top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE UITNODIGING WORD VERWERP DEUR DIE JODE.

(Matt. 11:2-12:50)


DIE FARISEËRS NEEM AANSTOOT DAT JESUS 'N DEMOON-BESETE PERSOON BEVRY.

(Matt. 12:22-32)


JESUS EN BEËLSEBUL (3)

(Mark. 3:20-30; Luk. 11:14-23; 12:10)


JESUS SE KRUIS BIND DIE DUIWEL VAS!


Matt. 12:27-29 – “En as Ek met Beëlsebul se hulp die duiwels uitdryf, met wie se hulp doen julle volgelinge dit dan? Julle eie volgelinge sal as julle regters optree en wys dat julle verkeerd is. Aangesien Ek deur die Gees van God die duiwels uitdryf, het die koninkryk van God inderdaad tot by julle gekom. Hoe kan iemand tog by die huis van ‘n sterk man ingaan en sy goed vat as hy nie vooraf die sterk man vasbind nie? Eers dan sal hy sy huis kan beroof.”


Jesus gaan voort om die mistasting van die Fariseërs se argument, teen hulleself te gebruik. As hulle Jesus se optrede aan Beëlsebul toeskryf, geld dieselfde mos ook vir hulle eie volgelinge, en dié gaan beslis nie met so ’n interpretasie gediend wees nie! Duiweluitdrywing, ook deur die Fariseërs se volgelinge, was in daardie tyd nie onbekend nie en was duidelik vir die Fariseërs nie onaanvaarbaar nie, hoekom dan nou. Die verskil egter tussen Jesus en die Fariseërs se volgelinge, is dat Jesus demone deur die kragtige optrede en hulp van God se Gees verwilder, wat tog ‘n aanduiding is dat God self tussen hulle aan die werk is, dat “die koninkryk van God inderdaad tot by hulle gekom het.”


Dit is opvallend dat Matteus hier vir die eerste keer die uitdrukking, “koninkryk van Gód”, gebruik. Ons moet onthou dat Matteus vir die Jode skryf en waarskynlik uit eerbied vir God se Naam, eerder die frase “koninkryk van die hemel” gebruik het, om sodoende te verhoed dat God se Naam nie misbruik word nie. Die “koninkryk van Gód” was inderdaad, onder andere die onderwerp van Jesus se optrede, en word hier in direkte kontras met Satan se koninkryk gebring. Jesus gebruik dan die beeld van die “sterk man”, in hierdie geval die duiwel, wat vashou aan goed wat nie syne is nie. Die duiwel glo mos verkeerdelik dat “al die koninkryke van die wêreld” syne is, daarom sou hy tydens Jesus se versoeking, dit vir Jesus gee indien Jesus sou neerval en hom aanbid (Matt. 4:8-9).


Die “sterk man,” alias satan, het “sy huis goed bewapen, en bewaak dit met sorg sodat sy besittings”, dit is die mense wat sy prooi geword het, veilig bewaar is. “Maar die Een wat sterker is het satan oorwin en al sy wapens (die bose geeste) van hom weggeneem, en “verdeel sy besittings as buit” (Luk. 11:21-22). Jesus het die sterk man, satan, vasgebind en sy huis figuurlik beroof. Jesus wat sterker is as satan, het letterlik die sondaars uit satan se mag bevry, Hy het dit wat aan “God se koninkryk” behoort, kom terugvat!


Wat Jesus gedoen het, het Hy vir elke gelowige gedoen. Hy bemagtig ons gewone mense wat daagliks met ons eie selfsugtigheid stry, om op Sy triomftog te loop terwyl satan maar net magteloos kan toekyk. Ons moet egter bereid wees om aan onsself te sterf soos die koringkorrel. Satan se besetting van die mens word dan opgehef en ons “ontkiem” in ‘n nuwe mens wat die blyplek word van die Heilige Gees – “Weet julle nie dat julle die tempel van God is en die dat die Gees van God in julle woon nie?” (1 Kor. 6:19). Ons is nou in Christus – “Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom” (2 Kor. 5:17) en in die Gees – “Omdat ons almal een liggaam geword het, is ons almal met die een Gees gedoop, ons is almal van die een Gees deurdrenk” (1 Kor. 12:13).


Die verleiding van die wêreld en satan se aanslae bly ongelukkig steeds realiteite in elke gelowige se lewe. Die sterf aan onsself soos die koringkorrel, ontkiem en groei in oorwinning oor die sonde want Jesus “het almal na Hom toe getrek” (Joh. 12:32). Wanneer Jesus ons “na Hom toe trek”, doen Hy ‘n beroep op ons om ons kruis op te neem en Hom te volg. Dit beteken om self “gekruisig” te word sodat die ou lewe, die ou self wat altyd soek na populariteit, gerief, eie wil, vervang word met God se wil en toe te laat dat Jesus Christus se opstandingslewe in, en deur die eie-ek ego kan werk.


Dit is nie genoeg om ‘n goue kruisie om die nek te hang en te dink alles is nou wel nie. ‘n Nekkruisie lyk miskien mooi maar dit bring nie die nodige skeiding tussen die ou en nuwe menslike natuur nie. Jesus se kruis beteken ‘n dieper verhouding met God! Jesus het “juis hiervoor gekom, vir hierdie uur, sodat ons Vader se Naam verheerlik kan word!” (Joh. 12:27). Laat God dus my en jou vreugde wees. Kom ons saai ons lewe in die hemelse landerye en wees verseker van ‘n oes van ewige vreugde!


“God's will meant the Cross and Jesus had to nerve Himself to accept it” (Johann Bengel).


Gebed: O Gees van God, laat die kruis elke dag ‘n muur tussen my en sonde bring. Dankie Jesus dat U aan die kruis my sondesmet afgewas het met U bloed. Die grootste wonder van U was die redding van my siel. Ek glo dit met alles van my! Laat U kruis dieper in my gaan, vorm my totale menswees: hoe ek kyk na dinge om my, hoe en wat ek praat! Verander my gedrag en denke sodat dit tot gevolg het dat ander U, in en deur my optrede sien. Laat my as ‘n Jesus-mens, met liefde in my hart en op my lippe leef. Vervang my wil met God se wil en laat Jesus Christus se opstandingslewe in, en deur my eie-ek ego werk. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page