top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 18 Junie 2021

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (111)

(Matt. 16:21–25:46)


Jesus se vyfde toespraak: Ellende-aankondigings teen die skrifgeleerdes en Fariseërs (12)

(Matt. 23:1-36)


Jesus veroordeel huigelary (6)

(Mark. 12:40; Luk. 11:39-42; 20:47)


Skynheiligheid lyk skoon van buite maar is eintlik vuil van binne!


Matt. 23:25-26 – “Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binne is hulle vol hebsug en onmatigheid. Blinde Fariseër, maak eers die binnekant van die beker skoon, dan sal sy buitekant ook skoon wees.”


Vergelyk ook Rom. 9:30-33 – “Wat is nou ons gevolgtrekking? Dit: heidene het nie God se vryspraak gesoek nie, maar dit wel gekry – die vryspraak deur die geloof. Israel, daarenteen, het ‘n wet gesoek waardeur hulle God se vryspraak sou kon kry, maar by so ‘n wet het hulle nie uitgekom nie. Waarom kon hulle nie die vryspraak kry nie? Omdat hulle nie op die geloof wou bou nie, maar op hulle eie prestasies.”


Jesus het pas die kerkleiers van destyds gewys dat hulle onderskeidingsvermoë vervang is met skynheiligheid deur die metafoor van ‘n muggie en kameel aan hulle voor te hou. Met Sy vyfde ellende-uitspraak laat ons dink dat die klem op skoon/rein en onrein wees, hier oor kwessies van rituele reinheid mag gaan. Tog maak die eetgerei-metafoor dit duidelik dat dit hier gaan oor die skynheiligheid van die leiers wat die voorkoms van reinheid het, maar wie se binneste vol geweld en ’n gebrek aan selfbeheersing is.


Dit het vir die kerkleiers nie net oor hulle beheptheid met reinheid gegaan nie, maar om rituele wat volgens hulle interpretasie, aanvaarbaar vir God sou wees. Solank dinge van buite af vir hulle reg lyk, is hulle tevrede. Jesus beklemtoon dat dit egter oor die “binnekant” gaan – “Net die buitekant van die beker en skottel word skoongemaak terwyl die binnekant ‘n oormaat van hebsug en onmatigheid bevat.” Dit help nie mens kom die uiterlike aspekte van die wet na maar binne is daar geen begeerte om God te dien nie.


Paulus sluit hier aan met sy betoog en kom tot die gevolgtrekking, dat die grootste gedeelte van Israel, meestal as gevolg van hulle kerkleiers, die vryspraak nie deelagtig geword het nie. Hulle wou op hulle eie inspanning en vroom prestasies bou en nie op God se verlossingsplan nie. Die heidene, daarenteen, het nié God se vryspraak gesoek nie, maar dit gekry, “die vryspraak deur die geloof.” Die weë skei dus by Jesus Christus en dis die geheim van hierdie teenstrydigheid – die Jode volhard op hulle eie pad om vryspraak te verkry deur die wet te onderhou (“die buitekant van die beker en die skottel skoon te maak”), terwyl die heidene dankbaar die vryspraak in geloof in Jesus Christus aanvaar het (die binnekant se skoonheid aanvaar het.)


Israel het die wet nagejaag wat hy gemeen het sal help om die vryspraak te verdien. Hierdie wet kon hulle ongelukkig nie onderhou nie omdat hulle die sin van die wet nie begryp het nie. Hulle het ‘n kredietbalans by God probeer opbou sodat God by hulle in die skuld was. Omdat God dan by hulle in die skuld was, móés Hy hulle redding deur vryspraak verseker. Die heidene daarenteen, was asof hulle die kruis gesien het en erken het: “As God my só lief het, kan ek Hom met my hele hart, siel en verstand vertrou.” Hulle was dus in die skuld by God en God se liefde deur Jesus Christus vertrou en aanvaar.

Vandag weet ons dat God sondes vergewe as ons dit bely (1 Joh. 1:9). Ons weet van God se vryspraak, maar is nie altyd seker hoe om aandag te gee aan die metode van God se vryspraak nie. Ons wil ons eie metodes volg om vergifnis van sonde te verkry – reg te lewe of immers, probeer om reg te lewe; lidmaat van ‘n kerk wees of immers, darem op die “kerk se boeke” te wees; maandeliks ‘n bydrae te gee indien die begroting dit toelaat; lees darem nou en dan Bybel en bid gereeld wanneer ons iets nodig het, want ons is van kleins af geleer om dit te doen en ja, ek is darem gedoop ook. Solank “die buitekant van die beker en die skottel skoon is”, is die saak reg.


So volg sommige mense, net soos die Jode in Jesus en Paulus se tyd, hulle eie kop en verwag dit is genoeg om outomaties vryspraak te ontvang. Hulle vertroue en geloof in wat Jesus Christus, ons Here, gedoen het, is slegs ‘n visioen en nie ‘n waaragtige feit nie. Die mens se prestasies het Christus se prestasies vervang.

Geloof is die dankbare vertroue op God se guns en beloftes. Maar dié weg wou Israel nie gaan nie. Hulle wou die weg deur wetsonderhouding en deur eie prestasie, die guns van God en Sy vryspraak verdien. Mense word beïndruk deur vertoon, ook godsdienstige mense. Dikwels kyk ons nie by die vertoon verby na wat werklik aangaan nie. Daarom waarsku Jesus Sy dissipels en later Sy kerk, om dieper as die oppervlak te kyk, “of die binnekant van die beker skoongemaak is”, sodat ons nie deur vertoon verlei word nie.


En dit sê iets oor ons geloof. Die feit dat die kerkleiers in Jesus en Paulus se tyd, hulle besig gehou het met die wet van God, so kon optree, sê dat hulle onbewus gereken het God kyk maar soos ons kyk. God is maar beïndruk met die dinge wat ons beïndruk en sodoende, ook van vertoon hou. Dit is egter die grootste fout wat ons kan maak om te dink God is soos ‘n mens. Hy kyk deur ons winkelvensterlewe na ons bankrothart, dit hang van my en jou af wat hy daar sien – “die buitekant van die beker en die skottel mooi skoongemaak deur eie belang en binne vol hebsug en onmatigheid”, of soos Jesus, ons hoogmoed en sosiale status vergeet en voetewassers word wat ‘n bydrae lewer tot die uitbreiding van God se koninkryk.


“Man's imperfection could never satisfy God's perfection; nothing that man could do could even begin to repay what God has done for him” (William Barclay).


Gebed: Hemelse Vader, ek wil by U aanleun met absolute vertroue in U Goddelike almag en goedheid en ek wéét, om in Jesus Christus te glo, sal ek nooit beskaamd staan nie. Neem die trots dat ek enigiets sonder U kan doen uit my hart, sodat ek altyd my krag by U sal kom soek. Maak my nederig sodat ek as ‘n voetewasser, kan help om U koninkryk uit te brei. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page