top of page

Gedagte vir Vandag


WEENS ELEKTRIESE SUBSTASIE PROBLEME, KON ONS ONGELUKKIG NIE DIE E-KERK DAGSTUKKIES VANAF WOENSDAG, 29 APRIL TOT 1 MEI VERSEND NIE. OM KONTINUÏTEIT TE VERSEKER, GAAN ONS DUS VANDAG NET VOORT WAAR ONS DINSDAG, 28 APRIL OPGEHOU HET.


JESUS SE TWEEDE TOESPRAAK – DIE UITSENDINGSREDE.

(Matt. 9:35 – Matt. 11:1)


VERVOLGINGE WAT VOORLÊ (3)

(Mark. 13:9-13; Luk. 10:3; 21:12-17)


DIE GEES MAAK VAN ONS ONVERSKROKKE GETUIES!


Matt. 10:18-20 – “Ook voor goewerneurs en konings sal julle gebring word ter wille van My. Dit sal julle geleentheid wees om voor hulle en voor die heidennasies van My te getuig. Wanneer hulle julle uitlewer, moet julle julle nie bekommer oor hoe of wat julle moet sê nie, want op daardie oomblik sal God aan julle gee wat julle moet sê. Dan is dit nie julle wat praat nie, maar die Gees van julle Vader wat deur julle praat.”


Vergelyk ook Hand. 2:14 – “Toe staan Petrus saam met die elf ander apostels op en onder leiding van die Heilige Gees spreek hy die mense toe.”


Tiperend van Matteus word dit al hoe duideliker dat hierdie uitsendingsrede van Jesus, nie net vir die twaalf is nie, maar vir almal wat in Jesus se Naam uitgestuur word. Omdat Matteus sy lesers wil aanmoedig om hulle taak as getuies van Christus uit te voer, sluit hy dié gedeelte om die evangelie na die heidennasies te neem, hier in. Dit sien ons in die feit dat daar hier van “goewerneurs en konings” gepraat word aan wie die dissipels uitgelewer sal word, dat hulle voor “heidennasies sal getuig” en dat die “Gees van die Vader”, wat op dié punt nog nie uitgestort is nie, deur hulle sal praat.


Wat egter belangrik is, is dat hierdie vervolging plaasvind ter wille van Jesus, op grond van hulle en ons verbondenheid aan Hom. Hierdie belofte impliseer dat getuienis teenoor die heidene en hulle regeerders, ánder eise stel as teenoor die "verlore skape" van Israel. Jesus gaan verder deur hulle en ons te herinner dat die Gees ons sal toerus om juis ook in hierdie situasie te kan getuig. Vals dissipels spreek hulle eie woorde, terwyl gesante van Jesus, met Sy gesag deur die Heilige Gees gelei sal word en van ons, onverskrokke getuies sal maak.


As kinders van die Here word ons dikwels gekonfronteer met die uitdaging om te getuig oor Jesus, jou geloof in Christus met iemand te deel of deur ongelowiges oor jou geloof uitgedaag word. En dan is dit vir die gemiddelde Christen soms ondenkbaar om ‘n antwoord te waag. Vir baie Christene is godsdiens as ‘n gespreksonderwerp gewoon net uit die mode en taboe. Baie voel te skaam om oor hulle geloof te praat en maak dit af as ‘n private aangeleentheid. Wat ook al die rede is, is dit nie genoeg om daarvan weg te skram nie. Paulus sit in die gevangenis en sê vir die jong Timoteus en ons, “moenie skaam wees om die boodskap van die Here te verkondig nie” (2 Tim. 1:8).


Jesus self doen ‘n beroep op ons om elke geleentheid te gebruik om van Hom te getuig, “Hy sal vir ons die woorde en die wysheid gee wat deur geeneen van ons teenstanders teengespreek of weerlê kan word nie” (Luk. 21:15). En dan, Jesus het vir ons in die openbaar gesterf, daarom kan ons nie ‘n “geheime private gelowige” wees nie, inteendeel, ons moet aan die wêreld uitbasuin van die Grootste Liefde ooit!


Om Jesus te volg verg opoffering, dienslewering en volharding. Ralph Emerson, ‘n Amerikaanse filosoof, het gesê: “Wees net gehoorsaam. Daar is leiding vir elkeen wat sensitief luister, God sal die regte woord gee.” Nog wyse woorde kom van ‘n Amerikaanse teoloog, Lloyd Ogilvie: “Jou enigste taak is om jou denke in kalme verwagting oop te maak vir wysheid ver bo jou eie bekwaamheid. Ons is nooit uit ons eie opgewasse om genoegsaam te getuig nie. Dit is wanneer ons dink ons kan op onsself vertrou, dat ons in die moeilikheid beland. ‘n Christen is nie iemand wat vir die Here werk nie, maar iemand in en deur wie die Here werk. Ons is nie bedoel om vir God te praat nie, maar om ons tonge onder Sy beheer te plaas sodat ons die gedagtes wat Hy in ons plaas, kan uitspreek.”


Ons moet dus na die Gees luister voor ons praat. Ons raak maklik meegevoer deur lofprysing en sang en selfs ‘n “mooi” preek en neig dan tot oorgawe – “Ja Here, van nou af gaan ek enduit agter U aan loop en saam met U beweeg” – net om later uit te vind dit is moeilik om jouself prys te gee of soos Jesus, jou kruis op te neem. Om jou kruis op te neem is nie ‘n eenmalige heldedaad nie, dit is ‘n jare lange volgehoue doen van dade, liefde en opoffering wat dikwels heel onsmaaklik is – mens word inderdaad hemelse sout vir ‘n smaaklose wêreld! Deur die Here se bystand en genade, word ons geloof versterk in die wete dat Hy ons nooit sal vra om enigiets te onderneem sonder dat Hy daar sal wees om ons in staat te stel, én by te staan nie!


“Dit is maklik om eenmalig as bewonderaar waagmoedig agter Jesus aan te loop. Om Hom elke dag as Sy dissipel op droë grond te volg, is ‘n ander storie” (Oswald Chambers).


Gebed: Dankie God van hemel en aarde, dat ek kan vashou aan ‘n belofte wat ewigheidswaarde het, ‘n belofte dat “ek tot alles in staat sal wees, deur U wat my krag gee” (Fil. 4:13). Dankie Jesus dat ek ‘n lewe saam met U kan hê al is dit nie ‘n probleemlose aardse lewe nie. U maak egter die lewe vir my ‘n oorwinning, ten spyte van my probleme. Dankie o Gees dat U in my woon, nie om my van ‘n gemaklike lewe te verseker nie, maar juis om my in moeilike tye by te staan, dat U magtiger is as die gees van die wêreld. Ontvang die sleutels van élke vertrek in my huis, laat my stil word voor U en my opnuut toewy aan U. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page