top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 2 Maart 2022

Koos Espach


Die Emmausgangers (2)


Die lewende Woord openbaar die lewende Christus


Luk. 24:45 – “Toe open Jesus hulle verstand om die Skrif te verstaan ...”


Op die Emmauspad skryf Lukas van “Kleopas en sy metgesel” van wie ons nie werklik weet wie die metgesel was nie. Die beste Bybelverklaarders het dit eens dat dit Maria, Kleopas se vrou was. Dit maak ook nie werklik saak wie dit was nie, miskien moet ek en jy ons eie naam langs Kleopas inlees en só hierdie dagreis saam met ons Leermeester meemaak. Die teleurgestelde Emmausgangers het ‘n behoefte aan troos gehad. In plaas daarvan dat hulle opgewonde met harte gevul vol vreugde omdat hulle weer die voorreg gehad het om die Paasmaaltyd in die heilge stad kon eet, was hulle lewe in stukke gebreek. Maar Jesus wou hulle moed en versterking gee vir die toekoms, daarom lei Hy hulle deur die Woord van God aan hulle uit te lê. Laat Jesus met ons ook praat deur sy Woord.


Paulus spoor ons gelowiges aan wanneer hy skryf “ons leefstyl moet bepaal word deur die rykdom van alles wat Christus ons (in die Woord) leer” (Kol. 3:16). Sonder die Woord van God kan ons, onder andere, nie die evangelie verstaan nie; kan ons nie die evangelie, wat "goeie nuus" beteken, met mekaar en ander deel nie; kan ons nie toegerus word om die goeie dade te doen waartoe God ons roep nie; het ons geen hoop nie; kan ons Jesus nie leer ken nie; kan ons nie oor die “Jesus van Emmaus” getuig nie.


Baie mense is geleer dat Bybelstudie ‘n plig is en gevolglik strompel hulle deur die bladsye van die Bybel en ek wil amper sê, slaak hulle ‘n sug van verligting wanneer ‘n gedeelte klaar gelees is. Ander gebruik die verskoning hulle verstaan nie wat hulle lees nie; of die probleme van die dag het die lus om nog Bybel te lees, laat sterf. Dit is dan wanneer die Bybel op ‘n rak gelos en dálk afgestof word om saam te neem die Sondag wanneer hulle weer besluit om kerk toe te gaan. Is dit nie moontlik die rede dat mense sukkel om hulleself aan die lewe te hou nie? Kos en water is tog belangrik vir ons lewensbestaan en Jesus het self gesê “ons leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom” (Matt. 4:4).


‘n Boot kan nie sonder sy anker nie. ‘n Christen kan nie sonder God se Woord nie. God se Woord as anker vat nie die seer en swaar uit die lewe nie. Omdat ons elke dag die Woord lees, beteken nie ek en jy kry nou die binnebaan van die lewe, en vir die res daarvan sonder uitdagings gaan wees nie. Wat die Anker wel bring, is gemoedsrus. As die branders ons lewensbootjie wil verwoes, kan ons rustig raak. Die Anker sal sy ding doen.


Ons moet ons hele lewe in God se Woord vasanker. “Ons moet vashou aan die betroubare woord waarin ons onderrig is” (Titus 1:9). Hierdie “betroubare woord is inderdaad ‘n lamp vir ons voete en ‘n lig op ons pad” (Ps. 119:105) wanneer ons daarna streef om ons lewe tot verheerliking van ons Maker te leef. Ek en jy moet dan seker maak dat ons aan God se Woord vasgeanker is! "Dit gaan goed met die mens ... wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink" (Ps. 1:1-2). Die studie van die Woord is vaste kos want ek en jy moet dit sélf herkou tot ons eie voordeel!


“Daar is soveel dinge in die Bybel wat ek nie verstaan nie. Daarom is ek so dankbaar dat ek die Outeur leer ken het voor ek sy Boek probeer verstaan het” (Richard Holloway).


Gebed: Here, dankie vir U Woord wat U aan my gegee het as leiding en as anker in hierdie deurmekaar en veranderde wêreld. Vader, ek weet waar my hulp vandaan kom, ek weet waaraan moet ek vashou, maar ai! Ek dryf so maklik weg en soek vashouplek aan plekke waar ek nie kan aan vashou as die storms om my woed nie. Laat my daagliks in U woorde van U “Instruksieboek” wandel. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page