top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 13 Mei 2022

Koos Espach


Die eerste gemeente (1)


‘n Geesvervulde kerk


Hand. 2:43-47 – “Die apostels het baie wonders en tekens gedoen, en dit het almal met diep ontsag vervul. Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel. Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte. Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.”


Lukas skryf verder dat die apostels “baie wonders en tekens gedoen het wat almal met diep ontsag vervul het.” Soos in die dae van Jesus het die mense groot ontsag en eerbied gekry vir alles wat gebeur het – “Almal het verbaas gestaan en God geprys en vol eerbiedige vrees gesê: ‘Vandag het ons ongelooflike dinge gesien” (Luk. 5:26). Dit was duidelik dat dit eintlik die verheerlikte Christus was wat deur die apostels gewerk het. Die wonders en tekens was meestal gekoppel aan die genesing van een of ander siekte en dit was deel van die destydse gesondheidsorg-sisteem. Die mense het ook geglo dat siekte veroorsaak is deur ‘n sterk mag, daarom dat hulle met diepe ontsag vervul is oor die apostels wat met die hulp van ‘n “Groter Mag,” die siekes kon genees.


Onder die gelowiges was daar groot eensgesindheid en onderlinge begrip vir mekaar se behoeftes. Pinkster het die eerste 3 000 gelowiges kragdadig verander. Die Gees was oral sigbaar. Doodgewone mense wat hulle lewe vroeër in sonde deurgebring het, was splinternuwe mense. Hulle het skielik ‘n nuwe passie gehad om God se Woord te bestudeer (v. 42); hulle was Geesvervulde mense wat eensgesind ‘n gesamentlike doel gehad het om Christus te verheerlik (v. 44); gelowiges was bereid om van hulle besittings prys te gee ter wille van Christus – mense het spreekwoordelik tou gestaan om ander in nood te help (v. 45); hulle was getrou op hul pos in die tempel (v. 46); gemeenskaplike maaltye is met oorgawe en liefde gevier (v. 46); blydskap en vreugde het orals getriomfeer – die resultaat was magneties – “en die Here het elke dag mense wat gered word, by die (eerste) gemeente gevoeg.” Sjoe! Mag Pinkster ook ons lewe so verander!


Die stryd om te word wat God my en jou met Pinkster gemaak het, is ‘n harde stryd. Dit verg gehoorsaamheid en dissipline. Op die pad na geestelike volwassenheid word ons al hoe meer bewus van die teenwoordigheid en krag van die Gees wat in ons werk, ons gedagtes voed met die Skrif en dit stap vir stap aan ons openbaar. Daarom is een van die aangrypendste waarhede in die Skrif dat ons sondaars, kinders van God kan word.

As kinders van God leef ons in ‘n verhouding van persoonlike liefde en blydskap met Hom. Ons spring elke dag spreekwoordelik met geloofsvertroue in ons Vader se arms en roep: “Vader!” Ons kyk hoe ons vir ons hemelse Vader kan tevrede stel en bly maak! As Geesvervulde kinders van God kan ons nie ongesteurd verby ‘n ander se blydskap of trane leef nie. Ons is Geesvervulde broers en susters van mekaar want ons is kinders van dieselfde Vader, daarom is ons sensitief vir mekaar se gevoelens (egtheid); moedig mekaar aan (wedersydsheid); vergewe mekaar (genade); steun mekaar (simpatie); erken ons swakhede (nederigheid); respekteer ons verskille (hoflikheid); skinder nie (vertroulikheid). Dit kan alleenlik gebeur as ons eerlik is met mekaar – ons deel ons seerkry, lê ons gevoelens bloot, erken ons vrese en vra vir hulp in gebed.


Dit is wel waar dat ons in die krag van Christus en die bystand van die Heilige Gees, teen die storms van die lewe kan stry, maar ons het steeds mekaar nodig, onderlinge aanmoediging en bemoediging, onderlinge diens en onderlinge eerbetoon, “sodat daar nie verdeeldheid in die liggaam sou wees nie maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar dra” (1 Kor. 12:25). Gemeentelede is die kern van die gemeenskap van gelowiges (Koinonia), hulle bou onderlinge verhoudings, deel verantwoordelikhede en help mekaar.


Ons het mekaar in tye van die diepste krisis, smart en twyfel, die meeste nodig. Terwyl ons op die kronkelende pad van die lewe wandel en omstandighede ons afdruk tót op die punt waar ons geloof begin wankel, het ons gelowige vriende die nodigste: “Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus” (Gal. 6:2). Deur die hele Skrif heen maak Jesus dit baie duidelik dat ons mekaar onvoorwaardelik moet liefhê, soos Hy ons liefhet. Dit beteken ek en jy moet ons selfgesentreerdheid en onafhanklikheid prys gee, en weet hoe afhanklik ons van God en van mekaar is – “want aan hulle behoort die koninkryk van God” (Matt. 5:3) – dit is ‘n veilige Koninkryk, ‘n Koninkryk wat ewig is!


“God het nie die mens geskep om ‘n klip te wees nie; Hy het vir hom sintuie gegee en ‘n hart van vlees sodat hy sy vriende kan liefhê, kwaad kan word vir sy vyande en meegevoel kan hê met hulle in teëspoed”

(Martin Luther).


Gebed: Here, dankie dat U my nuut gemaak het. Leer my om elke dag met wysheid te gebruik. Herinner my daaraan om al my hulp by U te soek. Maak my sensitief vir ander se hartseer, húlle pyn, húlle onsekerheid, húlle vrese, hulle verslaenheid en wanhoop waarmee hulle gaan slaap, die swaar harte waarmee hulle soggens opstaan – no man is an island. Help my om U troos na hulle toe oor te gee. Dankie ook dat ek ‘n stukkie van U vreugde met almal wat gelukkig is, kan deel en saam met hulle fees kan vier, dat ek die sonskyn wat U oor my laat skyn, na hulle toe kan aangee. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page