top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE TWEEDE TOESPRAAK – DIE UITSENDINGSREDE.

(Matt. 9:35 – Matt. 11:1)


JESUS GEE OPDRAGTE AAN DIE TWAALF (2)

(Mark. 6:7-13; Luk. 9:1-6)


IN JESUS SE VOETSPORE


Matt. 10:7-8 – “Gaan verkondig: ‘Die koninkryk van die hemel het naby gekom.’ Maak siekes gesond, wek dooies op, reinig melaatses en dryf duiwels uit. Julle het dit verniet ontvang, gee dit ook verniet.”


Vergelyk ook 1 Kor. 14:1 – “Julle moet die liefde nastreef. Lê julle toe op die gawes van die Gees, (1 Kor. 12:7-11), maar veral daarop om God se boodskap te verkondig” (Die koninkryk van God).


Jesus se volgende opdrag aan Sy dissipels, is dat hulle moet preek. Dit is opmerklik dat dit dieselfde preek is wat Johannes die Doper in die woestyn (Matt. 3:2) en Jesus in Kapernaum (Matt. 4:17), gelewer het. En die tema daarvan: “Die koninkryk van die hemel het naby gekom.”


Die koninkryk van God het deur Jesus tot by elke gelowige gekom. Hierdie koninkryk is heeltemal anders as enige aardse koninkryk – dit mergel nie mense uit nie, Hy kry hulle jammer; hierdie Koning vererger nie mense se lewensomstandighede nie, Hy verlig hulle nood. Hoe moes die dissipels die nood gaan verlig? Jesus beklemtoon dat hulle taak nie net op prediking berus nie, maar op dade ook. Hulle moes spreekwoordelik in Jesus se voetspore volg en doen wat Hy tot dusver gedoen het: gaan “maak siekes gesond, wek dooies op, reinig melaatses en dryf duiwels uit” – dít was die mense wie Jesus so innig jammer gekry het, se grootste nood in daardie tyd.


Die mens kan siek en selfs dood wees in sy sondes. Sy wil om te oorleef word só deur die sonde afgetakel, dat hy later wens hy was eerder dood. Hy het blind geword vir die goeie en sy lus vir die lewe het in donkerte verval. Melaatsheid is beskou as ‘n besmetting van alles en almal om jou. Net so kan jou gedagtes, jou hart, jou woorde, jou dade, almal met wie jy in kontak kom, besmet. Jy is vrot van die sonde, deurtrek van die duiwel en sy invloed. Die duiwel het veroorsaak dat jy nie meer meester is van jou doen en late nie! Maar wanneer die koninkryk van God, deur Jesus, in jou lewe teenwoordig raak, ontvang jy “Sy Goddelike krag wat jou alles skenk wat jy nodig het” (2 Pet. 1:3a).


Jesus het aarde toe gekom en mens kom word en tussen ons kom woon (Joh. 1:14). Hy weet daarom hoe uiters nodig ons vertroosting het, veral in ons pyn en smart. Daarom het ons die belofte dat Hy deur sy Gees, altyd by ons sal wees. Hy vertroos die gebroke hart wat jou so siek maak; Hy versterk jou verslae gees wat dood was; Hy reinig jou van die besmetting van die sondes en lei jou tot oorwinning in elke lewensituasie. Hy gee ons krag in tye van versoekings van die duiwel en bring weer die belofte van ‘n nuwe dag in jou lewe, jy en ek wat pyn en droefheid ken en elke dag daarmee moet saamleef.


En die kersie op die koek is “dat ons dit verniet ontvang” – álles wat in God se koninkryk beskikbaar is, is gratis! God se koninkryk, en ek sê dit met respek, is soos ‘n “Makro-Supermark” waarvan God die Eienaar is. Die verskil is egter dat daar nie kasregisters is waar net die rykes kan betaal en die armes slegs “window shopping” moet doen nie. Daar is ook nie sekuriteit wat seker maak jy steek iets in jou sak nie. Inteendeel, jy kan soveel in jou sakke steek as wat moontlik is. Hoe meer sakke hoe beter! Dit is álles gratis, omdat Iemand klaar daarvoor betaal het! Moet asseblief net nie met leë hande of leë sakke daar uitstap nie, dis ‘n belediging vir die Eienaar!


Al wat jy nodig het om by Jesus se “supermark” in te gaan, is om in geloof jou hande na Hom uit te steek en jou sonde opreg te bely. Kry dan vir jou ‘n genadetrollie, of miskien twee, selfs drie, en vul dit met items wat Hy jou bied: liefde, genade, redding, sondevergifnis en die ewige lewe. In Jesus se “supermark” by die rak wat gemerk is: Galasiërs 5:22 en 23, is ook naasteliefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing te vinde. Neem daarvan soveel jy kan!


En voor jy by die deur uitstap, gaan maak net ‘n draai by die lang rak wat gemerk is: 1 Korintiërs 12:8 tot 11. Dit is die rak met nege gawes van die Gees wat jy as dissipel van Jesus nodig het om jou toe te rus om ander geestelik te kan bedien. En wanneer jy by die deur uitgaan, let dáár op die die bordjie wat lees: “Sonder God kan ons nie; sonder ons sal God nie.”


“As jy Jesus Christus in alle dinge met opregtheid soek, sal jy Hom waarlik vind; maar as jy jouself soek, sal jy jouself vind en dit sal jou eie groot verlies wees” (Thomas Kempis).


Gebed: Here Jesus, al kan ek U nie sien nie, wéét ek U is die Woord wat mens kom word het en onder ons kom woon het. Toe U opgevaar het na ons Vader toe, het U my nie as ‘n weeskind agtergelaat nie, maar U Gees gegee om my te vertroos, te versterk en my krag te gee om ‘n kragtige getuie vir U te wees. Dankie dat ek U kan ken en kan wéét dat álles wat in die Skrif oor U geskryf is, die waarheid is! Here Jesus. Ek gee myself in U diens sodat ek deur die werk van die Heilige Gees in my, U Naam kan verheerlik. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page