top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 18 Mei 2022

Koos Espach


Die genesing van die verlamde man (2)


Gebruik jou gawes reg


Hand. 3:4-10 – “Petrus en Johannes kyk hom toe stip aan, en Petrus sê: ‘Kyk na ons.’ Toe kyk die man na hulle in die hoop dat hy iets van hulle gaan kry. Maar Petrus sê: ‘Geld het ek nie; maar wat ek het, gee ek vir jou: in die Naam van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop!’ Hy vat toe die man se regterhand en help hom op, en onmiddellik het sy voete en enkels sterk geword. Hy het opgespring en regop gestaan, en hy kon loop. Daarna het hy saam met hulle in die tempel ingegaan terwyl hy geloop en gespring en God geprys het. Al die mense het gesien dat hy loop en God prys; maar toe hulle besef dat dit hy is wat voor die tempel by die Mooipoort gesit en bedel het, was hulle baie verbaas en verwonder oor wat daar met hom gebeur het.”


Die eerste fase van die apostels se bediening vind plaas in die tempel waar Jesus in die laaste week van Sy aardse bediening, die mense geleer het. Dit is dan ook hier waar die man wat van geboorte af verlam was, vir Petrus en Johannes sien en vir ‘n geldjie vra. Petrus en Johannes het hom egter stip aangekyk en gevra dat hy na hulle moes kyk. Die man het gedoen soos hulle beveel het, maar dit was duidelik dat hy nóg iets van hulle verwag het. Hy word egter in sy verwagting teleurgestel, want Petrus se vir hom: “Geld het ek nie, maar ek gaan tog vir jou iets gee: In die Naam van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop!”


Op sy bevel, vat Petrus die man se regterhand, die goeie en sterk hand, en help hom op. Op dieselfde oomblik het sy voete en enkels, wat van geboorte af slap en onbeweeglik was, sterk geword. Hy ontvang baie meer as wat hy verwag het – die gawe van gesondheid in die Naam van Jesus Christus. Hy het nie eers nodig om vir rehabilitasie of terapie te gaan nie, sy hande, voete, mond en lippe kom in perfekte beweging! Sy totale menswees word geraak en verander! Vir die eerste keer in sy lewe, spring hy op en staan regop, begin rondloop, baie bly dat hy die gebruik van sy ledemate teruggekry het. Hy maak op vreugdevolle wyse gebruik van wat hy sover in sy lewe nog nie kon gedoen het nie. Hy beteken weer iets vir die samelewing! En alles gebeur buite die tempel.


Hy gaan saam met die apostels die tempel, wat tevore vir hom verbode terrein was, binne. Hy was só bly, dat “hy geloop en gespring het terwyl hy God geprys het.” Dit wat met “sy voete en enkels” gebeur het, gaan oor in lof op sy lippe – lof aan God – nie aan Petrus en Johannes nie. Hulle was maar net die instrumente in God se hande. Lukas beklemtoon met hierdie wonderwerk dat dit oor veel meer gaan as die verlamde of apostels. Die verlamde se totale menswees is aangeraak en het hom van buite op die rand van die samelewing, tot binne-in die geloofskring ingebring. Die Evangelie bied vir ons baie meer as tydelike byvoordele soos geld, goud of silwer. Dit bied insig op God se wil vir ons. Die God van die Evangelie – die Man van Nasaret – bied hoop, vreugde en herstel. Ons as gelowiges moet dit net kyk en sien en met verwagting van hoop ontvang.


Op die uur van die gebed was daar baie mense in die tempel, en hulle het die man wat vroeër verlam was en vir aalmoese gebedel het, saam met Petrus en Johannes sien loop. Sy vreugdedanse het “hulle baie verbaas en verwonder” gelaat! Die Heilige Gees is werklik besig om groot dinge in Jerusalem te doen. Die apostels is aangevuur om magtige wonders te verrig in die Naam van die lewende Here! Wanneer die verlamde in die Naam van Jesus Christus genees word, beteken dit nie dat hy in opdrag van Jesus genees word nie, maar dat Jesus sélf teenwoordig is deur sy Gees, met genade en krag. Dit was die spreekwoordelike “klokke” van die kerk wat lui om gelowiges van die vroeë kerk te laat glo van Jesus se opstanding en Sy Goddelike salf wat genees.


Die Gees is steeds besig om Jesus se aardse werk voort te sit. Natuurlik doen Hy wonders ook. Die heel grootste hiervan is wanneer Hy sondaars verlos wat op ‘n steil afdraande was op pad na die ewige doderyk. Ja, ons spring miskien nie rond in die kerk soos die verlamde nie, inteendeel, ons is selfs huiwerig om hande op te steek terwyl ons God loof en prys. Maar ons kan nie daaraan twyfel dat God steeds wonderwerke doen nie.


Ons kan vandag, in 2022, ook verstom staan voor die ongelooflike mag van die Here en kanale wees waardeur hemelse krag vloei. Wonderwerke het nog nie opgehou nie, al besluit sommige gelowiges so. Medici kan byvoorbeeld vandag dinge doen wat in die apostels se tyd as wonderwerke beskou sou word. Dokters verbind die wonde; God genees dit! God het nuwe waarhede en kennis deur sy Gees aan mense gegee. Net soos Petrus en Johannes, is ons ook instrumente deur wie God werk. En indien ons sou twyfel aan ons vermoëns, kan ons die hulp van die Heilige Gees soek. Wanneer ek en jy ons oopstel vir Sy leiding, sal Hy ons bekragtig met Jesus se krag en ons in staat stel om dié diens te verrig waarvoor Hy ons spesiaal opsy gesit het.


“Gewillige diens volgens jou vermoë, selfs in die geringste sake en deur die geringste mense, is vir God aanvaarbaar” (Dietrich Bonhoeffer).


Gebed: Here, vul my hart met U vreugde en help my om nie skaam te wees om daardie vreugde met ander te deel nie. Gee ook aan my deur u Gees, ‘n barmhartige hart sodat ek in liefde U volmaakte gawe tot eer van U kan gebruik en ook tot voordeel van mekaar, in my gemeente kan uitleef. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page