik deur my gedrag. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page