Gedagte vir Vandag

Donderdag, 17 Junie 2021

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (110)

(Matt. 16:21–25:46)


Jesus se vyfde toespraak: Ellende-aankondigings teen die skrifgeleerdes en Fariseërs (11)

(Matt. 23:1-36)


Jesus veroordeel huigelary (5)

(Mark. 12:40; Luk. 11:39-42; 20:47)


Christene besit ‘n geloof wat deur liefde gedring word om in dade oor te gaan!


Matt. 23:23-24 – “Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle gee tiendes van kruisement, anys en koljander, maar wat volgens die wet van God die swaarste weeg, laat julle na: geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid. Juis hierdie dinge moet ‘n mens doen en die ander nie nalaat nie. Blinde leiers! Julle skep die muggie uit julle beker uit, maar julle sluk die kameel in.”


Vergelyk ook Sag. 7:9-10 – “So het die Here die Almagtige gesê: Laat reg geskied aan almal, bewys liefde en barmhartigheid aan mekaar; moenie die weduwee en die weeskind, die vreemdeling en die arme verdruk nie.”


Die vierde ellende-uitspraak demonstreer Jesus die Fariseërs se besondere vroomheid ten opsigte van die “tiendes-gebod” in Numeri 18:12, hoe hulle verkeerdelik die volk belas met onbenullighede terwyl die belangrike en noodsaaklike agterweë gelaat word. Die “tiendes-gebod” het bepaal dat die volk erkenning moet gee dat alles aan God behoort en daarom ‘n tiende van onder andere, die opbrengs van die land en vee voorsien moet word aan die Leviete (tempel) vir hulle onderhouding. Die Here het nooit tiendes van kruie gevra nie, maar om beter te lyk, het hulle die volk daarmee belas. So verander hulle dit wat bedoel was om hulle dankbaarheid uit te druk, in ‘n swaar las op die volk.


Dit is merkwaardig dat hier géén direkte kritiek op die kerkleiers se oordadige onderhouding van die tiendes is nie, maar wél daarop dat hulle die “geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid” nalaat. En is dit nie tog wat die swaarste weeg in die wet van God nie? Beteken “geregtigheid” nie juis om die regte ding te doen nie, “barmhartigheid” om waar te neem wat jou naaste benodig en dit vir hom of haar te wees, want ‘n dissipel van Jesus is “betroubaar” en speel nie met God en mense se gevoelens nie? Deur hulle vrome voorbeeld en gee van geurige “kruisement, anys en koljander” en hulle vrome onderrig, stel hulle ’n verkeerde voorbeeld van blinde leiers wat nie hulle dankbaarheid teenoor God openbaar nie. Die gevolgtrekking is dus weer eens dat God se oordeel oor hulle kom.


Barmhartigheid begin nie by die uiterlike handeling nie, dit begin by die innerlike gesindheid waarmee die handeling plaasvind. Hierdie innerlike gesindheid se oorsprong is om totaal afhanklik te wees teenoor God – om die wêreld deur God se oë te sien – om ‘n onafgebroke verbintenis met God te hê wat deur liefde gedring word om in dade oor te gaan.

William Barclay, die bekende Skotse teoloog, het op sy beurt gereken barmhartigheid beteken letterlik om saam te ly. Om saam met iemand wat swaarkry te stap sodat hulle nie alleen is nie. Om nie die pyn wat iemand het, net te probeer oplos nie, maar saam te ervaar, feitlik binne daardie persoon se skoene in te klim. Dit is presies waar die kerkleiers van destyds gefaal het, hulle het God met oëverblindery probeer kul met klein dingetjies terwyl die dinge wat regtig saakmaak, nagelaat is. “Hulle skep die muggie uit hulle beker uit, maar sluk die kameel in.”


Barmhartigheid is omgee met jou hele hart, om ‘n verskil te maak, om betrokke te raak en nie net betrokkenheid te praat nie. Ons geloof in Christus behoort die aard en kwaliteit van ons barmhartigheid en totale verhouding met ander mense te bepaal. Is dit nie dalk nodig om dinge te probeer waarneem vanuit die persoon wat swaarkry se oë, dinge te dink met sý of haar gedagtes en voel wat hý of sý voel nie? Dit is presies wat nie gedoen word nie. Elkeen is só besig met hulle eie gewaarwordinge en probleme dat ander se probleme blindelings verby gaan. Ons staan dus nog “buite” daardie persoon. En wanneer ons uiteindelik ‘n vlugtige kansie kry om “barmhartigheid” te betoon, tree ons nie met “geregtigheid” op nie, maar doen ons dit op ons voorwaardes, of daardie persoon daarvan hou of nie.

Elke hartseer het ‘n rede en wanneer die kern van die rede verstaan word, word dit makliker om barmhartig te kan wees. Dit geld vir elke mens wat God oor ons pad stuur en nie net diégene op ons voorkeurlysie nie. Jesus was dié beste voorbeeld van “barmhartigheid en geregtigheid”. God het gesien dat die mens in sonde en ellende verval en toe gaan God oor in aksie, Hy kom af na die mens op aarde toe – “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê” (Joh. 3:16).


God ken ons harte en ons bedoelings en daarom het ons as Christene ‘n groot verantwoordelikheid. As nuwe mense moet ons leef met ‘n nuwe styl, leef met ‘n geloof en omgee teenoor ons naaste wat uitmond in dade van geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid. Juis hierdie dinge moet ek en jy doen en dankoffers nie nalaat nie.” God se liefde kry sigbare hande wanneer ons as Sy kinders, soos Sy kinders lewe. Sy kinders is anders as die “blinde leiers wat die muggie uitskep uit hulle beker uit, maar die kameel insluk.” Ek en jy as God se kinders hoor die smeekgeroep van ons naaste in nood en ons weet ons het ‘n liefdestaak om te verrig. Dan is ons geloof nie meer net vroom woorde nie, maar word dit liefde in werksklere.


“Die mens is nooit nader aan sy Skepper as in sy oomblikke van medelye nie” (Josef Hertz).


Gebed: Wat ‘n Vriend het ons in U Jesus! U wat op ‘n dag U hemelse eer ingeruil het vir ons stukkende mense, U wat nie vasgeklem het aan U hemelskleed nie maar my sondebevlekte klere kom aantrek het! Here, maak my sensitief om saam met ander te ly. Laat U liefde my meer liefdevol optree. Laat U oorvloed my inspireer om vir ander om te gee. Laat die liefde van 1 Korintiërs 13 my lewenstyl word. Maak my ‘n kanaal van U barmhartigheid – “As dit is om mense te bemoedig, laat ek hulle bemoedig. As ek gee, laat dit sonder bybedoelings wees. As ek leiding gee, dan met toewyding. As ek ander help, dan met blymoedigheid” (Rom. 12:8). Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon