top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 18 Maart 2022

Koos Espach


Jesus se opdrag aan die dissipels (11)


Gaan dan ...


Matt. 28:18-20 – “Jesus kom toe nader en sê [vir sy dissipels]: ‘Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”


Vergelyk ook Hand. 1:8 – “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot aan die uithoeke van die wêreld.”


Na Jesus se verskyning aan Sy dissipels in Galilea en nadat hulle ongeloof oorwin is, kry hulle die opdrag om die blye boodskap van saligheid aan alle mense te gaan verkondig. Die hele wêreld, “al die nasies,” nie net die Joodse volk nie, is hulle arbeidsveld. Die prediking sal skeiding maak onder die mense: “Wie tot geloof gekom het en gedoop is, sal gered word; wie nie glo nie, sal veroordeel word” (Mark. 16:16). Alles loop daarop uit dat die Messias die lydensweg móés kom bewandel en sterwe, maar van beslissende belang is dat Hy op die derde dag opgestaan het uit die dood. Daardeur is die oorwinning bevestig, en ook die versoening voltooi. Daarom kan daar aan “al die nasies” die blye boodskap van bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word. Die beginpunt is Jerusalem, dáár waar die kruis gestaan het en die graf van Jesus Christus leeg gevind is.


Op hierdie groepie dissipels, gewone mense soos ek en jy, rus die groot en heerlike, maar moeilike taak om die blye boodskap aanvanklik te gaan verkondig. Hulle sal “getuies wees van” die mees besondere Mens wat ooit op aarde geleef het, gely het, gesterf het en opgestaan het uit die dood! Hulle was volgelinge van Jesus, die Christus, en het geleer van Hom hoe om te lewe en hoe om te sterwe. Die inhoud van hulle getuienis sou nie hulle eie ervarings wees nie, maar alles wat Jesus gedoen en gesê het en wat met Hom gebeur het.


In en deur die krag van die Gees sal hulle in diens van die koninkryk staan. Hulle het nie gaan getuig omdat hulle moes nie, maar omdat hulle nie anders kón nie. Jesus sê ook aan hulle waar hulle moet getuig. Die Heilige Gees sal hulle lei en leer in Jerusalem en verder in die suidelike gebied van Judea. Die evangelie moes ook in Samaria verkondig word, die streek met sy gemengde bevolking op wie die Jode neergesien het en nie “mee omgegaan het nie” (Joh. 4:9). Dit is opmerklik dat Galilea nie hier genoem word nie. Moontlik moet dit daaraan toegeskryf word dat Jesus die meeste van Sy aardse tyd daar spandeer het en die evangelie Self daar verkondig het.

Die evangelie moes verder verkondig word tot “die uithoeke van die wêreld”, die lande waarvan die Jode geweet het dat dit bestaan, maar wat hulle nie geken het nie, die land van die nie-Jode, die heidene. Hiermee toon Jesus dat Hy God se raadsplan ten uitvoer bring deur almal wat gelowig is, deel te maak van Hom: “God het gesê: Dit is nie genoeg dat jy my dienaar is om die stamme van Jakob te herstel en om die Israeliete wat gered is, terug te bring nie; Ek maak jou ‘n lig vir die nasies sodat die redding wat Ek bewerk, die uithoeke van die aarde sal bereik” (Jes. 49:6).


Jesus se laaste opdrag aan Sy dissipels wanneer Hy hulle in Galilea ontmoet, is ‘n sendingopdrag wat grens aan ‘n bomenslike taak wat geensins in eie krag gedoen kan word nie. Hulle kon egter aan Jesus se belofte vashou dat “hulle getuies was van al die dinge wat gebeur het en Hy die gawe wat sy Vader beloof het, vir hulle sal stuur” (Luk. 24:48). Ek en jy, eintlik elke Christen, het die voorreg en verantwoordelikheid om teenoor soveel mense moontlik ‘n getuie te wees van die lewende Christus en die magtige genade van God. Ongelukkig is daar ‘n magdom gelowiges wat reken die taak van getuie te wees moet oorgelaat word aan mense wat daarvoor opgelei is soos byvoorbeeld leraars. Dit grens aan ontrouheid, ons kan nie ons verantwoordelikheid ontduik nie. Die verkondiging van die Evangelie is ons almal se taak.


God wil ons gebruik, Jesus gee die opdrag: “Gaan dan ...,” die Gees “gee ons krag” – die drie-Enige God wil hê ek en jy moet ‘n verskil in die wêreld maak, daardie stukkie wêreld waar Hy ons geplaas het. Watter verskoning gebruik ons as ons nie hieraan gehoor gee nie. Abraham was oud; Jakob was onseker; Lea was lelik; Moses het gehakkel; Ragab was immoreel; Dawid het ‘n buite-egtelike verhouding gehad en was ‘n moordenaar; Jona was traag; Petrus was opvlieënd; Tomas het getwyfel; Paulus was sieklik; en so word die lysie langer. Dit lyk maar na ‘n klomp misbaksels, maar God het elkeen van hulle vir Sy diens gebruik. Hy kan ons ook gebruik, ek en jy het geen verskonings nie, of het ons?


“Die kroon van die wonder van God se plan is dat Hy dit aan mense toevertrou het. Dit is die toppunt van die heerlikheid van die mensdom dat die masjinerie van sy verlossing, in sy eie hande geplaas word”

(Henry Drummond).


Gebed: Jesus Christus, ek weet nou dat U alle mag in die hemel en op aarde het. U het die dood oorwin en só vir my lewe gegee. Ek het U opdrag gehoor: “Gaan en maak dissipels ...!” Dankie vir die troos, die belofte, dat U elke tree met my sal saamloop en dat U by my is “al die dae tot die voleinding van die wêreld.” Sonder hierdie versekering van U, opgestane Christus, sal ek dit nie op my eie maak nie. Wys my na wie toe ek U blye boodskap moet uitdra. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page