top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 22 April 2022

Koos Espach


Judas se opvolger (4)


Die eerste kerkraadsvergadering


Hand. 1:21-26 – “Petrus het die leiding geneem en gesê: ‘Daar moet dus nog ‘n getuie van Jesus se opstanding by ons gevoeg word. Dit moet een van die manne wees wat saam met ons rondgegaan het die hele tyd toe die Here Jesus in die openbaar opgetree het, vandat Hy deur Johannes gedoop is totdat Hy van ons af in die hemel opgeneem is.’ Hulle stel toe twee voor: Josef wat ook Barsabbas of Justus genoem word, en Mattias. En die gelowiges het gebid: ‘Here, U wat die harte van almal ken, wys die een aan wat U uit hierdie twee verkies het om as apostel te dien in die plek wat Judas leeg gelaat het toe hy gegaan het na waar hy hoort.’ Hulle het geloot, en die loting het vir Mattias aangewys. So is hy gekies as die twaalfde apostel.”


‘n Vakature het in die apostelkring ontstaan en sekere voorwaardes is deur Petrus gestel waaraan voldoen moes word: “Dit moet een van die manne wees wat saam met die dissipels rondgegaan het die hele tyd toe die Here Jesus in die openbaar opgetree het, vandat Hy deur Johannes gedoop is tot met Sy hemelvaart.” Hy moes m.a.w. “die hele tyd” ’n metgesel gewees het van die dissipels gedurende die openbare optrede van Jesus. Judas Iskariot het hierdie voorreg vir 30 silwerstukke verkoop en gevolglik, álles verloor, sy lewe ook!


Dit is opmerklik dat dit nie gaan oor wie kon getuig dat Jesus gesterf het aan die kruis nie, maar iemand wat Jesus self gesien en beleef het, ná Sy opstanding. Die geloof in Jesus se opstanding uit die dood is immers die kern van die evangelie: “As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word” (Rom. 10:9). Daar was twee mans tussen die honderd en twintig, wat aan die vereistes voldoen het. Nadat hulle oor die saak gebid het, gaan hulle voort om deur loting die regte persoon te kies. Hulle aanvaar dat die Here se wil nou verder sal geskied in hulle besluitneming – “Laat wat jy doen aan die Here oor, dan sal jou voornemens geluk” (Spr. 16:3).


Die “kerkraad” benoem eerste vir Josef, wat ook Barsabbas genoem is, en die bynaam Justus gehad het, wat “regverdige” beteken. Die tweede was Mattias. Deur die lot word beslis wie die opvolger van Judas sal wees. In die Ou Testament was die werp van die lot ’n gebruiklike middel om die wil van God te leer ken – “Mense kan loot, maar die Here bepaal hoe dit uitkom” (Spr. 16:33), en die Here het vir Mattias aangewys.


‘n Groot stuk genade kom na vore in die feit dat Jesus met dieselfde mense voortgaan om Sy kerk op aarde te bou. Die manne wat hier die leiding neem is dieselfde manne wat ‘n paar dae gelede nie kon wakker bly terwyl Jesus in Sy diepste nood was nie; Petrus wat die voortou neem is dieselfde Petrus wat gesweer het hy ken Jesus nie; manne wat voete neergelê het toe Jesus gevange geneem is; en Tomas, wat maar skepties was oor Jesus se opstanding. Het Jesus se opstanding en hemelvaart dan nie ‘n nuwe geleentheid vir ‘n “kabinetskommeling” gebied nie – manne wat drooggemaak het, te herontplooi nie? Nee, Jesus gaan voort met Sy span, net die vakature word gevul.


Die Here het nog deur al die eeue Sy kerk in stand gehou. Hy bly betrokke en wat onverstaanbaar is, maar tog wonderlik, is dat Hy ménse gebruik vir die taak. Ons is letterlik die Here se hande, voete, oë en ore, maar veral, God se hart in die gemeente. Dis ook goed om te weet dat ons vandag nog steeds kerkraadsvergaderings, ring- en sinodesittings kan hou, mense tot ampte kan kies, sake binne kommissies kan hanteer, en weet dat God steeds daarin met ons as Sy kerk, besig is. God soek getuies om sonder ophou te vertel wat Hy gedoen het en steeds doen, dat Hy nooit sal laat los nie.


God wil vir jou en my in Sy diens gebruik, nie omdat ons so oulik is nie, maar om mense te bedien; tyd deur te bring in die teenwoordigheid van Christus; die Here se leiding te soek in gebed en Sy antwoord op gebed, te gaan toepas in die praktyk. Dit is ‘n voorreg. Ja, ons sal vir seker herhaaldelik blapse maak, maar ten spyte van ons gebreke en foute, hou Hy aan om ons rol nie as nietig en onbelangrik te beskou nie. Genadiglik begin die Here elke keer nuut met ons, kies Hy dieselfde span om mense te beywer vir Sy koninkryk. Ek en jy moet net gewillig wees om God se wil te soek in die wyse waarop dinge in ons samekomste gebeur, en op te draf vir ons diensbeurt! Ons berei die grond biddend voor en doen die saaiwerk, die Gees sal natmaak en bowenal, sal God Sy koninkryk laat groei. Kom soek die Here se eer terwyl ons mekaar met liefde op die hande dra. Só word God se Naam groot gemaak.


“In God se vreemde onderstebo waardesisteem kies Hy swak, verwonde, verwese, bang, sukkelende, volgens wêreldse standaarde oneffektiewe, kan-nie-die-mas-opkom-nie-mense en juis met hierdie hopeloos ontoereikende instrumente doen Hy sy magtige werk op aarde” (Robert Girard).


Gebed: Here, bewaar my daarvan dat ek deur my gebede sal probeer om U wil vir my lewe te verander. Gee dat ek eerder deur gebed, U wil, sal leer ken en dit gehoorsaam. Maak my ywerig en lus om in U diens te staan en daardie werk wat U aan my toevertrou, met geesdrif sal klaarmaak so goed en getrou as ek kan. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page