top of page

Gedagte vir Vandag


Mosaïek van brood en vis by TABGA waar volgens oorlewering die eerste vermeerdering plaasgevind het.

JESUS WORD TEENGESTAAN EN BELY. SY DADE VAN BARMHARTIGHEID TEENOOR JOOD EN HEIDEN.

(Matt. 13:54–16:20)


DIE EERSTE VERMEERDERING VAN DIE BROOD (2).

(Mark. 6:30-44; Luk. 9:10-17; Joh. 6:1-14).


GELOOFSTOETS!


Matt. 14:15-16 – “Toe dit al aand begin word, het sy dissipels vir Hom kom sê: ‘Dit is ‘n afgeleë plek en dit het al laat geword. Stuur die mense terug dat hulle vir hulle kan gaan kos koop in die dorpe.’ Maar Jesus sê vir hulle: ‘Hulle hoef nie weg te gaan nie. Gee julle vir hulle iets om te eet.’


Vergelyk ook Joh. 6:3-7 – “Jesus het toe teen die berg opgegaan en met Sy dissipels daar gaan sit. Die paasfees van die Jode was naby. Toe Jesus rondkyk en sien dat ‘n groot klomp mense na Hom toe aankom, sê Hy vir Filippus: ‘Waar kan ons brood gaan koop sodat die mense kan eet?’ Dit het Hy net gesê om hom op die proef te stel, want Hy het self goed geweet wat Hy gaan doen. Filippus antwoord Hom toe: ‘Twee honderd mense se dagloon is nie eers genoeg om elkeen van hulle ‘n stukkie brood te laat kry nie.”


Te midde van die skare mense wat hulle ingewag het toe hulle die oorkant van die See van Galilea bereik het, kon Jesus en Sy dissipels nie die stilte en rus wat hulle wou neem, geniet nie. Hy was dus eintlik net alleen terwyl hulle in die skuit op die see was. “Toe dit al aand begin word, het sy dissipels vir Hom kom sê dat dit al laat geword het”, m.a.w, dit was al tyd vir aandete. Volgens hulle kan daar nie aan die skare se behoeftes, selfs in Jesus se teenwoordigheid, voldoen word nie. Daarom moet die mense weggestuur word en vir hulleself in die dorpe gaan kos koop. Jesus maak duidelik dat, anders as wat die dissipels dink, die skare gehelp kan word. Maar die dissipels moet dit doen.


Jesus was nie van plan om van die mense ontslae te raak nie! Hy het totaal ander planne gehad. Volgens Johannes se vertelling van hierdie gebeure, het “Jesus toe rondgekyk en gesien dat ‘n groot klomp mense na Hom toe aankom, en Hy vir Filippus sê: Waar kan ons brood gaan koop sodat die mense kan eet?” Filippus het van Betsaida in daardie omgewing gekom, en sou weet waar om kos te gaan koop. Maar, die eintlike rede waarom Jesus hom die vraag vra, was om hom “op die proef te stel, want Hy het self goed geweet wat Hy gaan doen.”


Wat doen Filippus? Hy begin sommetjies maak. Die koste van kos vir selfs net ‘n deel van die skare, sou hulle klein begroting ver oorskry: Kyk hoeveel mense daar min of meer is; kyk hoeveel geld beskikbaar is; nee, ons gaan dit nie maak nie. Hy val terug op sy eie denke en bronne en sien die onmoontlikheid van die situasie. Filippus verloor sy fokus op Jesus en wat geloof per slot van sake is, om van die begin af op die lewende Jesus te fokus en Hom te vertrou. Hy konsentreer eerder op rekenkundige formules. Ja, Jesus kon wel lammes laat loop, blindes laat sien, maar om duisende kos te gee ... nee wag, dis bietjie vergesog. Filippus faal sy geloofsvertroue toets!


'n Groter wonder as die “vermeerdering van die brood” en vis, is die Here Jesus se liefde vir die massas wat Hom nie regtig wil volg nie. Hy wéét hulle wil méér wondertekens sien; Hy wéét hulle gaan Hom binnekort verlaat en verwerp; Hy wéét hulle gaan aandadig wees aan Sy dood! Ten spyte daarvan, gee Hy sóveel om, kry Hy hulle innig jammer want hulle is soos skape wat geen herder het nie. Sy liefde is só geweldig dat, ten spyte van hulle verkeerde motiewe, Hy steeds in hulle behoefte wil voorsien. Nooit stamp Hy iemand weg wat na Hom toe kom nie (Joh. 6:37). Hy maak tyd vir almal, Hy is nie geïrriteerd nie, Hy laat hulle nie aan hulself oor nie!


‘n Ander groter wonder is dat Jesus weet dat hierdie skare mense wat Hom volg, in ‘n oorlewingstryd gewikkel is. Die feit dat daar so baie is wat Hy moes genees, wys dat hulle stand van welvaart power was, dat hulle honger ly en daarom siek is. Hy gaan staan nie voor hulle en lewer ‘n roerende preek daaroor nie, Hy maak hulle eerstens gesond sodat hulle weer kan werk om self brood te kan voorsien. Tweedens wag Hy nie dat hulle selfvoorsienend raak nie, Hy vra dadelik vir Filippus: “Waar kan ons brood gaan koop sodat die mense kan eet?” Jesus is besorg oor mense wat in ‘n daaglikse stryd gewikkel is om siel en liggaam aanmekaar te hou.


“Twee honderd mense se dagloon is nie eers genoeg” om die mense te voed nie. Menslike berekeninge laat dit net nie toe nie. Maar nie Filippus se rekenkunde, of enigiemand anders s’n, was al groot genoeg om die krag van God se genade te bereken nie. Ek en jy is verseker óók van die mense wat besorg is oor dié wat broodgebrek ly. Menslik gesproke kan ons miskien ‘n verskil maak, indien ons selfs buite ons finansiële begroting spandeer.


Ons moet egter nie soos Filippus fokus verloor op Jesus nie. Jesus wil nie net help nie, Hy kán ook. Hy ken nie net ons broodnood nie, Hy ken ook die honger van ons harte. Hy is nie net besorg oor ons leë mae nie, maar ook oor ons leë harte. Hy ken die angs van elke eensame hart, elke bekommernis oor die realiteite van selfs hierdie virus-pandemie. “Ons hoef nie weg te gaan nie,” sê Jesus. Hierdie virus sal uitwoed, Covid-19 en ál ons ander probleme en bekommernisse, is reeds aan die kruis oorwin. Die sleutelverskil tussen wat vir ons onmoontlik lyk, is in der waarheid vir die Here moontlik. In die lig van die menslike onvermoë, word die vermoë van God juis groter.


“Dat die sorge van die lewe ons so verteer, het minder te doen met die omvang van ons probleme as met die omvang van ons onvermoë om God te vertrou” (Martin Luther).


Gebed: Here Jesus, kalmeer die verwoede onrus in my hart, bring my gedagtes tot bedaring en gee my te midde van die verwarring van die chaos wat hierdie virus-pandemie veroorsaak, daardie rustigheid wat net by U te vinde is. Ons het geen idee waar hierdie chaos wat die pandemie veroorsaak het, gaan eindig nie. Maar dankie Here dat ons nie soos Filippus hoef sommetjies te maak om te beplan wat ons gaan doen nie, U is steeds in beheer, U het reeds iets daaraan gedoen. Ons hoef nie die gevare en onsekerhede van die lewe alleen aan te durf nie, want U Gees is altyd by ons. Geloof in U my Heer, oortref alle verwagtinge. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page