top of page

Gedagte vir Vandag

19 Okt 2020

Koos Espach


Standbeeld van Petrus in Israel met die sleutels van die koninkryk van die hemel.

JESUS WORD TEENGESTAAN EN BELY. SY DADE VAN BARMHARTIGHEID TEENOOR JOOD EN HEIDEN. (Matt. 13:54–16:20)

DIE BELYDENIS VAN PETRUS (5)

(Mark. 8:27-30; Luk. 9:18-21)

ELKE GELOWIGE IS ’N SLEUTELDRAER!

Matt. 16:17-19 – “Gelukkig is jy, Simon Barjona,’ het Jesus vir hom gesê, ‘want dit is nie ‘n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is. En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek My kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly.”

Ná Petrus se belydenis, noem Jesus hom gelukkig, oftewel, geseënd. Geseënd, want om Jesus as Verlosser te ken en te aanbid, is inderdaad ‘n gawe van God. Verder belowe Jesus ook dat Hy op hierdie belydenis van Petrus, Sy geloofsgemeenskap, Sy kerk, sal bou. Dit is die hart van die Christendom. Jesus is sélf die argitek en bouer daarvan, en ons gelowiges net die medewerkers. Petrus se kragtige belydenis dat “Jesus die Christus is, die Seun van die lewende God”, is die lewensaar waarsonder die kerk nie kan bestaan nie. Dit is só kragtig dat selfs “die magte van die doderyk dit nooit kan oorweldig,” of sterk genoeg is om dit stil te maak nie!

Jesus noem Petrus gelukkig, op wie se belydenis Hy sy kerk sal bou. Maar dit is nie net Petrus wat gelukkig of geseënd is nie, dit sluit almal in wat hulle rondom Jesus as die Messias skaar. Almal, ook ek en jy, ontvang dus die gesag om die gelowiges voor te gaan in ‘n lewe vir Jesus. Die godsdienstige leiers van daardie tyd het egter gedink dat húlle die sleutels tot God se koninkryk besit en nét hulle die mag het om mense toe te laat, óf uit God se koninkryk te hou. Dit is nie mense se besluit wie toegang tot God se koninkryk mag hê nie. Inteendeel, God gebruik ál Sy dissipels om álle mense te help om in Sy koninkryk te kom. Vir almal wat in Jesus Christus glo en aan Hom gehoorsaam is, swaai die deure van Sy koninkryk oop.

Petrus se belydenis, werk soos ‘n sleutel vir elkeen wat dieselfde belydenis, opreg agter hom kan aan sê! Hierdie belydenis is as’t ware die sleutel wat die deur of pad na God se koninkryk oopsluit. Terselfdertyd sluit dit die pad na die hemel tóé, vir diegene wat nie bereid is om in geloof, wil erken dat “Jesus die Christus, die Seun van die lewende God” is nie. Elkeen wat volhardend hulle rug op die Evangelie draai, word uitgesluit, die deur van God se koninkryk gaan vir hulle toe! Let wel, dit is nie Petrus of ons gelowiges wat as sleuteldraers, die koninkryk oop of toesluit nie, dis God self! Ons wys maar net die deur na die ware lewe toe aan, deur saam met Petrus te bely dat Jesus meer as net ‘n mens is wat tussen ons kom woon het (Joh. 1:14). Hy is God self!

Om van Jesus te getuig en te bely dat “Jesus die Christus is, die Seun van die lewende God”, is nie altyd maklik nie. Daar sal dae wees wat dit nie so goed gaan nie. Daar sal dae wees wat ons twyfel en wonder wat ons daar maak. Daar sal dae wees wat mens meer kritiek as positiewe terugvoer sal ontvang. Dit is die dae wanneer ons moet vashou aan een ding – ons roeping as sleuteldraers. Hoe ernstiger ek en jy ons roeping gaan uitleef, hoe sterker gaan die winde wees. Ons weet dit mos, hoe hoër die boom, hoe sterker waai die winde daar aan die bokant. Daarom moet ons geloof gegrond wees, ons wortels moet diep in die fondament gegroei wees om staande te bly teen die storms. Ons moet sorg dat ons wortels goed gevestig is. Ons moet onsself ingrawe in God se Woord!

Sonder dat ons dit besef, kom staan alledaagse dinge tussen ons en God. Stadig maar seker kom druk ons eie drome om bo uit te kom êrens in, en ons skuif God geleidelik uit na die rand van ons lewe. Ons het nie meer tyd nie. Alles is ’n gejaag na wind en voor ons ons kom kry, is dit juis die wind wat ons boom omwaai en ontwortel. God het ons geplant waar ons nou is. God het baie mooi planne vir ons elkeen dáár. Die vraag is of ek en jy dit nog in die oog het? Glo ons nog dat God vir ons ’n plan daar het? Of het ons die pad van die minste weerstand gekies, of nie gegroei sodat die winde nie so erg waai nie?

Elkeen van ons gelowiges is geroep om God se Woord in die wêreld uit te dra, sleuteldraers te wees. Sommige werk voltyds as predikante en pastore. Die res van ons het ander beroepe of werksomstandighede. Sommige preek deur woorde en ander deur dade. Die feit bly staan: Elkeen van ons is geroep om Jesus aan die wêreld te wys. Die wêreld het Hom só nodig. Dit is ’n groot opdrag wat elkeen van ons opgelê is. Net jammer dat so baie nie daarvan weet nie en baie wat wel daarvan weet, vergeet om die opdrag uit te leef. Ek vermoed dit is die rede hoekom die wêreld so sonder God lewe – omdat baie van ons tjoepstil oor die Verlosser bly. ’n Wêreld sonder God is chaos en as ek so om my kyk, sien ek meer chaos as orde.

Elke Christen het ook die sleutels van die koninkryk van die hemel en toegang tot God op grond van hulle geloof in Jesus Christus as Verlosser. Ek en jy is geroep om die boodskap van Verlossing met ander te deel en aan hulle te vertel watter verskil Jesus elke dag in ons lewe maak. Watter ongelooflike voorreg! Saam met Paulus kan ons bely dat “ons daarvan oortuig is dat Hy magtig is om wat Hy aan ons toevertrou het, tot op die dag dat Hy weer kom, in stand te hou” (2 Tim. 1:12). Leef jou roeping uit net daar waar jy is en moenie toelaat dat enige iets jou stop nie. “Dank aan God! Hy voer ons altyd saam in sy triomftog omdat ons een is met Christus. Deur ons versprei Hy die kennis van Christus oral soos ‘n aangename geur” (2 Kor. 2:14). Is jy ook as sleuteldraer, bereid om die Evangelie soos ‘n wierookgeur te versprei?

“Jesus Christus het nie die verkondiging van Sy Goeie Nuus aan ‘n reklamemaatskappy toevertrou nie. Hy het net Sy dissipels uitgestuur, die meeste van hulle, eenvoudige vissermanne. Hy het hulle nie opdrag gegee om advertensieborde op te sit en pamflette uit te deel nie. Hy het gesê hulle moet net in hulle gewone lewe wys wat hulle glo” (Joseph Bayly).

Gebed: Here, ek weet U het my op ’n spesifieke tyd op ’n spesifieke plek geplaas om ’n verskil te maak. Help my om naby U te bly sodat my wortels diep in U Woord geanker is en sodat geen storm my kan omwaai nie. Here, dis ’n voorreg om van U verlossingsdade te vertel. Ek weet dit is ook my roeping want ek is ook ‘n sleuteldraer. Gee asseblief deur u Gees, aan my die vrymoedigheid om tydig en selfs ontydig, daaroor te praat. Dankie dat U my toerus om die werk te doen wat U vir my uitgesit het om te doen. Dankie dat U, Heilige Gees, my lei met insig en wys waar U my wil gebruik. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page