top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 7 Maart 2022

Koos Espach


Jesus se opdrag aan die dissipels (2)


Gaan revisit die aftrekplekkies


Matt. 28:17 – “Toe die dissipels Hom sien, het hulle Hom aanbid, hoewel party getwyfel het.”


Vandag is my gemoed nie lekker nie. Ek is bekommerd. Ek is erg bekommerd oor my werk. Ek is bekommerd oor my man se siekte. Ek is bekommerd oor ons toekoms. Ek is bekommerd omdat ek moedeloos raak ... en voel dat my gebede nie gehoor word nie. Ek is bekommerd oor hoe ek positief moet bly. Ek is bekommerd ... omdat ek mens is ...! Tog wil ek vashou aan elke belofte. Soms is dit makliker as ander dae. Bid asseblief vandag vir my. Al hierdie onsekerhede is besig om my mal te maak van bekommernis. Vandag voel ek maar net onseker en bitter bekommerd, die hele naweek al! Dit is asof elke probleem kleintjies kry en nog snowball ook!

Ons almal ken iemand wat hier is. Die meeste van ons was al hier, ek ook. Dis nie maklik nie. Dis beslis nie maklik nie. Die donderwolke is net te donker en te swaar om weer lig te word. Die gewig van al die verantwoordelikhede net te groot om staande te probeer bly. Ons arms bewe en ons wag vir die ergste. Elke boodskap is slegter as die vorige een. Die eerste gewaarwording is om boedel oor te gee, te gaan lê en nie weer op te staan nie. Dit is dié realiteit in die wêreld om ons. Ons kyk op na die berge en vra kliphard: “Waar sal ons hulp dan vandaan kom?” (Ps. 121:1). Die skrywer van Hebreërs vat ons ’n stukkie terug op ons lewenspad en laat ons onthou van die jonger dae: “Dink terug aan vroeër dae toe God julle tot die lig gebring het, hoe julle in die stryd staande gebly het toe julle baie moes ly” (Heb. 10:32).


Ja, daar was moeilike tye, en steeds is, tye wat ons ook soos Jesus se dissipels “getwyfel het.” Maar met alles in ons, kan ons aan ons geloof vashou. Maak nie saak watter balle die lewe na ons gooi nie. Maak nie saak hoe bang ons is nie. Maak nie saak of ons al die balle in die lug kan hou nie. Maak nie saak hoe onseker ons is nie, ons kan net vashou aan ons geloof in God en wéét Hy sal een of ander tyd vir ons verlossing bring. Ons weet Hy sal vir ons die oplossing gee. Hy het nog altyd.

Wat maak dit nóú anders? Ek dink ons is al so voos geslaan, dat ons in die omstandighede om ons vaskyk. Die omstandighede om ons is so groot, dat dit ons geloof se “suurstofpyp” toedruk. Ons snak na asem en dit lyk of die omstandighede ons gaan dooddruk. Dit is juis hier waar ons moet opstaan en weer elke koelteboom op ons witwarm lewenspad gaan oproep en soos die Engelsman sê, gaan revisit. Soveel keer in die verlede, ook in die kere toe dit erg woes gegaan het, het God elke liewe keer vir ons die oplossing gegee. God het nie verander nie. God se planne het nie verander nie. Hy is nog presies dieselfde omgee- en liefdevolle God. Ja, soms moet ons stofpaaie ry om die mooi te kan waardeer. Maar, ons troos is: My en jou ompad, is God se op pad!


Dalk is dit net ons wat verander het. Ons het ons oë te laag laat sak en God uit die oog verloor. Ons sien net die donderwolke raak en nie die God van die donderwolke nie! Laat ons soos in die ou dae weer opkyk en al ons vertroue op God plaas. Nee, ek weet nie hoe nie, maar tog glo ek met alles in my dat God ’n uitkoms sal bring. Ek en jy moet onsself onder die soeklig van sy Heilige Gees plaas en sensitief bly vir Sy leiding. Laat ons dan ons vertroue in ons Almagtige Vader stel en ophou “twyfel.” Laat ons troos vind in die wete dat alles wel sal wees, dat dit geskied volgens die wil van God, Hy weet die beste wat goed is vir my en jou se tydelike én ewige welsyn. Hy plaas ‘n “stewige raam” om ons hele bestaan, en ons sal nie uitval nie. Hieraan hou ek net vas. En jy, kan jy teruggaan op die pad waar God jou gehelp het?


“Waarom moet ons dan elke dag van voor af leer om God te vertrou? Het Hy dan nie gister Sy betroubaarheid bewys nie? En eergister? En die dag tevore?” (C.S. Lewis)


Gebed: Here, dit gaan swaar. My lewe is deurmekaar en ek twyfel oor só baie dinge. Ja Here, selfs soms oor U. Dit voel vir my of U so oneindig ver en onbereikbaar is, asof U nie omgee wat met my gebeur nie. Help my om soos ‘n kind te glo – ek is mos U kind. Help my om te glo en aan te hou glo totdat die donker wolke verdwyn en die helder lig van U liefde van gister en eergister, weer vir my sal deurbreek. Dankie dat U absoluut getrou bly! Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page