top of page

Gedagte vir Vandag

15 Okt 2020

Koos Espach


Sesaria-Filippi was ook bekend vir sy baie afgode wat daar aanbid is.

JESUS WORD TEENGESTAAN EN BELY. SY DADE VAN BARMHARTIGHEID TEENOOR JOOD EN HEIDEN. (Matt. 13:54–16:20)

DIE BELYDENIS VAN PETRUS (3)

(Mark. 8:27-30; Luk. 9:18-21)

JESUS, U IS …!

Matt. 16:15-17 – “Maar julle,’ het Hy gevra, ‘wie, sê julle, is Ek?’ Simon Petrus het geantwoord: ‘U is die Christus, die Seun van die lewende God.' ‘Gelukkig is jy, Simon Barjona,’ het Jesus vir hom gesê, ‘want dit is nie ‘n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is.”

Dit is nie genoeg dat die mense Jesus net as een van die groot profete van die geskiedenis beskou nie (16:13-15). Sy intieme kring moet nou self hulle kleur wys. En dit is belangrik dat die dissipels dít van Jesus snap vóór Hy die pad van die kruis begin loop. Dit is immers as die Messias, die Christus, wat die kruisdood vir die dissipels en vir almal wat in Hom glo, vir die wêreld, sin en betekenis gaan hê. Anders is dit net 'n tragiese verhaal van wat kon gewees het.

Petrus wat as mondstuk van die groep optree, kom met die ware Christusbelydenis en met plegtige presiesheid, spreek hy die gewigtige belydenis uit: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” Met “Christus” (Grieks vir “Messias” in Hebreeus) word bedoel die Gesalfde van God, die Heilige van God, deur God aangestel as Koning en Regter en Verlosser van die wêreld. Die erkenning dat Jesus die Seun van die lewende God is, word bely dat Hy self ook God is! Sesarea-Filippi was bekend vir sy baie afgode, en juis hier word beklemtoon dat Jesus alleen God, die lewende Here teenoor die dooie gode sonder ore en oë, hande en voete, is! Hier in Sesarea-Filippi aan die voet van die Hermon-gebergte en op die verste punt van Jerusalem af, word die belydenis dat “Jesus die Christus, die Seun van die lewende God” is, uitgespreek.

Daarmee is verklaar dat Jesus die belangrikste figuur in die geskiedenis van die mensheid is. Hy is die Bemiddelaar van die langverwagte Messiasryk. Petrus was ‘n gewone mens soos ek en jy, ‘n man met ‘n verlede en ‘n toekoms, ‘n sondaarmens. Maar met hierdie belydenis het Petrus plotseling besef dat Jesus nie soos een van ons is nie, Hy is geheel en al anders. Jesus antwoord Petrus en spreek hom aan op sy volle naam: “Gelukkig is jy, Simon Barjona, ‘want dit is nie ‘n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is.” (“Barjona” is die Griekse weergawe van “seun van Jona” in Aramees.)

Die kontras tussen openbaring wat van mense kom, en die openbaring deur ons hemelse Vader, is van besondere betekenis hier. Blote menslike intuïsie, kon nie Petrus hierdie belydenis laat uitspreek nie. Mense se opvattings oor Jesus bly op menslike vlak en is daarom beperk in insig. Petrus se belydenis is alleen moontlik wanneer God self Hom aan ’n mens openbaar. Om vir Jesus as Verlosser te ken en te aanbid, is inderdaad ‘n gawe van God. Juis daarom word Petrus “geseënd” genoem. God seën elkeen wat Hom as sulks erken, luister as Hy praat, Hom volg as leier Koning en hulle ganse lewe aan Hom oorgee deur beheer oor die eie lewe prys te gee.

Wanneer Jesus na ons kyk, sien Hy nie net wie ons werklik is nie, maar Hy sien ook wat ons kan wees. Hy sien nie net die werklike nie maar ook die moontlike. In Petrus het Hy nie net die Galilese visserman gesien nie maar ook die rots op wie die kerk gebou sou word. Jesus se uitnodiging is aan almal: “Kom saam, gee jouself as ‘n lewende offer aan my (Rom. 12:1), en ek sal jou verander in wie jy graag wil wees.” Jesus is die een wat die verskuilde verlorene kan verlos om ‘n regmatige plek in Sy Koninkryk te vind. Daarom kan en mag ons nie geheime Christene wees nie: óf jou Christenskap sal jou geheim vernietig óf die geheim sal jou Christenskap vernietig.

Ons het die moed om anders te wees. Saam met Petrus bely ons dat “Jesus die Christus is, die Seun van die lewende God.” Ons moet geïdentifiseer word as God se mense want ons het aan ‘n lewende Christus trou gesweer. Sy wil is vir ons van grootste belang en ons glo die Heilige Gees besiel ons daarvoor om vir Hom te leef en te werk. Ons word nie meer beïnvloed oor wat mense van ons sê of teenoor ons doen nie, die Gees sal ons leer wat ons in elke omstandigheid moet sê en hoe om op te tree. “Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal” (Gal. 5:25).

“Die diepste waarheid van die Christelike geloof is dat Jesus my gevind het. Het Hy jou al gevind?” (William Temple).

Gebed: Here, gee aan my die woorde, die moed en die toewyding om van U te getuig. Laat ek die lewensveranderde boodskap van die kruis aan ander oordra met vrymoedigheid en vertroue. Laat my saam met Paulus my “voorneem om met hulle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die Gekruisigde” (1 Kor. 2:2). Laat my saam met Petrus getuig: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” Laat my getuienis nooit ‘n las vir my en ander wees nie, maar louter vreugde. Dankie vir die moed om anders te kan wees, dit is immers ‘n voorreg om namens ons Koning te kan getuig. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page