top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 31 Maart 2022

Koos Espach


Die belofte van die Heilige Gees (2)


Die Gees gee besondere gawes afsonderlik aan elkeen tot voordeel van almal


Hand. 1:4-5 – “Terwyl Hy ‘n keer saam met hulle aan tafel was, het Hy hulle beveel: ‘Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader belowe het, soos julle van My gehoor het. Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal binne ‘n paar dae met die Heilige Gees gedoop word.”


Lukas beklemtoon dat Jesus Homself duidelik as lewend aan Sy dissipels vertoon het. Hierdie verskynings bevestig dat Hy die dood oorwin het en dat Hy as oorwinnaar oor die dood, selfs in hulle teenwoordigheid geëet het. Volgens die Bybel waarin ek en jy glo, het die opgestane Jesus Christus elf keer daarna, aan enkelinge en groepe mense verskyn voordat Hy in die hemel opgeneem is: Maria Magdalena (Mark. 16:9-11); die ander vroue by die graf (Matt. 28:8-10); Petrus in Jerusalem (Luk. 24:34); die Emmausgangers (Luk. 24:13-32); tien dissipels agter geslote deure (Luk. 24:36-43); al elf dissipels, Tomas ingesluit (Joh. 20:26-31); sewe dissipels terwyl hulle visvang (Joh. 21:1-14); elf dissipels op die Olyfberg (Matt. 28:16-20); vyf honderd mense saam (1 Kor. 15:7); Jesus se broer Jakobus (1 Kor. 15:7); en aan die dissipels met Jesus se hemelvaart (Hand. 1:3-8).

Jesus gee aan Sy apostels die bevel om nie van Jerusalem af weg te gaan nie, maar daar te bly en te wag op die vervulling van die belofte van die Vader. Hoekom moes hulle juis dáár wag en wat is “die gawe wat die Vader belowe het?” Hulle moes in Jerusalem, waar Jesus die bittere vyandskap van die Jode ondervind het, bly, en in gelowige verwagting wag op die vervulling van die belofte van die Vader wat die koms van die Heilige Gees sal laat plaasvind. Jesus verwys hier na die woorde van Johannes die Doper wat gesê het dat hy met water doop, maar dat Hy wat ná hom kom, hulle sal doop met die Heilige Gees en met vuur (Matt. 3:11; Mark. 1:8; Luk. 3:16).


Die doop van Johannes die Doper en die doop met die Heilige Gees word nie teenoor mekaar gestel nie, maar vul mekaar aan. Die nuwe bedeling het by Johannes begin, want Johannes was die voorloper van Christus. Sommige van die apostels is ook deur Johannes gedoop (Joh. 1:35), maar op die Pinksterdag word hulle doop volledig gemaak. By Johannes was die doop met die water ’n uiterlike teken en bevestiging van ’n innerlike reiniging deur sondebelydenis by die boetvaardige mens. Die apostels en die gelowiges sou met die Heilige Gees gedoop word in dié sin dat die Gees uitgestort sou word om by hulle te woon (1 Kor. 3:16), aan hulle die weldade wat Christus vir hulle verwerf het, mee te deel (Joh. 15:26), en hulle toe te rus vir hulle taak van getuienis in die wêreld (Hand. 1:8).


Die opdrag van Jesus aan die apostels om te wag vir die “gawe van die Heilige Gees,” is steeds net so belangrik vir ons Christene van die 21ste eeu. Natuurlik wag ons nie meer presies soos die apostels op die uitstorting van die Heilige Gees nie. Ons het Hom as gelowiges immers ontvang en word daagliks deur Hom vervul. Maar dit beklemtoon ook die voortdurende ingesteldheid om nie op eie inisiatief en met eie insig die werk van die Here te probeer doen nie. Dit is juis wanneer ons stil genoeg raak en wag op die leiding van die Here dat ons begin raaksien waar Hy werk en Sy stem hoor om daarby betrokke te raak – “Dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag” (Jes. 40:31).


Wat is die “gawe van die Heilige Gees?” Paulus lig ons in met die antwoord (1 Kor. 12:1-31) waar hy die eenheid van die kerk beskryf, ‘n eenheid wat nie sonder die werk van die Gees tot stand kan kom nie. Ek en jy is deel van die eenheid van die kerk, maar eenheid beteken nie eendersheid nie. Daarom is daar binne die kerk verskillende mense met verskillende gawes. Maar, elke afsonderlike gawe is ‘n gawe afkomstig van dieselfde Gees en is bestem sodat ek en jy dit tot eer van God moet aanwend, en nie tot verheerliking van onsself nie.


Dit is daarom miskien nodig dat ek en jy die lys van nege besondere gawes wat Paulus noem in 1 Korintiërs 12:8-10 ondersoek, en kyk waar ons ons gawes in diens van God kan gebruik. Net soos wat Jesus eenvoudige vissermanne met baie tekortkominge en te midde van groot struikeling, gebruik het om sy Groot Opdrag, (Matt. 28:19), uit te voer, kan hy ons ook gebruik. En kom ons wees nou maar eerlik met mekaar, dit is ‘n mistasting om te dink dat slegs mense met intellektuele en akademiese gawes aangewend kan word in Sy diens. Élke mens ontvang gawes van die Heilige Gees. Eers wanneer ek en jy verstaan dat die Here ons lief het en ons oorlaai het met die seëninge van die Gees wat daar in die hemele is (Ef. 1:3), kan ons begin leef in die skat waarin ons reeds deel. Dán ontdek ons die gawes wat Hy deur sy Gees aan elkeen van Sy kinders uitdeel – ook aan my en jou.


“Dit is maklik om gawes van die Here te wil hê sonder om God self te wil hê. Die gawe kan nooit verkies word bó die Gewer nie” (Augustinus).


Gebed: Heilige Gees van God, lei my tot die ontdekking van die gawes wat God in sy groot genade ook aan my gegee het en help my om dit alleen tot Sy eer te gebruik. “O God, ons wil U altyddeur in Christus as ons Vader eer, en deur die leiding van u Gees, wil ons aan U gehoorsaam wees” (Liedboek 448:1). Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page