top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS WORD TEENGESTAAN EN BELY. SY DADE VAN BARMHARTIGHEID TEENOOR JOOD EN HEIDEN.

(Matt. 13:54–16:20)


WAT ‘N MENS ONREIN MAAK (3).

(Mark. 7:14-23).


PLANTE WAT VAN WAARDE IS!


Matt. 15:12-14 – “Daarna het die dissipels na Hom toe gekom en gesê: ‘Weet U dat die Fariseërs hulle vererg het toe hulle gehoor het wat U sê?’ Maar Jesus antwoord: ‘Elke plant wat My hemelse Vader nie geplant het nie, sal uitgetrek word. Laat staan hulle maar; hulle is blinde leiers van blindes. As ‘n blinde ‘n blinde lei, val altwee in die sloot.”


Jesus het vroeër nie geskroom om die Fariseërs huigelaars te noem nie (15:7), en daarvan het hulle niks gehou nie. Hulle het Jesus uitgedaag deur die “oorgelewerde gebruike van die voorgeslagte” uit die Ou Testament oor wat rein en onrein is, aan Hom voor te hou. Deur Sy antwoord het Jesus hulle op hulle plek gesit, en daarmee het hulle heel moontlik, aansien verloor by die skare mense. Hulle was immers in ‘n groot mate die beskermers van die kerklike tradisie van daardie tyd. Mense het eerbiedig eenkant toe gestaan wanneer ‘n Fariseër net verby hulle loop.


Die mense en selfs Jesus se dissipels, het opgekyk na die Fariseërs, hulle was mense van aansien. Daarom is dit te verstane dat die dissipels bekommerd is oor die reaksie van die Fariseërs, dat “hulle hulle vererg het toe hulle gehoor het wat Jesus sê.” Jesus het egter lank gelede, met die begin van Sy bediening al gewys daarop dat “Hy nie gekom het om die wet van God en die profete ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry” (Matt. 5:17). Jesus het aan die godsdiensleiers helder en sterk die lig gewerp tot op watter mate hulle oorleweringe aanleiding gee. Dit is tot die tersydestelling van die wet van God. Met hulle byvoeging van reëls en hulle opvatting van die godsdienstige lewe, lei dit noodwendig tot die oortreding van God se Wet op feitlik elke terrein. Met Sy antwoord het Jesus die gesag van die wet van God beklemtoon, en daarby laat blyk dat Hy Homself heelhartig en bewustelik daaraan hou.


Onreinheid of reinheid kan dus nie ewe maklik aan die uiterlike navolging van ‘n klompie tradisies gemeet word nie. Dit is leuenagtige en voorgee-optredes wat die mens besoedel. Jesus antwoord Sy dissipels dan met ’n kort gelykenis wat sê dat hulle die Fariseërs moet uitlos, omdat hulle blinde leiers is. Hulle blindheid is juis dat hulle liewer aan mense se oorleweringe vashou as aan God se wet self. Juis daarom moet die dissipels hulle nie aan die Fariseërs en hulle reaksie steur nie. God het sulke mense nie geplant nie, en “elke plant wat God nie geplant het nie, sal uitgetrek word.” Sulke leiers beteken niks, en hulle godsdiens wat eerder die vroomheid in plaas van God dien, is vir ander van geen waarde nie.


Hoe meet ons ons eie godsdienstigheid? Met watter motiewe dien ons God? Miskien is die antwoord maklik: “Ek loop met ‘n sondelysie in my kop rond en wanneer ek dan voor ‘n bepaalde probleem te staan kom, soos byvoorbeeld om nie vleis by ‘n plek te koop wat halaal voedsel verkoop nie, dan doen ek dit nie. Solank ek al die godsdienstige voorskrifte nakom, is ek op die regte koers!” Die waarskuwing van hierdie vrome stryd teen alles wat sonde is, kan ontaard in ek wat só begaan is om allerlei dinge reg te doen, dat ek lankal nie meer die regte ding doen nie – ek kan só besig wees met die dinge van die Here dat ek nie meer met die Here van die dinge besig is nie.


Ons raak só maklik ‘n prooi vir die verkeerde motiewe om God te dien. Ek kan só besig wees met die instandhouding van allerlei godsdienstige gebruike, dat ek nie eers meer agterkom en vra waar en hoe God my wil gebruik nie. Ek mag Hom onder geen ander rede dien as enkel en alleen om Hom te verheerlik nie. Diens is vir Christene ook nie opsioneel en iets wat ons in ons skedules kan inpas as ons eendag tyd het nie.


Aan die einde van ons lewe op aarde, gaan die Here bepaal of ons “plante is wat Hy geplant het, en indien nie, sal ons plante wees wat uitgetrek word.” Op daardie dag gaan Hy vergelyk hoeveel tyd ons aan onsself bestee het, met wat ons aan diens vir Hom bestee het. Dan gaan al die verskonings vir ons selfgesentreerdheid maar hol klink: “Ek was te besig; ek het ander doelwitte gehad; ek was besig om ‘n loopbaan te skep.” Kom ons hoop dat God dan nie sal sê: “Jammer, verkeerde antwoord. Laat staan maar; jy is ‘n blinde leier van blindes. Ek het jou geskep, geroep, gered om ‘n lewe van diens aan My te wy. Watter dele daarvan verstaan jy nie?”


As ons nie dien nie, bestaan ons net. God wil vir my en jou gebruik om ‘n verskil in die wêreld te maak, Hy wil deur ons werk. Dié waarheid is só belangrik dat Hy dit vyf maal in die evangelies herhaal: “Wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou” (Mark. 8:35). Wat gaan jou antwoord wees? Is jy deel van die plante wat Hy geplant het of deel van die blinde leiers wat blindes lei?


“Jesus het opsetlik Sy rug gekeer vir alle idees van wêreldse mag, en iets heel nuuts vir die wêreld kom leer: ‘n Leier, ‘n Koning, wat dien!” (Arthur Adams).


Gebed: Here Jesus, dankie dat U aarde toe gekom het om nie gedien te word nie, maar om te dien. Help my om U voorbeeld te volg. Jammer dat ek baiemaal so blind is dat ek nie dinge wat ek vir U kan doen, raaksien nie, dat ander se nood by my verbygaan. Maak my deel van die plante wat U geplant het Here, sodat ek blymoedig vrug kan dra in die boord waar U my geplaas het. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page