top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 28 Maart 2022

Koos Espach


Uitnodiging


Liewe E-Kerk lesersvriende,


Ons het Vrydag, 25 Maart 2022 afgesluit met “Die Evangelie volgens Matteus” en gaan DV vir die volgende paar maande op “Die Handelinge van die Apostels” konsentreer. Nadat Lukas sy Evangelieverhaal van Jesus vertel het, het hy waarskynlik 59-85 n.C. die “Boek Handelinge” geskryf met die tema: “Die vestiging van die Christelike kerk deur die apostels onder leiding van die Heilige Gees” (Vergelyk Die Bybel A-Z).


Baie dankie dat julle sedert Mei 2019 saam met Matteus en ons, die genade van God beleef het in “Die Evangelie volgens Matteus.” Ons glo julle het ryke vertroosting, bemoediging en vrede met God gevind deur die Evangelie. Ons bid dat die Heilige Gees die boodskap van die Matteusevangelie iets besonders by elkeen van julle gelaat het en aanleiding gee tot egte belydenis, en nie net lippetaal nie.


Die Handelinge van die Apostels


Ons wil julle uitnooi om saam met Lukas en ons die volgende paar maande op ‘n ontdekkingsreis na die wêreld van die vroeë kerk te vertrek. Natuurlik is Handelinge nie ‘n volledige verslag van die eerste Christene se doen en late nie, maar eerder die aktiwiteite van die Heilige Gees in en deur die vreeslose getuienisse van Petrus, Paulus, Johannes, Filippus, Barnabas, Silas, Tomoteus en baie ander vroeë Christene, en dít word die hartklop van die groeiende kerk.


Sonder enige verdere aankondiging of melding daarvan, is die Bronne wat ons vir hierdie studie gebruik:


· Verskeie Bybels as ons basiese verwysingsbron;

· “Handelinge van die Apostels” deur Prof. J.L. de Villiers;

· “The Acts of the Apostles” deur William Barclay.

· “Unlocking the Bible” deur David Pawson.

· “Die Groot Geloofskommentaar” deur Adrio König.

· “Handelinge – Ons kom van ver af” deur Annene Mullins en Kobus Myburgh.

· “Niemand soos Hy nie” deur Dr. Andries Odendaal.

· “Die Bybel A-Z” deur verskeie skrywers.

· “Die Bybellennium” deur verskeie skrywers.

· “Handelinge – Ons is diep gewortel” deur Annene Mullins en Kobus Myburgh.

· “Twaalf Sleutels tot Geestelike Groei” deur verskeie skrywers.

· “Doelgerigte Lewe” deur Rick Warren

· “In Christus Alleen (Die 5 Solas)” deur Victor Kuligin en Robert Yarbrough.

· “In Navolging van Christus” deur Prof. Stephan Joubert.

· “Beleef God” deur Henry & Richard Blackaby.

· “Die Geheimenisse van God” deur Andrew Murray.


Bybel-Media het ook toestemming verleen dat ons van hulle materiaal vir die Dagstukkies mag gebruik. Besoek gerus hulle webtuiste by www.bybelmedia.org.za


Bid saam met ons dat alles wat ons skryf en per e-pos of WhatsApp aanstuur, daarop gemik is om God te verheerlik en gedurig aan Hom die eer te gee. Dit gaan nie oor ons nie, maar oor die Here wat ons stuur. Ons is net die gehoorsame kanaal waardeur Sy lig straal en ons dank die Here vir Sy genade, dat ons dit wel mag doen. Ons kan dit egter net bereik deur die leiding van die Heilige Gees. Hy staan elke dag gereed om ons te omgord met Sy krag en insig sodat ons Sy kragtige getuies kan wees soos Jesus verseker het: “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees …” (Hand. 1:8). Ons kan maar net in gehoorsaamheid en aanbidding reageer.


“Ons taak as leke is om ons verhouding met Christus met soveel intensiteit uit te leef dat dit aansteeklik sal wees” (Paul Tournier).


Gebed: Hemel Vader, skep die beeld van U Seun in my sodat ek U metodes en doelstellings kan uitleef. Jesus, ons gebed is dat ons saam met Lukas vir die volgende paar maande sal stap en U deur ons geestesoë sal sien en belééf, sodat ons saam met hom by U hart kan uitkom, U hart wat vol liefde is vir sondaarmense soos ons. Heilige Gees, help ons om, terwyl ons saam met Lukas sy verhaal beleef, die eggo’s van U stem sal hoor sodat ons nie net Jesus, Sondae by die kerkgebou sal raakloop nie, maar elke oomblik by ons in vreugde sal ervaar – Immanuel, God by ons. Maak ons harte en denke oop vir U geestelike invloed en wysheid. Laat ons getuienis strek tot eer en verheerliking van God en deur U, o Gees, besiel sal word. Amen.


NB. As jy van iemand weet wat OOK hierdie e-posse of dalk ‘n WhatsApp nodig het, stuur asseblief hulle name en e-pos adresse of selnommers na espachk@absamail.co.za en ons plaas hulle met liefde op ons poslys.



Jesusvreugde,


KOOS EN RENETTE ESPACH.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page