top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 13 Oktober 2021

Koos Espach


Jesus berei sy dissipels voor vir sy dood – Sy pad na glorie (16)


Die Heilige Gees sal by julle bly (2)


Die Gees is ons Voorspraak en Vrede


Joh. 14:27-29 – “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie. Julle het gehoor dat Ek vir julle gesê het: Ek gaan weg, maar Ek kom weer na julle toe. As julle My liefgehad het, sou julle bly gewees het dat Ek na die Vader toe gaan, omdat die Vader groter as Ek is. En nou sê Ek dit vir julle voordat dit gebeur, sodat julle kan glo wanneer dit gebeur.”


Jesus is besig om Sy gesprek in die Bovertrek af te sluit met ‘n belofte van Sy erflating van vrede vir elkeen. Hierdie vrede is van ’n ander gehalte as die vrede wat die wêreld gee. Jesus skenk die vrede as ’n werklikheid wat nie aan omstandighede gebonde is nie. As gelowiges kry ons ‘n ander perspektief op die lewe – ons sien ander dinge raak wanneer ons na ons eie lewe kyk want as kind van God word ons gelei deur die Gees om deur die oë van God te kyk. Die aardse dinge is skielik dan nie meer belangrik vir ons nie maar eerder hoe my en jou verhouding met God daar uitsien: Pas ons by God aan of verwag ons God moet by ons aanpas?


Stres en spanning is vandag twee begrippe wat deel geword het van die veeleisende en gejaagde lewe waaraan die mens onderwerp en blootgestel word. Christus het kom mens word sodat Hy die toetse van die aardse lewe kon ervaar. Daarom moet ons “bly wees dat Hy na die Vader toe gegaan het” en uit liefde, almal wat oorlaai is, almal wat ontsteld of bang is, uitnooi om Sy vrede te ontvang en as gelowiges, te deel in Sy rus: “Ons wat glo, gaan wel in Sy rus in” (Heb. 4:3).


Hierdie kontras – vreugde te midde van pyn en lyding – is vir die wêreld onverstaanbaar. Dit is so omdat die wêreld nie vir Jesus Christus ken nie. Hulle is die pessimiste wat geen goed in die wêreld kan sien nie en soos doemprofete verkondig dat die toekoms omsluier is in verdoemenis en hulpeloosheid. Dit is hulle wat nie wil aanvaar dat Jesus Christus, die vol kruis en gruwel van “Donker Vrydag” in “Goeie Vrydag” omskep het nie en daardeur God se Almag soos nog nooit tevore, in ‘n kaal kruis van Paassondag verander het nie. God het juis vir Jesus uit die dood opgewek om die sonde en die dood te oorwin en toe die Heilige Gees vir ons gestuur om ons lewe as oorwinnaars in Christus te kan leef!


Tydens die seereis van die lewe bevind ek en jy ons dikwels op onstuimige waters terwyl die golwe van satan en sy bose trawante, onophoudelik poog om ons lewensbootjie stukkend te slaan. Tog is ons gelowiges, diep in ons wese, deel van Jesus se vrede, die vrede wat ons by die voet van die kruis ontvang het. God is ons Vader wat vrede gee: “Mag God, wat vrede gee, ons volkome aan Hom toegewyd maak en ons geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar dat ons onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom” (1 Tess. 5:23). Jesus, die Prins van vrede, “se heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring” (Jes. 9:6). Die Heilige Gees skep daardie vrede in ons hart en lewe: “Die vrug van die Gees is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing” (Gal. 5:22-23).


“Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle”, is Jesus se nalatenskap in Sy testament wat Hy aan ons as gelowiges gegee het, niemand kan hierdie vrede van ons af wegneem nie! Meer as hierdie versekering kan en wil ons nie hê nie. Daarom kan ek en jy met vreugde en dankbaarheid ook óns verantwoordelikheid nakom en, deur die Gees se werk in ons, daagliks toeneem in kennis en gehoorsaamheid. Mag die Gees so in ons werk dat Christus ons waarlik sal omvorm tot die beeld van God soos wat God aanvanklik beplan het toe ons geskep is. Die sleutel vir ‘n kragtige geestelike lewe vir my en jou is eenvoudig: Terug Bybel toe. Dit is vanuit God se Woord waar ons oorlaai word met genade, vrede en goedheid. Kom ons maak God se Woord weer ons enigste Kragbron.


“Die vrede wat die wêreld gee, is die vrede van ontvlugting. Dit is tydelike vrede wat in raadsale en verdrae ‘gekoop’ word om konfrontasie te vermy. Die vrede wat Jesus gee, is nie vrede van ontvlugting nie, maar van oorwinning. Dit is ‘n vrede wat geen konflik of probleem ons kan ontneem nie” (William Barclay).


Gebed: Here, die wêreld om my is oorweldig met onrus en geweld wat werklike vrede net ‘n begrip maak en nie meer ‘n waarheid nie. Ons smag na vrede, daardie vrede wat van Uself kom. Dankie vir die innerlike sielevrede wat U aan my gee, ‘n vrede wat niemand van my kan wegneem nie want ek ken die Vredevors. Here Gees, dankie dat U vir alles sorg, bewaar en ondersteun; ons tot bekering lei en geestelik laat groei; ons hierdie allesoortreffende versekering gee: “Ek gee (My skape) die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit My hand ruk nie” (Joh. 10:28). Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page