top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE DERDE TOESPRAAK – “DIE KONINKRYKSREDE”: GELYKENISSE VAN DIE KONINKRYK.

(Matt. 13:1-53)


JESUS PRAAT MET DIE DISSIPELS – VERKLARING VAN DIE GELYKENIS VAN DIE ONKRUID.


SOEK GOD SE WIL IN JOU LEWE EN LEEF DAARVOLGENS!


Matt. 13:36-43 – “Daarna het Jesus van die mense af weggegaan huis toe. Sy dissipels kom toe by Hom en vra: ‘Verduidelik tog vir ons die gelykenis van die onkruid in die land.’ Jesus antwoord: ‘Hy wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens. Die saailand is die wêreld. Die goeie saad, dit is die mense van die koninkryk; die onkruid is die aanhangers van die Bose; die vyand wat die onkruid saai, is die duiwel. Die oes is die voleinding van die wêreld; dié wat oes, is die engele. Soos die onkruid bymekaargemaak en met vuur verbrand word, so sal dit by die voleinding van die wêreld wees. Die Seun van die mens sal sy engele stuur, en hulle sal uit sy koninkryk verwyder almal wat ander mense in sonde laat val, en almal wat die wet van God oortree, en sal hulle in die brandende oond gooi. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners. Dan sal die gelowiges in die koninkryk van hulle Vader skitter soos die son. Wie ore het moet luister.”


Jesus onttrek Hom van die menigte na die huis, waarskynlik in Kapernaum, waar Hy verder net met die dissipels praat. Op hulle versoek verklaar Jesus vir hulle die “gelykenis van die onkruid tussen die koring” en vertel nog vier ander gelykenisse, om die hart van Sy boodskap oor God se koninkryk wat naby hulle gekom het (Matt. 4:17), meer verstaanbaar te maak.


Jesus verklaar dat die boer of die eienaar, Hyself is. As “die Seun van die mens”, is Hy die eienaar van die saailand, wat die wêreld is. Die goeie saad is die kinders van die koninkryk terwyl die onkruid die kinders van die Bose is. Die oes is die voleinding van die wêreld waar die kinders van die Bose met vuur verbrand sal word (v. 42), en die regverdiges, die kinders van die koninkryk, sal skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader (v. 43).


Wat beteken Jesus se uitleg van die goeie saad en die onkruid vir ons? In die Vader se koninkryk is daar alleen ruimte vir die regverdiges wat in Sy heerlikheid deel. Jesus se woorde is nie ‘n klomp losstaande waarhede nie, maar vorm ‘n geheelbeeld oor Sy verwagtinge ten opsigte van ‘n heilige lewe. Jesus verwag van Sy dissipels, “die goeie saad van die koninkryk”, om hierdie lewenswyse te leef en toe te pas, ‘n lewenswyse van ‘n nuutgemaakte Christen wat as kind van God, onderweg is na die wederkoms en die ewige lewe. Daarenteen, sal Jesus Sy “engele stuur om die onkruid, oftewel, die aanhangers van die Bose, almal wat ander mense in sonde laat val en die wet van God oortree, bymekaarmaak en uit Sy koninkryk verwyder, en in die brandende oond gooi” (v. 38-42).


“Wie ore het moet luister” (v. 43b). Dit sal dwaas wees om ons ore te sluit vir Jesus se woorde, dit sal wees om ons huis op sand te bou of om agter vals leermeesters aan te karring op die breë weg. “Ons lewe nou deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal” (Gal. 5:25). Jesus onderstreep hier aan Sy dissipels, wat natuurlik alle gelowiges insluit, dat Hy nie net as “Seun van die mens” die nederige en genadige Dienaar van die Here is nie, maar ook die Here van die oes, die Regter van die eindgerig. Sy oordeel sal gebaseer word hoe mense reageer op Sy woorde. Dit beteken onder andere dat “almal verwyder sal word wat ander mense in sonde laat val”, hulle wat verantwoordelik is van mense se vals dissipelskap wat hier as ’n wesenlike bedreiging voorgehou word. Die kwaad sal egter nooit oorneem nie, inteendeel, God se koninkryk sal aanhou groei en toeneem, want die Bose is reeds oorwin!


Jesus het met elkeen van ons gepraat en ons gekonfronteer dat ons “Sy woorde gehoor het en daarvolgens moet handel” (Matt. 7:24). Ons moet hoor hoe ons moet leef om God se hart bly te maak want dit gaan oor lewe, die ewige lewe! Daarom is dit nodig dat ons ‘n keuse moet maak op Jesus se dringende appél. Dit is egter nie genoeg om Jesus se “lering van gesag” (Matt. 7:29) net te erken en te ken nie, jy moet dit ook uitleef.


Een van die grootste bates van Christenskap is dat die lewende Christus vir elke gelowige wat Hom deur die Heilige Gees as Saligmaker aanneem, ‘n geweldige inspirasie is. Daardie inspirasie wissel nie saam met jou emosies nie, maar is blywend vanweë Jesus se lewende teenwoordigheid. Kies vandag opnuut wie jy gaan volg! Dit sal bepaal waar jy die ewigheid gaan deurbring – óf as “gelowiges in ons Vader se koninkryk waar ons gaan skitter soos die son, óf in die brandende oond waar ons gaan huil en op ons tande kners” (v. 42-43).


“Geseënd is die gehoorsames; want God sal nooit toelaat dat hulle afdwaal nie”

(Franciskus van Sales).


Gebed: Here Jesus, ek het ook geluister na U woorde. Vir my is dit nie woorde van 2000 jaar gelede nie maar waarhede van nóú. Dankie dat ek nie soos die Jode van destyds ‘n massa reëls moet gehoorsaam nie. U verwag van my om van binne af buitentoe te verander en om heeltyd in nuwe verhoudings met ander mense en met God te staan. Dankie dat U vir my die voorbeeld kom stel het hoe om daaraan gehoorsaam te wees. Hervorm my hart sodat my verhouding met ander, elke dag gesien kan word in my woorde, dade en gesindhede. Hervorm my hart só dat ek met my héle hart U en my naaste kan dien. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page