top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 12 Mei 2022

Koos Espach


Die eerste bekeerdes (2)


‘n Kerkfamilie red ons van selfgesentreerde isolasie


Hand. 2:40-42 – “Met nog baie ander woorde het Petrus getuig en hulle aangespoor: ‘Laat julle red tussen hierdie ontaarde mense uit.’ Dié wat sy woorde aangeneem het, is gedoop, en omtrent drie duisend mense is op daardie dag by die getal van die gelowiges gevoeg. Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede.”


Petrus sluit sy toespraak af en volgens Lukas, het Petrus nog meer gesê as wat hier aan ons meegedeel is. Die “ontaarde mense” wat oortuig was dat hulle die regte ding gedoen deur Jesus te laat kruisig, het seker teen dié tyd, die groep verlaat. Paulus het op ‘n stadium ook Petrus se vermaning laat eggo aan die gelowiges in Filippi: “Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense (Fil. 2:15). Jesus self het ook die ongelowige Jode van sy tyd as ’n “slegte en owerspelige geslag” beskrywe, (Matt. 12:39).


Wat ‘n ongelooflike dag was hierdie eerste Pinksterdag nie! Aanvanklik het ‘n klein groepie van 120 gelowiges ná Jesus se hemelvaart, bymekaar gekom om te bid, en nou het dit gegroei met “omtrent 3 000” ekstra mense wat Petrus se woorde aangeneem en hulle laat doop het. Stephan Joubert beskryf dit as “die dag toe die Gees die sluise van Christus se goedheid wyd oor sy kerk oopgetrek het. In een dag het Hy alles binne-in hulle en rondom hulle nuut kom maak.” God se uitnodiging is vandag nog dieselfde. Hy roep steeds mense na Hom toe, mense om “hulle te laat red tussen ontaarde mense uit.”


Al die nuwe gelowiges het daarna gereeld in Jerusalem bymekaargekom. Die gelowiges is geleer waaroor geloof in Jesus Christus presies gaan. “Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels.” In ons taal kan ons vandag praat van Bybelonderrig, of kategese, of toerusting uit die Woord van God. Ek en jy as kinders van die Here, kan nie anders as om te honger en te dors na die Woord van God nie. Iemand het gesê dat ons gelowiges in twee wêrelde leef: ‘n Sondagwêreld waarin die Bybel en die kerk ons gedrag bepaal, en ‘n weeksdagwêreld waar lewensomstandighede en ideale ons gedrag bepaal. Ongelukkig maak God se vryspraak nie voorsiening vir die skeiding van kerk en wêreld nie, ons moet in élke omstandigheid met ons lewe wys dat ons kinders van Hom is! Alleen sal ons dit egter nie regkry nie, daarom kan ons vertrou dat God se Gees ons die krag en die moed van ons oortuiging sal gee, sodat ons dit kan toepas.


Hulle het verder ook volhard in “onderlinge verbondenheid,” d.w.s. die gemeenskap van gelowiges. Hulle het omgegee vir mekaar en mekaar ondersteun. God verwag dat ek en jy, ons tot dieselfde dinge verbind. Waarom is dit belangrik om by ‘n “kerkfamilie” aan te sluit? Want dit wys ons is in die ware lewe as geestelike broers en susters aan die Here en aan mekaar verbind. Die verskil tussen ‘n kerkganger en ‘n lidmaat lê in die toewyding. Kerkgangers kyk van die kantlyn toe, en lidmate raak by die bediening en tot mekaar betrokke. “Kerkgangers is verbruikers, sê Rick Warren, en lidmate is bydraers. Kerkgangers verwag al die voordele wat ‘n kerk bied, maar nie die verantwoordelikhede nie. Hulle is soos paartjies wat sonder die verbintenis van ‘n huwelik wil saam woon.”


Die apostels en die gelowiges van die vroeë kerk het ’n nuwe gemeenskap gevorm wat hulle onderskei het van dié van die Jode. Die nuwe bekeerlinge se gemeenskap was nie net ‘n warm gloed van emosie nie, hulle het tyd gemaak om saam te wees, God geloof, saam geëet en saam gebid. Hulle het die evangelie saam gedóén. Die evangelie gaan nie oor ‘n klomp reëls wat ons moet onderhou nie. Dit gaan oor ‘n Persoon: Jesus van Nasaret! ‘n Christelike lewe is meer as net ‘n verbintenis tot hierdie Jesus of ‘n verbintenis tot ander Christene. “Ons is almal van die een Gees deurdrenk (1 Kor. 12:13).


Ek en jy moet behoort, en nie net glo nie. Ons moet saam dóén. Ons word Christene deur ons aan Christus toe te wy, én ons word lidmate van ‘n kerk deur onsself aan ‘n bepaalde groep Christen-gelowiges toe te wy. Die eerste besluit bring verlossing mee; die tweede bring gemeenskap mee! Ek en jy is op ons eie, nie die Liggaam van Christus nie. “Ons is saam Sy liggaam, nie apart nie” (1 Kor. 12:27). As ek en jy onsself Christene noem, is ons deel van Jesus se aardse liggaam, Sy kerk. Geen liggaamsdeel kan sonder die lyf klaarkom nie, anders is die liggaam op die krukkelys. Indien die Gees ons lewe nuutgemaak het, het ons ook ‘n nuwe soort taal op ons tong gekry wat ons laat sê: “Ek is hier tot voordeel van God se koninkryk en die mense om my!”


“Gewillige diens volgens jou vermoë, selfs in die geringste sake en deur die geringste mense, is vir God aanvaarbaar” (Dietrich Bonhoeffer).


Gebed: Hemel Vader, ek wy myself aan U diens toe deur die krag van die Heilige Gees, nie om iets terug te ontvang nie, maar omdat ek reeds alles van U af ontvang het. Gees van God, dankie vir die vertroosting wat U my gee dat selfs mý gawes vir U aanneemlik is. Lei my om daardie gawes, alleen maar tot God se eer te gebruik. Hou my nederig in die gebruik daarvan. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page