top of page

Gedagte vir Vandag

1 Oktober 2020

Koos Espach


JESUS WORD TEENGESTAAN EN BELY. SY DADE VAN BARMHARTIGHEID TEENOOR JOOD EN HEIDEN.

(Matt. 13:54–16:20)

JESUS MAAK BAIE SIEKES GESOND (2)

(Mark. 7:31-37)

GOD OORSPOEL ONS MET AL SY GENADE!

Matt. 15:29-31 – “Jesus het daarvandaan vertrek en by die See van Galilea gekom. Hy het teen die berg opgegaan en daar gaan sit. Baie mense het na Hom toe gekom met verlamdes, blindes, gebreklikes, dowes en nog baie ander, en hulle voor Hom neergesit. Hy het hulle gesond gemaak, sodat die menigte hulle verwonder het toe hulle sien dat stommes praat, gebreklikes herstel is, verlamdes loop en blindes sien. En hulle het die God van Israel geprys.”

In Jesus maak God sy groot medelye, barmhartigheid en genade vir die mens in nood bekend. Dit is ‘n boodskap wat ons oor en oor, dwarsdeur die Bybel hoor. Dat Jesus hier teen die berg opgaan, is nie toevallig nie. Net soos by Moses en Elia is die berg dikwels die plek waar God Hom in Sy liefde aan mense bekend maak. Matteus skets vir ons hier ‘n opsomming van Jesus se talle genesingswonders. Hier word nie gevra of mense Jode of heidene is nie, ook nie of hulle na Jesus kom omdat hulle werklik in Hom glo as die Verlosser en of hulle net kom omdat hulle Hom as wonderwerker sien nie. Hulle kom omdat hulle nood het en Jesus genees voor die voet. Dit is Sy dade van barmhartigheid en genade, wat hulle tot geloof wil wek.

Baie kere staan ek verwonderd oor God se genade en tot my spyt, “prys ek Hom nie (altyd) soos die skare nie.” Eintlik is die grootheid daarvan eenvoudig vir my net té groot om heeltemal te verstaan. Hoe kan God vir ’n sondaar soos ek sommer net so lief wees? Maar meer nog, hoe kan God die pak vat vir al die verkeerde dinge wat ek al aangevang het? En dan nog vir al daai dinge wat ek moes doen om Jesus se voorbeeld te volg en te dien, eenvoudig net te lui of te skaam was om te doen ...?

Ander kere vra ek myself, hoekom dit so is dat wanneer mens iets gratis kry, ons dit dikwels nie na waarde skat nie en dan daarmee mors of sommer net as vanselfsprekend afmaak. Amper soos met God se genade. Mense sal sommer sê: “Ag wat, ek kan mos na die tyd net sê ek is jammer, dan is my sondes vergewe.” Dis nie reg nie. Dis mors en God laat nie met Sy genade mors nie. Die vergifnis van sondes is met baie duur bloed van sy Seun gekoop en God sal nie toelaat dat enigiemand daarmee mors nie – “Moenie julleself mislei nie: God laat nie met Hom spot nie. Wat mens saai, dit sal hy ook oes” (Gal. 6:8).

Ons kan nie maar net ’n lewe leef waar ons doen wat ons wil nie. Ons moet ons bes probeer om binne God se wil vir ons lewe, te leef. Ons weet wat reg en verkeerd is. Daardie stemmetjie hier binne sê dit hard en duidelik vir ons. Ja, ons almal wat glo, het die Heilige Gees hier binne ons. Hy praat, dalk nie so hard nie, maar Hy praat! Dis ons wat ons baie keer doof hou vir Sy rigtinggewing.

Ons moenie met God se gratis genade mors nie. Ons kan nie maar net aangaan soos ons aangaan nie. Ons moet planne in plek kry om die skewe dinge in ons lewe reg te trek. Ons moet seker maak dat ons lewe nie vol donker kolle raak nie. En op ’n manier is dit presies hoe Jesus dit gedoen het. Sy dood aan die kruis het die son weer oor ons laat opkom. Daar waar ons in die donker rondgeploeter het, met geen vooruitsig na redding, het Jesus die lig aangeskakel. Ons kon die kolle in ons lewe raaksien, maar meer nog, ons kon die genade en vergifnis ook raaksien. God se liefdesson het oor ons almal opgekom en elkeen wat Hom aanvaar as sy of haar Verlosser, is deur Sy reddende genade oorstroom. “Die genade van God wat verlossing bring, het immers aan alle mense verskyn” (Titus 2:11).

En soos die son elke oggend opkom en vir geeneen wegkruip nie, skyn God se reddende genade en liefde oor elke liewe mens wat lewe. Maak nie saak watter nasie, taal, kleur, grootte, lengte, gewig, vermoë, status, jy is of het nie, God se son kom oor jou op. Maak nie saak hoe ver van die pad af jou pa, ma, kind, broer, suster, kollega of vriend is nie, God se son kom ook vir hulle op. Maak nie saak hoe ver of verskillend mense se taalgebruik van God af is of hoe woes hulle dade is nie, Sy son kom elke oggend, keer op keer, ook vir hulle op“Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen” (Matt. 5:45b).

Dit is presies wie ons God is, ’n God wat Homself nie kan keer nie en nie vrae vra wanneer Hy Sy genade uitstort nie. En vir my en jou as sondaars is dit die beste nuus ooit! Elkeen van ons moet besef dat God se genade nie grense het nie. Dis nie net vir Sy uitverkore volk nie, maar vir ons almal. Dit is ook nie beperk tot “goeie” mense nie, maar vir alle sondaars, ons almal wat oor die grense van die lewe foeter. Mag God ons krag gee. Mag Hy ons verstand vernuwe en ons help om planne te maak om teen die verkeerde dinge op te staan en die regte dinge te doen.

“God se genade is nie net ‘n geskenk nie, dit is ook ‘n verantwoordelikheid. Niemand kan doodgewoon voortgaan met ‘n onveranderde lewe nadat jy met God versoen is nie. Jy is nou ‘geklee’ in Jesus se heiligheid. Die deur na God is oop vir sondaars, maar nie sodat ons sondaars kan bly nie. Jy moet jou heiligheid lééf” (William Barclay).

Gebed: Here, soms voel dit vir my of U genade vir ander mense bedoel is, maar nie vir my nie. Help my asseblief om los te kom van al my skuldgevoelens, elke liewe een, sodat ek regtig vry kan wees! Here, daar is in my en elkeen van ons mense se lewe, plekke wat nie heeltemal binne U wil is nie. Ek besef ek moet iets daaraan doen. Vader, ek het U goedheid en U genade nodig. Neem my lewe in U hande. Vorm my en maak my soos U wil. Heilige Gees, help my om gehoorsaam te wees aan U stem wat my wil lei sodat ek sonder kolle sal wees die dag wanneer U weer kom. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page