top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE TWEEDE TOESPRAAK – DIE UITSENDINGSREDE.

(Matt. 9:35 – Matt. 11:1)


VERVOLGINGE WAT VOORLÊ (5)

(Mark. 13:9-13; Luk. 10:3; 21:12-17)


MOENIE TOU OPGOOI NIE!


Matt. 10:22 – “Julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word. Maar wie tot teen die einde toe volhard, sal gered word.”


Vergelyk ook Rom. 5:3-5 – “Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof en egtheid van geloof kweek hoop; en die hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.”


Tydens die seereis van die lewe bevind ons onsself soms op onstuimige waters terwyl die golwe van satan en sy bose trawante, onophoudelik poog om ons lewensbootjie stukkend te slaan. Jy voel asof alles en almal, selfs jou godsdiens, jou in die steek gelaat het. Jou swaarkry terwyl jy ‘n dissipel van Jesus wil wees, laat jou dan wonder of die prys wat jy daarvoor moet betaal, nie dalk te hoog is nie? Wag!! Moenie boedel oorgee nie, moenie tou opgooi nie, raak rustig en dink na oor die prys wat God gewillig was om te betaal om jou te red! Dit is moontlik dat jy deur die genade en leiding van die Heilige Gees, die sleutel tot hierdie “depressiedeur” kan vind!


Ons is as gelowiges, diep in ons wese, deel van Jesus se vrede, die vrede wat ons by die voet van die kruis ontvang het. Daarom is ons blydskapmense ten spyte van swaarkry en vervolging en kan ons saam met Paulus ons “ook verheug in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof en egtheid van geloof kweek hoop.” Hierdie hoop word op God se genade-aambeeld steeds sterker gesmee. Ons moet nie wonder daaroor nie, maar in verwondering dankbaar wees daaroor en onthou, Jesus het ‘n belofte daaraan bygevoeg: “Wie tot teen die einde toe volhard, sal gered word.”


Maar, dan neem die menslike twyfel, soos nou met COVID, weer oor en is ons geneig om te vra: “Wil Paulus ons nie net paai om te sê ‘ons verheug ons ook in die swaarkry want dit kweek volharding’ nie.” Paulus, hoe nou? Met respek, verheug is soos lekkerkry en lekkerkry en swaarkry, is twee teenoorgesteldes! Wat is lekker aan swaarkry? As jy dit so in die algemeen stel, klink dit asof ons moet lekkerkry wanneer ons swaarkry. Wanneer ons egter name by swaarkry voeg, raak dit moeilik – vreugde en eensaamheid; vreugde en hartseer; vreugde en kanker; vreugde en verwerping; vreugde en honger; vreugde en sonder werk; vreugde en lyding; vreugde en dood! Paulus, weet jy waarvan jy praat? Swaarkry laat ons so aan onsself oorgelaat voel, sonder God en sonder mense.


En Paulus antwoord beskeie: “Ja, ek weet waarvan ek praat. Vyf maal nege en dertig houe gekry; drie maal lyfstraf; een maal met klippe gegooi; drie maal skipbreuk gely; een maal dag en nag ín die oop see deurgebring; dikwels op reis en in gevaar; gevare van riviere; gevare van rowers; gevare van my volksgenote; gevare van heidene; gevare in die stad; gevare in die veld; gevare op see; gevare onder vals broers; harde werk en swaarkry; dikwels nagte sonder slaap; dikwels honger en dors; dikwels sónder kos, skuiling of bedekking teen die koue" (2 Kor. 11:24-27). Ek, Paulus, praat dus nie filosofies of teoreties oor swaarkry soos iemand wat hom probeer indink wat swaarkry behels en hoe dit lyk nie, ek kén swaarkry, maar ek hou vas aan Jesus se belofte: “Wie tot teen die einde toe volhard, sal gered word.”


Maar kom ons wees eerlik met mekaar, om te volhard of vas te byt, is nie altyd maklik nie; volhard in geloof is nie altyd maklik nie; om gedurende beproewing te bly glo, is nie maklik nie; om altyd die goeie en edele na te streef, is nie maklik nie.


Ons weet nie vir hoe lank ons moet bly volhard of vasbyt nie, want ons weet nie wanneer die einde is nie, selfs die einde van Covid nie. Ons ken nie die toekoms nie, maar ons ken Jesus wat die toekoms in Sy hand hou. Ons ken nie die pad van haat en vervolging wat ons moet loop nie, maar ons ken Hom wat die pad aandui. Al kan ons nie al die waaroms beantwoord nie, ken ons deur die geloof dié God wat al die antwoorde het in Christus Jesus. Tydens beproewing en lyding kan ons wel verheug en vol moed wees, hoop hê. Ons moet steeds bid, aanhoudend bid, dat ons tot die einde toe standvastig sal bly in die geloof, om uiteindelik die kroon van oorwinning te kry. Om Christen te wees is nie altyd maklik nie, “maar wie tot teen die einde toe (vasbyt), sal gered word.”


Hierdie kontras – vreugde te midde van haat en vervolging – is vir die wêreld onverstaanbaar. Dit is so omdat die wêreld nie vir Jesus Christus ken nie. Hulle is die pessimiste wat geen goed in die wêreld kán sien nie en soos doemprofete verkondig dat die toekoms omsluier is in verdoemenis en hulpeloosheid. Dit is hulle wat nie wil aanvaar dat Jesus Christus, die vol kruis en gruwel van “Donker Vrydag” in “Goeie Vrydag” omskep het, en daardeur God se almag soos nog nooit tevore, in ‘n kaal kruis van Paassondag verander het nie.


God het juis vir Jesus uit die dood opgewek om die sonde en die dood te oorwin en daarna die Heilige Gees vir ons gestuur om ons lewe as oorwinnaars in Christus te kan leef! Waar bevind jy jou: Wag jy nog by die kruis of beur jy aan na die anderkant van die leë graf van die opgestane Jesus? Kan jy vasbyt tot die einde toe? Sien jy die einddoel? Kan jy opstaan as jy geval het? Jesus Christus en Sy leë kruis, is die grond van ons hoop!


“Christus het die dag van Sy wederkoms versteek sodat ons gedurig in spanning moet verkeer en daarom op die uitkyk sal wees” (Martin Luther).


Gebed: Here, die wêreld om my is oorweldig met onrus en geweld wat werklike vrede net ‘n begrip maak en nie meer ‘n waarheid nie. Ons smag na vrede, daardie vrede wat van Uself kom. Dankie vir die innerlike sielevrede wat U aan my gee, ‘n vrede wat niemand van my kan wegneem nie want ek ken die Vredevors. Here, daarom bid ek dat U vir ons vrede gee in ons mooi land sodat ons opnuut u liefde, kalmte en vreedsaamheid sal ervaar. Verwyder die aggressie, onrus en liefdeloosheid van ons mense, hulle wat glo dat opstande en verwoesting van eiendom, ‘n oplossing sal bring. Skenk U vrede ook aan hulle. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page