top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 2 Desember 2021

Koos Espach


Jesus word aan Pilatus uitgelewer (1)


Vrye keuse volgens die wil van God


Matt. 27:1-2 – “Die môre vroeg het al die priesterhoofde en familiehoofde van die volk die besluit geneem om Jesus dood te maak. Hulle het Hom geboei en Hom toe weggebring en aan Pilatus, die goewerneur, uitgelewer.”


Vergelyk ook Joh. 18:28-32 – “Toe het hulle vir Jesus van Kajafas af na die ampswoning van die goewerneur toe gebring. Dit was die môre vroeg. Hulle het self nie in die ampswoning ingegaan nie, sodat hulle nie onrein sou word nie maar die paasmaaltyd sou kon eet. Pilatus het buite na hulle toe uitgegaan en gevra: ‘Watter aanklag bring julle teen hierdie man in?’ Hulle het hom geantwoord: ‘As hy nie ‘n misdadiger was nie, sou ons hom nie aan u uitgelewer het nie.’ Pilatus sê toe vir hulle: ‘Vat julle hom en veroordeel hom volgens julle wet.’ Maar die Jode sê vir hom: ‘Ons mag nie iemand teregstel nie.’ Dit het gebeur sodat die woorde van Jesus vervul kon word wat Hy gesê het toe Hy aangedui het op watter manier Hy sou sterwe.”


Jesus se doodsvonnis is gedurende die middernagtelike ure verseël. Die nie-amptelike handelinge van die vergadering tydens die nag, moes amptelik deur die Joodse Raad bekragtig word. Daarom hou hulle vroeg die Vrydagoggend nog ’n vergadering waar besluit word om Jesus aan Pilatus oor te lewer. Soos ’n misdadiger word Hy nou geboei en weggelei na Pontius Pilatus, die Romeinse goewerneur oor Judea in die jare 26-36 n.C. As amptelike verteenwoordiger van die keiser van Rome het Pilatus die finale sê gehad. Hy het die mag oor lewe en dood gehad en kon die doodsvonnis oor Jesus voltrek sonder die hulp van ‘n jurie of ‘n raad. Daardeur sou Jesus se dood nie die Jode se verantwoordelikheid wees nie (so het hulle gedink), maar dié van die Romeinse owerheid.


Johannes beskryf Pilatus se verhoor vollediger as die ander Evangelies en hy werp heelwat lig op die Romeinse regspleging, die houding teenoor die Jode en die karakter van Pilatus. Volgens Lukas bring die hele vergadering voor Pilatus drie beskuldigings teen Jesus in: “Dat Hy oproer onder die volk maak; dat Hy hulle opstook om nie aan die keiser belasting te betaal nie, en dat Hy daarop aanspraak maak dat Hy die Christus, die koning, is” (Luk. 23:2). Die eerste twee beskuldigings is vals, en die derde is vervals. Met die derde wil hulle Pilatus laat verstaan dat Jesus Hom as politieke leier voorstel en die volk in ’n opstand teen die Romeinse owerheid wil lei.


Die Jode weier om die ampswoning van die nie-Jood binne te gaan omdat hulle volgens hulle wette, dan “onrein sou word” en nie die paasmaal later daardie aand sou kon eet nie. Die ironie is juis dat hulle op moord bedag is, maar ’n onbenullige voorskrif van die wet nie wil oortree nie. Hulle wil nie onrein word en daardeur die slag van die paaslam en die paasmaaltyd misloop nie, maar hulle wil die Lam van God slag voor hulle paasmaal. Jesus, die sondelose, wat altyd net goed gedoen het, word uitgewys as ’n gewoontemisdadiger, wat moet dood!


Indien die Jode Pilatus se instruksie gehoorsaam het deur Jesus te “vat en hom veroordeel volgens hulle wet,” sou hulle Jesus moontlik gestenig het. Die Joodse Raad kon volgens die Joodse reg iemand oor godsdienstige sake laat stenig. Deur na Pilatus te gaan om die dood deur kruisiging te verkry, was die Jode dus besig om die plan van God uit te voer. Dit beteken dat God die verloop van sake bepaal het en dat Jesus aktief besig was om die heilsplan van die Vader tot volvoering te bring. Hoe groot die vernedering en hoe smartlik die lydensweg ook al was, was Hy meester van die situasie en is dit Jesus wat vrywillig aan die Vader gehoorsaam bly.


In ons geestesoog sien ons Jesus daar voor Pilatus staan: Die Koning van die hemel en aarde en die Romeinse goewerneur kyk mekaar in die oë. Die Man van hemelse afkoms teenoor Romeinse adel; die Man van vryheid, die weg, die waarheid en lewe teenoor die slaaf van sonde; die Man wat alles doen volgens die wil van God teenoor die heidense man van die Romeinse wet; die Man wat lewe gee teenoor die man wat mense kon laat doodmaak; die Regter oor die heelal teenoor die regter oor Jesus!


Waar laat dit ons? Is ek en jy meer bekommerd oor die mense se opinie oor ons en daarom maar saamdoen wat die wêreld bied om “in” te wees, of soek ons die guns van die Weg en die Waarheid en die Lewe? Weier ons die vryheid wat Jesus bied of verkies ons om ‘n slaaf van die sonde te bly? Die keuse bly steeds by elke mens, die keuse om Jesus te kies in die krag van die Heilige Gees. Ek en jy moet seker maak van ons keuse – dit is die verskil tussen die ewige lewe of ewige dood!


“Moenie nog tyd mors om God te vra om jou te keer om verkeerde keuses te maak nie. Moet hulle net nie maak nie” (Oswald Chambers).


Gebed: Jesus Christus, moenie toelaat dat die god van die wêreld my geestelike visie verwring nie. Dit is só maklik om deur “die god van hierdie wêreld verblind te word sodat ek die lig van die evangelie nie kan sien nie, die evangelie van die heerlikheid van U, wat die beeld van God is” (2 Kor. 4:4). Dankie dat U teenwoordigheid, deur U Gees, my pad verlig sodat ek die sondegevaar kan waarneem. Dankie Jesus, dat U nie ‘n plaasvervanger vir my gegee het nie maar Uself, om die pad na die Vader toe te vind. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page