top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 16 Maart 2022

Koos Espach


Petrus kry opnuut sy opdrag (2)


Vervolgdes omdat ons volgelinge is


Joh. 21:18-19 – “Dit verseker Ek jou: Toe jy jonger was, het jy self jou klere vasgemaak en gegaan waar jy wil; maar wanneer jy oud is, sal jy jou hande uitsteek, en iemand anders sal jou vasmaak en jou bring waar jy nie wil wees nie.’ Dit het Jesus gesê en daarmee aangedui deur watter soort dood Petrus God sou verheerlik. Daarna sê Hy vir hom: ‘Volg My!’ ”


Vergelyk ook Joh. 15:18; 16:2b – “Omdat julle nie aan die wêreld behoort nie maar Ek julle uit die wêreld uitgekies het, haat die wêreld julle ...! Daar kom selfs ‘n tyd dat elkeen wat een van julle doodmaak, sal dink dat hy ‘n diens aan God verrig.”


Nadat Jesus vir Petrus in sy amp herstel het, profeteer Hy met groot nadruk, wat Petrus in die toekoms met die uitvoering van sy amp te wagte kan wees. Die haat van die wêreld, waarvan Jesus vroëer gepraat het (Joh. 15:18; 16:2), sal Petrus aan sware lyding onderwerp.


Dié gedagte word versterk deur die oorlewering dat Petrus in Rome ’n gevangene was en gekruisig is met sy kop na onder. In daardie tyd van vervolging het die uitdrukking “jou hande uitsteek” die betekenis gekry om aan die kruis uitgestrek te word. Dit is daarom moontlik om die uitspraak van Jesus te verstaan as ’n profetiese heenwysing op die manier waarop Petrus sou sterwe. Hy sal volkome in die mag van “’n ander” wees, dit is van die vyande van Christus en sy kerk. Hulle “sal hom vasmaak en bring waar hy nie wil wees nie.” Maar op daardie wyse sou hy God verheerlik.


Die opgestane Christus ontmoet vir Petrus op 'n wonderbaarlike manier. Petrus word in sy amp herstel en kry die opdrag om die Here se kudde op te pas en te lei. Hy ontvang die versekering dat hy steeds in diens van Christus sou wees met ‘n nuwe opdrag: “Volg My!” Dit is dieselfde woorde waarmee hy die eerste keer van sy visserskuit af geroep is om Jesus te volg (Matt. 4:19). In hierdie nuwe roeping mag hy nie verflou nie. Petrus moet in die voetspore van Jesus volg in lewe en leer en lyding. Jesus sê eintlik vir Hom: “Hou aan om My te volg.” Petrus was bereid om hierdie opdrag uit te voer ten spyte van moontlike lyding wat op hom wag.


Hoekom sal ‘n mens vervolg word omdat hy doen wat reg is? Jesus Christus, wat vrede, vooruitgang, blydskap en eer moes meebring, verkondig nou vervolging van Sy dissipels, en dit sluit álle volgelinge daarna, in. Ek en jy ook! Dit is ‘n totale uitklophou! Dit gaan in geloof oor Jesus se opdrag: “Volg My!” Om Jesus elke dag te volg, beteken dat ek en jy ons kruis sal opneem en Hom volg, selfs tussen die vyandiggesindes in, Hom volg in die keuses waar ek en jy onsself moet verloën. Daaglikse bekering is aanhoudende afsterf van die ou mens – die eie ek. Jesus stel ware dissipelskap op die voorgrond en om ‘n ware dissipel van Jesus te wees, is duur. Hoe duur? Toe God Sy skepping van die sonde wou red, kon Hy aan geen ander manier behalwe die offer van Sy Seun vind nie: “Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was” (Rom. 5:8).


As Christus ons voorbeeld vir bediening is, kan ons dit nie vermy om na die kruis te gaan ter wille van ander nie. As ons doel is om ander na Christus te bring, moet ons gewillig wees om soos Hy, verwerping te waag. Mense kan ons teleurstel, “beledig, valslik beskuldig,” ons motiewe verkeerd verstaan en selfs verag en “vervolg.” Ons Verlosser het nie toegelaat dat lyding verhoed dat Hy deur God gebruik word om hulle wat Hy liefhet, te red nie. As ek en jy vir die Here werk, moet ons weet dit is hárde werk; dit is emosioneel uitputtend, die ure is lank, die ‘betaling’ is min – maar die aftreeplan is uit hierdie wêreld uit!


“Elke Christen moet weet: Die navolging van Christus is nie hemelpastei eet nie; dis harde werk, want dit verg dat jy jou lewe moet laat inpas by God se wil” (Ferdinand Deist).


Gebed: Dierbare Heiland, wanneer ek swaarkry hoor ek U stem duideliker, maar onthou ook hoe U eie mense U vervolg en vermoor het. U grusame dood het immers vir mý, versoen met God. Deur U wrede marteling is God se genade op my drumpel afgelaai, verniet! U vertoon aan die kruis en U opstanding, maak my vry van haat teenoor my vervolgers. Dit is dan wanneer ek dink aan my opregtheid van my persoonlike toewyding aan U. Gees van God, help my om myself te verloën en my kruis op te neem, dat ek as gelowige standvastig sal bly ten spyte van die aanslae van die wêreld en sy verkeerde dinge. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page