top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS WORD TEENGESTAAN EN BELY. SY DADE VAN BARMHARTIGHEID TEENOOR JOOD EN HEIDEN.

(Matt. 13:54–16:20)


DIE OORGELEWERDE GEBRUIKE VAN DIE VOORGESLAGTE (1).

(Mark. 7:1-13)


TOEWYDING KOM UIT DIE HART, NIE MENSLIKE TRADISIES NIE!


Matt. 15:1-2 – “In dié tyd het daar Fariseërs en skrifgeleerdes van Jerusalem af by Jesus gekom en Hom gevra: ‘Hoekom verontagsaam u dissipels die oorgelewerde gebruike van die voorgeslagte? As hulle gaan eet, was hulle nie hulle hande nie.”


Vergelyk ook Rom. 14:16-18 – “Moenie dat die goeie wat julle het, ‘n slegte naam kry nie. Die koninkryk van God is nie ‘n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee. Wie op hierdie manier vir Christus dien, geniet die guns van God en die agting van die mense.”


Berigte van Jesus se optrede in Galilea het uitgekring tot in Jerusalem, die sogenaamde hoofsetel van die Joodse godsdiens van daardie tyd. Na ‘n lang afwesigheid, duik ‘n afvaardiging van Fariseërs en skrifgeleerdes, al die pad vanaf Jerusalem weer op. Hulle is nie Jesus-mense nie want hulle godsdienstige oortuigings en oogmerke, het presies teenoor mekaar gestaan. Jesus praat nie uit dieselfde godsdienstige mond as hulle nie.


As agtergrond en om ons geheue te verfris, moet ons onthou dat die Fariseërs deel was van die godsdiensleiers, wat ná die terugkeer uit ballingskap ontstaan het. Hulle het geglo dat God die volk laat wegvoer het omdat hulle Hom nie behoorlik gedien het nie. Om te verhoed dat só ‘n vreeslike ramp die volk weer tref, het die Fariseërs besluit om die wet nougeset na te kom en daarna gestreef om ‘n heilige volk te vorm wat gereed sal wees wanneer die Messias sou kom. Die skrifgeleerdes was van die min mense wat kon lees en skryf en het hulle as skrifkenners voorgedoen wat die wet in die sinagoges, voorgelees het.


Wanneer die Fariseërs en Jesus bymekaar was, weet ons dat daar ‘n konfrontasie op pad is. Soos verwag, het hulle krities 'n geleentheid gesoek en met heilige erns Jesus gevra “hoekom Sy dissipels die oorgelewerde gebruike van die voorgeslagte verontagsaam deur nie hulle hande te was as hulle gaan eet nie.” Die tradisie van die voorgeslagte dui hier op die interpretasies wat die Fariseërs mettertyd met tallose kleiner gebruike bygevoeg het by die Ou Testamentiese tekste. Die spesifieke tradisie van handewas, was nooit ’n voorskrif vir die volk nie, dit was vir die priesters in die tempel nodig dat hulle hande moes was sodat hulle rein kon wees om die tempelwerk te doen (Eks. 30:17-20). Die Fariseërs het dus die gewone mense se lewens aan bande gelê met ’n voorskrif wat net vir die tempel bedoel was, en toe deel gemaak as ongeskrewe reël vir die godsdiens van die Joodse volk.


Die probleem met dié optrede is nie dat die was van hande ‘n goeie (of slegte) gebruik is nie, maar dat hulle dit as ‘n gebod van God voorgehou het. Ons is immers van kleins af geleer dat jy hande moet was voordat jy eet, omdat vuil hande vol kieme is wat ʼn mens siek kan maak. En nou met Covid-19, is dit selfs doodsake. Die Fariseërs en skrifgeleerdes se ontsteltenis het egter nie oor kieme gegaan nie. Hulle het geglo dat sonde in jou lewe inkom as jy met hande wat nie gewas is nie, eet. Om presies dieselfde rede het hulle ook hulle koppies, borde en selfs stoele gereeld gewas (Mark. 7:4).


Wat hierdie godsdienstige leiers van destyds nie verstaan het nie, is dat sonde nie van buite af deur jou mond of neus of ore in jou liggaam inkom nie, nee, sonde kom van binne af. Ons dra ons sonde saam met ons. Ons is al vol sonde nog voordat ons gebore word: “Ek was al skuldig toe ek gebore is, met sonde belaai toe my moeder swanger geword het” (Ps. 51:7). Die teken van hande was wat bedoel was uit respek vir God, het verskuif vanaf God en ‘n ritueel geword.


Paulus gaan nog verder om te wys dat dit eintlik belaglik is dat gelowiges oor kleinlike dinge, die sogenaamde “kantlynsake”, hulle kan verknies en ontsteld raak. Hierdie bysake kan só maklik in hoofsake verhef word sodat ‘n skewe beeld van die evangelie later geskep word. Paulus sê dat die evangelie nie oor spys en drank, “’n saak van eet en drink is nie”, (en in hierdie geval selfs oor hande was voor ete) gaan nie, maar dat die koninkryk van God ons oorlaai met die gawes van “gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee.” Die “goeie wat ons het”, is die evangelie van Jesus Christus – Hy is die evangelie. Heelhartige gehoorsaamheid geskied met vrede, vreugde en geesdrif, wat uit die hart kom, nie noodwendig oor die “oorgelewerde gebruike van die voorgeslagte” nie.


Ons behoort ons “voortdurend af te vra of iets vir die Here aanneemlik is” (Ef. 5:10). Ons moet met ons gedagtes, woorde en gedrag só leef dat ons as mense van die lig, daardie lig weerkaats. As ligmense (Matt. 5:14), is ons nie stryers en bakleiers nie, maar mense wat harmonie en positiewe verhoudings behoort te skep; ons is nie mense wat ons oor nie-essensiële sake tot beginsels wil verhef nie, maar mense wat God se vrede najaag, mense wat vreugdevol dieselfde doel nastreef: Om God te laat glimlag, om God te behaag, “om die guns van God te geniet.” Dit gaan hier oor ons verhouding met God en ons houding teenoor die lewe vanuit ons verhouding met God: “En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor (ons) harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus” (Fil. 4:7).


“Die evangelie is nie net iets waarvoor jy kerk toe gaan om te hoor nie, maar iets waarvoor jy uit die kerk uitgaan om te gaan oorvertel en uit te leef” (Vance Havner).


Gebed: “Here, maak my ‘n instrument van U vrede. Waar daar haat is, laat my liefde saai; waar daar onreg is, vergifnis; waar daar twyfel is, geloof; waar daar wanhoop is, hoop; waar daar duisternis is, lig; waar daar droefheid is, blydskap. O Goddelike Meester, gee dat ek nie soseer sal soek om getroos te word nie as om te troos; om verstaan te word nie as om te verstaan; om bemin te word nie as om lief te hê. Want dit is deur te gee dat ons ontvang; dit is deur te vergewe dat ons vergewe word; en dit is deur te sterwe dat ons tot die Ewige Lewe gebore word.” Amen. (Gebed van St. Franciskus van Assisi).


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page