top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 9 Mei 2022

Koos Espach


Petrus se eerste toespraak op die pinksterdag (6)


Jesus is by God en sy Gees by ons gelowiges


Hand. 2:29-32 – “Toe staan Petrus saam met die ander elf apostels op (en sê): ‘Broers, wat ons voorvader Dawid betref, moet ek dit vir julle duidelik stel: Hy het gesterwe en is begrawe, en sy graf is nou nog hier by ons. Maar hy was ‘n profeet en hy het geweet dat God met ‘n eed aan hom belowe het dat een van sy nakomelinge op sy troon sou sit. Daarom het hy die opstanding van die Christus vooruit gesien en gesê: Hy is nie aan die doderyk oorgelaat nie, en sy liggaam het nie vergaan nie. God het hierdie Jesus uit die dood laat opstaan; daarvan is ons almal getuies.”


Petrus tree saam met die ander apostels op, hoewel net sý woorde deur Lukas weergegee word. Hy spreek sy hoorders nou byna meer hartlik aan deur hulle “broers” te noem, waardeur by hom as Jood met hulle, sy volksgenote, vereenselwig. Hy gaan verder om aan te toon dat Dawid nie oor homself gepraat het nie. Hy is reeds eeue al dood. Sy graf is trouens by hulle in Jerusalem. Petrus wys daarop dat Dawid ook ’n profeet was wat insig oor God se toekomsplanne gehad het – Dawid het geweet dat die Messias uit sy nageslag sou kom. Dawid kon van Christus profeteer omdat by uitdruklik ’n belofte van God in hierdie verband ontvang het. God het naamlik “met ’n eed aan hom gewaarborg, dat Hy een van sy nakomelinge op sy troon sou plaas,” (2 Sam. 7:12 e.v.)


Dawid se graf is nie leeg soos Jesus s’n nie. “Jesus is nie aan die doderyk oorgelaat nie, en sy liggaam het nie vergaan nie.” Jesus se liggaam is nie in doeke toegedraai en vir ‘n jaar in ‘n graf neergelê om te ontbind nie. Ná die jaar van ontbinding het Jesus se familie nie die bene wat oorgebly het, in ‘n kissie geplaas, en op ‘n ander plek gaan begrawe nie. Nee, Jesus het nie die pyn van die dood deurgemaak nie. Sy liggaam of Sy skelet was nié in die graf nie, dit is leeg. Sy liggaam het nie vergaan nie, “God het hierdie Jesus uit die dood laat opstaan!” Petrus het dit geweet, want hy en die ander apostels het Jesus met hulle eie oë gesien nadat Hy uit die dood opgestaan het – “daarvan is hulle almal getuies.”


Volgens die Evangelie van Matteus, het Jesus aan die vroue verskyn wat Sy leë graf pas verlaat het en hulle die opdrag gegee om Sy “broers te gaan sê hulle moet na Galilea toe gaan, en daar sal hulle Hom sien.” (Matt. 28:10). Dit het beteken dat hulle die leë graf moes verlaat waar hulle rouproses, hoop, verlange en hartseer, nog enkele ure vantevore begrawe was, en ‘n nuwe wêreld ingaan – die opstandingskant van die kruis en graf.


Dit is vir ons Christen-gelowiges ook moontlik om die begraafplaas van ons verlede te verlaat en nie weer daarna terug te kyk nie – die plek van ons neerlae, teleurstellings, sondes, vrese en foute. Die belofte van Jesus dat Hy ons vooruit na “Galilea” toe gaan, bestaan vandag nog. Dit is die deel van die ware evangelieboodskap wat deur die eeue vir ons gegee is en stééds bestaan.


Ons sal Jesus daar sien wanneer ek en jy onsself in Sy Woord verdiep. Hy sal deur Sy Gees as’t ware uit die gelese Bybelpapier “uitstap” in ons harte, geloof en lewe, in. Ons sal saam met die vroue daar by Sy leë graf, die oomblik van dood en wanhoop, ervaar dat Sy teenwoordigheid ons vul met hoop, geloof en nuwe verwagtinge. Ons sal Jesus “sien en ervaar” wanneer Hy ons kleurlose, alledaagse lewe vul met Sy teenwoordigheid en heerlikheid.


Hy sal ons nie oorgee aan die ewige dood nie. Nee, Hy wys ons die lewenspad aan en vul ons met die vreugde van sy Gees se ewige teenwoordigheid. Ons weet nie net van die opgestane Jesus nie, ons ken Hom. Fenomenaal om te dink ons leef eintlik in ‘n tyd van vernuwing – die era van die Heilige Gees in ons lewe. Dit is daarom nodig dat ons aan Hom die ereplek in ons lewe toeken en Sy profetiese krag in ons toelaat om van Jesus Christus te kan getuig, want “by Hom is daar oorvloedige blydskap” (Ps. 116:11).


“Na Jesus se opstanding is alles onherroeplik op die kop gekeer. Wanhoop verander in hoop; moedeloosheid slaan om in oorvloedige lewe, radeloosheid wyk voor roeping” (Dirkie Smit).


Gebed: Dankie Jesus dat U ons verlos het uit die graf van sonde. Daar is egter dae wat ek voel dat die grafdoeke my nog vasbind. Dit is moeilik om ontslae te raak van die ou gewoontes en swakhede wat so deel van my lewe geword het. Vader, U het deur Christus vir my die nuwe lewe gegee, dit is só goed om naby U te wees. Skenk my die krag dat ek met die hulp van U Gees, nooit sal ophou om van U te getuig nie. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page