top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE UITNODIGING WORD VERWERP DEUR DIE JODE.

(Matt. 11:2-12:50)

JESUS SE WARE FAMILIE.

(Matt. 12:46-50)

DIE MOEDER EN DIE BROERS VAN JESUS (3)

(Mark. 3:31-35; Luk. 8:19-21)

DOEN DIE WIL VAN GOD!


Matt. 12:50 – “Daar is my moeder en my broers! Elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is, dié is my broer en my suster en my moeder.”


Aan die einde van Jesus se uitsendingsrede van die twaalf dissipels (Matt. 11:1), het Jesus rondgegaan om die mense in hulle dorpe te leer, gesond te maak en vir hulle te preek. Die klem het gelê op die lewenskeuse wat die Joodse volk moes maak om Jesus as die Messias te aanvaar, en te glo dat Hy die Seun van God is. Hierdie lewenskeuse word vandag steeds aan elkeen gestel om Jesus as ons Redder en Saligmaker te herken en te erken en ‘n lewensoorgawe te maak. Ongelukkig weet ons ook, daar is mense, net soos die Joodse volk, wat Jesus Christus nooit sal erken nie, sommiges, net omdat hulle moedswillig wil “doof en blind” wees.


Waarom is daar soveel mense wat onseker is oor hulle Verlosser, soveel mense wat nie begryp wat die vrede van God is wat alle verstand te bowe gaan nie? God gee immers self aan elkeen die antwoord: “As jy maar aan my gebooie gehoorsaam was, sou daar voorspoed en redding vir jou gekom het, so onkeerbaar soos ‘n rivier, soos die golwe van die see” (Jes. 48:18). Teologiese kenners deur al die eeue heen, reken dit is mense wat ongehoorsaam is wat dit nie wil aanvaar nie. Iemand wat aan God ongehoorsaam is, kan nie geloof en vertroue in Hom hê nie, en dit is één van die dinge wat God van Sy kinders verwag.


Jesus het hierdie “nuwe familie” onmiskenbaar kom omskryf: “Elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is, dié is my broer en my suster en my moeder.” Om deel van God se familie te wees, is seker die hoogste eer en grootste voorreg wat elkeen kan ervaar. Met die koms van die Woord na die aarde, (Joh 1:14), besoek God die wêreldsmensheid om aan hulle die verligting van kennis van saligheid te bring, maar baie weier om die Woord te ontvang. Hulle besluit anders.


Daar is gelukkig uitsonderinge. Wie ontvang dan die lewe en die lig? “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word” (Joh. 1:12). Jesus Christus het ’n ander, nuwe weg geopen maar daar is twee vereistes: “almal wat Hom aangeneem het” en “dié wat in Hom glo” – hulle kan kinders van God word, hulle kan deel van God se gesin word.


Dit is elke mens se vrye keuse maar daar is nog ‘n Goddelike kant ook. Die Goddelike kant behels dat die mens moet glo, en geloof word deur God verwerk. “Dit is nie van nature nie, of as gevolg van menslike drange nie” (Joh. 1:13). Dit gaan terug na die werk van God deur die Heilige Gees en tot Sy ewige uitverkiesing. Hier lê die oorsprong van die mag, bevoegdheid of reg wat aan dié wat glo, gegee is om kinders van God te word.


Iemand het met reg gesê dat ons aardse families ‘n wonderlike gawe van God is, maar hulle is tydelik en broos en word dikwels deur slegte dinge en oplaas deur die dood, verbrokkel. Daarenteen gaan ons geestelike familie met God as ons Vader en Jesus Christus as ons broer, vir ewig duur! Dit is ‘n veel hegter band as bloedverwantskap, en die kersie op die koek is dat ons as kinders van God, deel het in die familiefortuin!


Dis nie wat ek maar sommer net sê omdat dit mooi klink nie, dit staan in die Bybel. Wat behels dié familiefortuin wat deel van ons gelowiges se erfenis is? Ons gaan vir ewig saam met God wees (1 Tess. 4:17); ons gaan volkome verander en soos Christus word (1 Joh. 3:2); ons gaan van alle pyn, dood en lyding verlos wees (Op. 21:4); ons gaan beloon word en posisies van diens ontvang (1 Kor. 3:8); ons gaan in God se heerlikheid deel (Kol. 3:4). Ek weet nie of julle saamstem nie, maar ek dink ons is veel ryker as wat ons dink.


Ons ewige erfenis is onskatbaar, permanent en word beskerm. Geen swak ekonomie, oorlog, natuurramp, Covid virus, regering-onteiening of wat ook al, kan dit vat of steel nie, want ons het mondig geword in God se testament om volwaardige kinders van Hom te wees, “en omdat ek Sy kind is, het God my ook Sy erfgenaam gemaak” (Gal. 4:7).


“Laat ander die genadige en liefdevolle God in jou raaksien. As kind van God is jy ‘n lewendige vergestalting van Sy liefde – deernis in jou glimlag, jou oë, jou woorde, jou aanraking. Moenie net jou hulp gee nie, gee jou hart!” (Moeder Teresa).


Gebed: Heilige Gees, maak my gehoorsaam aan die eise van my Vader sodat ek seker kan wees dat ek my kindskap en geloof en vrede in Hom mag vind. Ek loof en dank U Voorsiener-Vader vir die voorsiening van al my geestelike en liggaamlike behoeftes na die rykdom van U genade. Saam met Paulus bid ek dat U Here Jesus, diegene wat nog twyfel aan U as ons Verlosser, “se geestesoë so sal verhelder dat hulle kan weet watter hoop U roeping inhou, watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat U vir die gelowiges bestem het” (Ef. 1:18). Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page