top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 16 September 2021

Koos Espach


Jesus word in Betanië gesalf (3)


‘n Liefdesdaad in teenstelling met ‘n hartelose aanmerking


Matt. 26:10 – “Jesus het dit gemerk en vir hulle gesê: ‘Waarom maak julle dit vir die vrou moeilik? Sy het ‘n goeie daad aan My gedoen.”

Jesus is die eregas by ‘n aandete in Betanië en is saam met mense wat almal ‘n besondere verbintenis met Hom gehad het. Maria het pas Jesus se voete gesalf met duur nardusolie en “die hele huis is deurtrek met die geur van die reukolie” (Joh. 12:3b). Maar saam met die geur hang Judas se verwytende vraag oor die vermorsing daarvan, ook in die lug. Al wat “gehoor” kan word is die doodse stilte daarna, niemand sê iets nie.


Simon, jy is die gasheer, Jesus het jou van melaatsheid genees, waarom lewer jy nie kommentaar oor Judas se hartelose aanmerking nie. Hy is duidelik nog nie bewus van wie en wat Jesus is nie, ten spyte van die drie jaar wat hy saam met Jesus “geleef” het, en erkenning behoort te gee aan Maria wat hierdie daad van dankbaarheid aan Jesus bewys. En jy Lasarus, jy behoort te begryp hoe dankbaar jou suster is dat jy weer leef, dalk is jou mond vol kos en kan jy nie nou praat nie. Marta, wat van jou? Jy het net so hard gehuil toe jou broer gesterf het, maar hy lewe! Verdedig jou suster se optrede en antwoord Judas, verduidelik vir hom dat hy nie vir God én die geldgod, mammon, kan dien nie (Matt. 6:24). Die stilswye van almal is dalk ‘n erkenning dat Maria oorbodig gehandel het, ‘n jaar se salaris kon beter aangewend word.


En ons? Is ek en jy ook gewillig om ons allerbeste vir Jesus te gee: ʼn Jaar se salaris, ons reputasie, of liewer stilswyend alles gade te slaan? Is ons gewillig om dinge vir Hom uit dankbaarheid te doen, wat vir Hom vreugde sal bring? Wanneer ek en jy ons belastingopgawe se inkomste jaarliks beskou, dink ons miskien daaraan hoeveel daarvan ons aan Christus afgestaan het?


Daar word vertel van Moeder Teresa wat in Kalkutta 'n man teëgekom het wat in 'n sloot gelê het, byna dood. Hy was vieslik vuil en vol vlieë wat om hom swerm. Sy het hom teen haar vasgedruk, sag met hom gepraat en hom begin skoonmaak. Iemand wat daar verbygeloop het, het vir haar geskree: “Ek sal dit nie doen vir 'n miljoen dollar nie”. Moeder Teresa het dadelik geantwoord: “Ek sou ook nie!” Judas sou dit dalk vir ‘n miljoen dollar gedoen het, maar Christene doen dit gratis uit dankbaarheid, nie vir beloning nie. Ons leef anders omdat ons nuut gemaak is deur die sterwe en opstanding van Jesus Christus.


Jesus neem Maria in Sy beskerming en spreek waardering uit vir haar daad en vra: “Waarom maak julle dit vir die vrou moeilik? Sy het ‘n goeie daad aan My gedoen.” Presies wat haar gemotiveer het om Jesus te salf, weet ons nie. Wat ons wel hier sien, is dat Jesus haar daad interpreteer as die enigste persoon in die vertrek wat vir Hom goed is, wat met deernis teenoor Hom optree. In die oomblikke van angs, reik ‘n vrou wat destyds as minderwaardig beskou is, na Jesus uit. ‘n Paar dae voor Hy die mees gruwelike en afskuwelike dood sou sterf, vul die geur van Maria se liefdesoffer die hele vertrek. Behoort ek en jy nie ook die lieflike geur van Jesus se vredesoffer deur die ganse wêreld te versprei nie?


“Ons liefde vir God word gemeet aan die vraag of ons Hóm soek of Sy gawes” (Ralph Sockman).


Gebed: Here, ek wil naby U wees, só naby dat ek U kan hoor wanneer U selfs fluister. Ek wil nie op twee stoele sit nie – ‘n wêreldse- en ‘n kerklike stoel. Laat my toe om my belydenis uit te leef, maak my verhouding met U kosbaar en duur. Laat my U geur aan ander oordra in ‘n wêreld waar U my geplaas het. Maak my ‘n kanaal van U liefde na ander mense, soos Jesaja sê ek: Hier is ek, stuur my. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page