Gedagte vir Vandag

29 April 2022

Koos Espach


Petrus se eerste toespraak op die pinksterdag (1)


Die “Goddelike Vlam” wat ons verander


Hand. 2:14-15 – “Toe staan Petrus saam met die elf ander apostels op en onder leiding van die Heilige Gees spreek hy die mense toe: ‘Jode en julle almal wat in Jerusalem woon, ek moet vir julle verduidelik wat gebeur het. Luister na wat ek gaan sê: Hierdie mense is nie dronk soos julle dink nie, want dit is nog maar nege-uur in die môre.”


Petrus benut dadelik die geleentheid om die korrekte feite oor die uitstorting van die Heilige Gees met die omstanders te deel. Hy en sy mede-apostels kom nou tussen die gelowiges na vore en “spreek die mense toe.” Dit is die eerste van die drie toesprake van Petrus waarvan Lukas in Handelinge vertel. Twee word voor Jode gehou, hierdie een en die tweede later in Handelinge 3. Hy staan op wanneer hy praat, terwyl dit gebruiklik was om te sit wanneer iemand onderrig gegee het, want wat hy te sê het, dui op die besondere erns waarmee hy sy toespraak lewer. Op plegtige wyse spreek hy sy gehoor toe en beklemtoon dat hulle kennis moet neem van wat gebeur het, en aandagtig moet luister na wat hy van plan was om te sê.


Petrus begin eers deur die verkeerde opvatting wat sommige in verband met die Pinkstergebeure gehad het, reg te stel. Hy verduidelik dat die mense wat in ander tale gepraat het, ongetwyfeld nie dronk was nie, aangesien dit maar “nege uur in die môre is.” In die algemeen het mense niks voor die môre-offer gebruik nie, en in elk geval het geen mens drank in die oggend gebruik nie: “Ellende wag vir dié wat vroeg in die môre opstaan om agter sterk drank aan te loop ...” (Jes. 5:11).


Dit is amper te goed om waar te wees! Is dit dieselfde Petrus wat ‘n paar dae voor Pinkster, ten spyte van sy grootdoenerigheid, eintlik die swakkeling was wat Jesus drie maal verloën het? Moontlik was dit dieselfde skare wat hom toe geïntimideer het, ‘n diensmeisietjie wat hom toe in die skande laat kom by ‘n vuur daar in die vierkant by die hoëpriester se huis, (Luk. 22:54-62), en hy hom by die vyande van Jesus geskaar het. En nou, Geesvervuld begin hy, sonder om te skroom, te preek. Hoe het hy dit reggekry? Ja, dit was hy, maar nee, hy het dit nie reggekry nie! Hy is nou met vuur gedoop, daarom kan hy dapper voor dieselfde Jerusalem skare staan en hulle vierkantig in die oë kyk.


Dit was nie dieselfde Petrus wat daardie dag opgestaan het en begin preek het nie. Die Heilige Gees maak die verskil in ‘n mens se lewe. Petrus se hele lewe was tot daardie dag toe, ‘n worsteling tussen Simon en Petrus – die swakkeling en die rots; tussen die seun van Johannes en die uitverkore werktuig van God. Hy en die ander apostels is as’t ware verander van gewone, eenvoudige mense soos ek en jy, na “vuurvreters” vir God. Hulle het dit gewaag om Jesus te vertrou, terug te gaan na Jerusalem om te wag dat Sy belofte vervul sal word. Hulle het daar eensgesind aaneen gebid dat Jesus sy belofte gestand sal doen. En toe gebeur die wonder! En die wêreld voel vandag nog steeds die kragtige impak van daardie groepie toegewyde mense wat dit gewaag het om hulle bloot te stel aan die “Goddelike Vlam!”


Sodra ‘n mens aan die inwonende God erkenning gee en Hom toelaat om ons lewe geheel en al in beslag te neem, gebeur daar wonders. Nee, dis nie ek en jy wat die wonders doen nie, maar God se Gees wat in en deur ons die wonders doen. Daar het nog niks verander tussen die destydse apostels en ons gelowiges van vandag nie. Dit is presies nog dieselfde Gees wat die wonderlike bevestiging was van die krag van God wat in hulle lewe, wat vir Hom vandag ‘n woonplek kom maak het in elke hart wat vernuwe en gereinig is – “Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie” (1 Kor. 3:16).


Wanneer ons gees vervul is met die inspirasie en krag van die Heilige Gees, sal ons selfvertroue soos in Petrus en die apostels, ook groei. Dit is dan wanneer ek en jy sal besef dat ons baie kosbaar is vir Hom. En omdat ons dan weet dat God ons liefhet en ons wil gebruik om in Sy diens te staan, verdwyn die gevoel van minderwaardigheid. Dit kan nie anders nie – ons is dan die tempel van God – daarom dan kind van God. Dit behoort genoeg inspirasie te wees om onsself aan te bied vir Sy diens, en die vreugde van vervulling te ervaar. Dan kan ek en jy saam met Paulus bely: “In Christus Jesus is ek trots op wat ek in diens van God verrig” (Rom. 15:11).


“Die Gees van Christus is ‘n Gees van getuienis en hoe nader ons aan Hom leef, hoe meer passievol word ons getuienis” (Henry Martyn).


Gebed: Ons Vader, ek onderwerp my aan U kraggewende vuur. Here Jesus, ek gee myself in U diens sodat ek deur die werk van die Heilige Gees in my, U Naam kan verheerlik. Maak asseblief van my iets waardevoller as wat ek op my eie is. Ek bid dit in nederigheid op grond van Jesus se voorbeeld om te dien. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon