top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 1 Julie 2022

Koos Espach


GEEN VERSENDING 30 JUNIE A.G.V. INTERNET PROBLEME VANAF VERSKAFFERS


Die gebed van die gelowiges (7)


Pap arms en moeë knieë


Hand. 4:31 – “Nadat hulle gebid het, het die plek waar hulle bymekaar was, geskud. Hulle is almal met die Heilige Gees vervul ...”


Vergelyk ook Heb. 12:12 – “Bemoedig dié wie se hande slap hang, help dié wie se knieë knik...”


Wanneer die een uitdaging na die ander ons tref, kom ons by ’n punt wat ons voel ons net nie meer kan nie. Dit raak net te veel en dan moet ons handdoek ingooi. Dit is menslik en ons almal kom een of ander tyd by die breekpunt te staan. Dit laat my nou dink aan een van die “strawwe” in die weermag wat ek gehaat het. Wanneer iemand drooggemaak het, of soos ek wat geweier het om ‘n ander ou se sigaretstompies op te tel tydens “chicken parade”, moes jy jou geweer vashou met albei hande wat reguit voor jou horisontaal uitgestrek is, so lank as moontlik.


Later bewe jou arms soos jy probeer om die geweer in die lug te hou. Die ou wat dit die langste regkry, kan gaan rus, die res moet om “Sannie”, ‘n groot stuk rots in die een hoek van die paradegrond hardloop en weer probeer. As jy vir die soveelste keer om “Sannie” hol, hang jou arms pap langs jou, want al die krag is uit hulle gewurg. Die gehollery in full-kit, het verder sy tol op die res van die liggaam geëis en dis veral die knieë wat gereeld net wou ingee. Jou liggaam skree: Dis nou genoeg! en die korporaal skree harder vir jou om vinniger terug te kom. Hardloop jy vir die ander weg, “werk jy nie saam nie”, dan moet almal weer gaan; hardloop julle saam in ‘n groep, dan “tart jy die korporaal” – en so hou dit aan en aan.


Die lewe se druk laat ’n mens ook so met pap arms en moeë knieë rondloop. Een of ander tyd val mense neer en dan kan hulle eenvoudig net nie meer aanhou nie. Die lewe het die laaste greintjie krag uit hulle uitgemergel en hulle sien net nie meer kans nie. Die wêreld lê gesaai van dié mense. Dit is dan dat ons Jesus se belofte moet onthou dat Hy ons sy Gees gegee het en dat Hy in ons bly (1 Joh. 4:13), en dit nog nooit herroep het nie. En dis wanneer ons mekaar moet ophelp, “dié bemoedig wie se hande slap hang, dié help wie se knieë knik.” Dis ’n opdrag wat God vir elkeen van Sy kinders gee. Ek dink die wêreld lyk soos dit lyk, omdat baie van God se kinders met oogklappe deur die wêreld stap.

Hulle sien nie die nood van ander raak nie. Hulle sien nie die mense se arms langs hulle swaai nie. Hulle het doof geraak vir die gekreun van die mense se knieë. Wie moet hulle dan nou help? Wie moet hulle bemoedig? En nou hoor ek baie sê, maar dis mý arms wat pap hang en dis mý knieë wat so raas. En dit mag die volle waarheid wees, maar ek onthou Bruce Fordyce, wenner van 9 Comrades marathonne, se wyse woorde: “Jou kop is baie sterker as jou liggaam. Jou liggaam dink hy is op sy einde, dan is daar nog baie oor in die tenk. Jou kop moet net saamkom en jou liggaam motiveer om verder te gaan en voor jy jou kom kry, is jy die laaste bultjie oor en wink die eindpunt.” Maklik, nee, maar ek was ook al daar, ek weet!

Die ander hou ons dop. En hulle trek krag by ons. Daarom moet ons ons kragtenk gaan vol maak by God, sodat ons weer ons arms kan lig en ons knieë kan optel. Dan kan ons ander ook ophelp en hulle vertel waar hulle hul tenke kan gaan volmaak. Ons vermoë om moed te hou in moeilike tye is onlosmaaklik verbind aan ons gehoorsaamheid aan God. Ons almal beleef oomblikke van swakheid wat grens aan wanhoop. Dit is juis dan wat ons God se inwonende Gees nodig het want Hy laat die moed weer opvlam – dis gewaarborg: “Hy het ons sy Gees gegee, Daarom is ons altyd vol moed ... “ (2 Kor. 5:5-6).

Ons moet weer opgewonde raak om as kinders van God deel te wees van die wêreld. Ons moet met nuwe krag ons dag aanpak en orals waar ons gaan, nuwe lewe bring. ‘n Verrassende newe-effek van gehoorsaamheid aan die inwonende Gees van God, is dat ek en jy selfvertroue en geloofskrag vind. En met hierdie eienskappe in ons, begin ons sonder vrees en minderwaardigheid leef. Dit is vir my en jou nie nodig om met slap arms en lam knieë onsself voort te sleep in die lewe nie, met die Gees se leiding sal ons sterk en vol moed voortbeweeg na die bestemming wat Hy ons heen wil neem.


“Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid uitkoms gee. In elke moeilikheid help Hy ons. Daarom kan ons ook weer ander help wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig” (2 Kor. 1:3-4).


Gebed: Here, dankie vir die moed wat U aan my gee wanneer ek moeg is. Dankie Gees deur U werking in my gemoed. Ek gaan by U ingeprop bly om te verseker dat ek nie tevrede met die tweede beste hoef te wees nie. Mag ander my sien en ook so doen. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page