top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 28 September 2021

Koos Espach


Jesus berei sy dissipels voor vir sy dood – Sy pad na glorie (5)


Jesus wys sy verraaier aan (1)


Is dit ek?


Matt. 26:20-25 – “Toe dit aand geword het, het Jesus sy plek aan die tafel ingeneem saam met die twaalf. Terwyl hulle eet, sê Hy: ‘Dit verseker Ek julle: Een van julle sal My verraai.’ Hulle was baie onthuts en een na die ander het Hom begin vra: ‘Dit is tog nie ek nie, Here?’ Hy antwoord toe: ‘Die een wat saam met My sy brood in die skottel insteek, dit is hy wat My sal verraai. Die Seun van die mens gaan inderdaad sterwe soos daar oor Hom geskrywe staan; maar wee die man deur wie die Seun van die mens verraai word. Dit sou vir daardie man beter gewees het as hy nooit gebore was nie.’ Toe sê Judas, sy verraaier: ‘Is dit miskien ek, Rabbi?’ Jesus antwoord: ‘Dit is soos jy sê!”


Toe die tyd van die maaltyd aangebreek het, neem Jesus sy plek aan tafel in. Op ’n gegewe tydstip verklaar Hy plegtig dat een van die twaalf Hom sou verraai. Sy woorde spreek van diepgevoelde smart. Die dissipels is diep geskok oor die woorde van Jesus. Niemand is van homself seker nie, aangesien elkeen dink dat hy moontlik die gemene daad gepleeg het, selfs buite sy wete.


Die onverwagte, ondubbelsinnige uitspraak gryp die dissipels in die hart. Hulle besef dat hulle almal betrokke is: dit gaan om “een van julle”. Vir hulle is dit ’n skokkende uitspraak wat hulle moeilik kan verwerk. Hulle is verslae van gemoed maar afsonderlik twyfel hulle nie aan hulle trou teenoor Jesus nie. Hulle kyk na mekaar om te sien of die tekens van verraad in iemand se oë te lees is. Judas speel sy rol só goed dat niemand hom verdink nie. Maar wie kon die verraaier wees?


Jesus gee nie ’n duidelike aanwysing nie, en verklaar met smart in sy siel dat die verraaier iemand is wat so naby Hom aan tafel was dat hy die kruiesous uit dieselfde skottel gaan gebruik. Vir die dissipels is dit ondenkbaar dat een van die twaalf die Here kon verraai, maar Jesus wys daarop dat ook dit volgens die goddelike voorbepaling geskied. Hy onderwerp Hom gewilliglik aan die bose daad wat deur God tot 'n heilsdaad omgebuig word. God se raadswil ontneem Judas egter geen oomblik van sy eie verantwoordelikheid ten opsigte van die lewe van 'n ander nie. Gevolglik bly Judas skuldig! Die oordeel wat hom sal tref, is so verskriklik dat dit “vir hom goed sou gewees het as hy nooit gebore was nie.” Vir die Jood wat die lewe besonder hoog ag, was dit ’n uiters harde woord.


Jesus het die gewete van Judas aangespreek. Indien hy nietemin met die verraad sou voortgaan, sou dit wees met hierdie woorde van oordeel in sy ore en in sy hart. Dit is nogal opvallend dat Judas hom hier reeds begin distansieer van die groep deurdat Hy Jesus nie "Here" noem soos die ander nie, maar "Rabbi". Dit was dikwels die ongelowiges wat Hom so aangespreek het. Die blote feit dat die ander dissipels ook vra of dit nie dalk hulle is nie, bring weer die gedagte na vore dat die dissipels nie net altyd positief deur Matteus geteken word nie.


Ons as Christene moet ons inderdaad afvra of daar nie by ons verraad van Jesus (se saak) aanwesig is nie. Niemand word outomaties van afvalligheid gevrywaar nie. En verder hou die “sagte” manier waarop Jesus Judas se vraag beantwoord, die moontlikheid van omdraai tot op die laaste vir hom en net só, vir ons oop. Omstandighede van my en jou lewe kan maklik verskuif van die veiligheid en rustigheid van ‘n bokamer, na die werklikheid van versoekings. Ons is ook in staat om Jesus in die steek te laat. Elke gelowige moet self nadink oor sy persoonlike reaksie op Jesus se verlossing vir ons en ons getrouheid aan Hom. Ek en jy moet persoonlik verantwoordelikheid neem vir ons verhouding met Jesus en wanneer Hy ons waarsku oor ‘n area van ons lewe waar ons Hom in die steek kan laat, Sy woorde ter harte te neem en die situasie verander.


“Wees daarvan seker dat indien jy op God se pad is, jy versoekings nie sal vryspring nie” (John Bunyan).


Gebed: Here Jesus, ek kan net soos Judas met verwerping of selfs met verraad teenoor U reageer. Ek is nie gevrywaar van enige versoekings om U teleur te stel nie. Waarsku my deur U Gees om tydens my pelgrimsreis, gedurig op my hoede te wees vir versoekings, U waarskuwingswoorde ter harte te neem en waardig te lewe volgens U wil. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page