top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE TWEEDE TOESPRAAK – DIE UITSENDINGSREDE.

(Matt. 9:35 – Matt. 11:1)


JESUS STUUR DIE TWAALF UIT – DRAERS VAN DIE GOEIE NUUS (4).

(Mark. 3:13-19; Luk. 6:12-16)


GEROEP TOT KONINKRYKSDIENS!


Matt. 10:1 – “Jesus het sy twaalf dissipels nader geroep en hulle mag gegee om bose geeste uit te dryf en om elke soort siekte en kwaal gesond te maak.”


Vergelyk ook Hand. 1:8 – “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees …”


Nadat Jesus Sy dissipels, Petrus en Andreas, Johannes en Jakobus asook Matteus, die opdrag gegee het om “tot die Here te bid aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes” (Matt. 9:38), roep Hy nog sewe manne vir hierdie taak en rus hulle toe om daarna in sy Naam op te tree. Terwyl hulle nog toegerus en in die waarheid onderrig word om aan hierdie besondere roeping te voldoen, word hulle nog dissipels genoem. As toegeruste dissipels word hulle waardige getuies van Hom en word hulle apostels genoem. ’n Apostel is iemand wat gestuur is om met volmag, namens sy sender op te tree. In hierdie geval is hulle Sender natuurlik Jesus en moet hulle met dieselfde gesonde leer wat hulle van Hom ontvang het, ook ander gaan leer.


Die doel waartoe hulle geroep word, is drieledig; daarom is ook hul ampstoerusting drieërlei. Eerstens moet hulle gebonde wees aan Hom: “As iemand agter My aan wil kom (‘n dissipel wil wees), moet hy homself verloën (ontslae raak van eiegeregtigheid), sy kruis dra en My volg” (Mark. 8:34). Tweedens, om uitgestuur te word om die Evangelie van die Koninkryk te verkondig (vandaar die ampsnaam as apostel). En derdens, om mag te hê oor die “bose en elke soort siekte en kwaal gesond te maak.”


Ons het reeds gesê dat ons lewende Christus roep vandag nog, deur sy Heilige Gees, mense om hulle lewe toe te wy aan Hom sodat Hy hulle kan gebruik om Sy blye boodskap te versprei. En dadelik hoor ek die verskonings, want meeste mense is huiwerig wanneer hulle net daaraan dink dat hulle vir Christus moet getuig. Hulle word lamgelê deur die oorweldigende verantwoordelikheid daarvan. Die mees algemene vraag wat by hulle opkom, is: “Wie? Ek?” En dan antwoord hulle sommer hulself: “Nooit! Ek het te veel foute!”


Elke outjie het ’n foutjie. Party van ons het ’n hele paar en om dit in ’n verkleiningsvorm te gebruik, doen redelik afbreek aan die waarheid. Ja, die meeste van ons sukkel met ’n stuk sonde wat te gereeld by ons lewe se voordeur opdaag. Ons weet ons moet dit nie inlaat nie, maar helaas, as ons weer sien, sit ons lekker saam en kuier. Net om die volgende oggend weer op te staan met ’n vretende gewete en massiewe skuldgevoel. Dan belowe ons hand en mond dat ons nooit weer oor dié tou sal trap nie. Maar ai, as ons ons weer kom kry ...!


Dit is ‘n algemene aanvaarde feit dat wanneer jy op jou eie vermoëns vertrou, jy min of selfs geen sukses sal behaal nie. Jesus self het immers gesê: “Sonder My kan julle niks doen nie” (Joh. 15:5b). Maar Jesus het ons ook verseker dat alles vir God moontlik is, en hierin lê die antwoord opgesluit om nie op jou ou weë aan te karring nie. Ons hoef nie teoloë te wees om die Bybel te kan gebruik om ander te help nie. Deur net jou eie ervaring te deel, maak jy ’n verskil en bring jy hoop vir ander. Ou Paulus leer ons wat nodig is om wel diensbaar te kan wees, ongeag ons tekortkominge, dis om “vas te hou aan die betroubare Woord waarin ons onderrig is. Dan sal ons in staat wees om ander aan te moedig en die argumente van teenstanders te weerlê” (Titus 1:9).


Dalk dink jy dat jou lewe nie goed genoeg is om as voorbeeld te gebruik om ander op die verlossingspad te help nie, maar dink weer. Dit hang nie van jóú af of jy ander daardeur kan help nie, maar van die Heilige Gees! Deur juis eerlik te wees en jou probleem te deel, kan die ander persoon daarmee identifiseer. Die Heilige Gees soek net ’n voertuig om ’n stuk bagasie by die een wat daar langs jou werk of by jou is, te gaan haal. Die Heilige Gees is die Een wat die werk doen. Hy soek net jou bereidheid. Hy doen die res. Moenie stilbly oor die manier waarop jy saam met God stap nie. Dit is dalk net die antwoord wat die ander ou langs jou al vir so lankal soek!


Jesus se hulpmiddels om aan te kondig dat God se nuwe wêreld aangebreek het was “lewende woorde.” Die Gees staan gereed om jou en my te omgord met Sy krag sodat ons Sy kragtige getuies kan wees – net daar waar Hy ons geplaas het om te leef en te werk. Ons moet net bereid wees om ons hart en denke oop te maak vir Sy genadige invloed en wysheid en naby genoeg aan Hom wees om Hom te kan hoor. Die Gees sal ons lei in wat ons moet sê, dit is dus nie nodig om met verskoning-taal bo-oor Jesus se “lewende woorde” te skryf nie! Dus, vir dié van ons wat verskoning het ons kan nie, ons het te veel ysters in die vuur, my vriend en vriendin, God is nie ‘n yster nie, Hy is die vúúr. Dit is in daardie Vuur waar ons ysters moet in wees!


“Ons taak as leke is om ons verhouding met Christus met soveel intensiteit uit te leef dat dit aansteeklik sal wees” (Paul Tournier).


Gebed: Here, ek wil U dien en van U getuig. U het so baie vir my gedoen dat ek nie anders kan as om binne U wil te lewe nie. Help my Vader deur U krag en genade, want ek sukkel. Laat U Gees my lei, my vertroos en my versterk, asseblief, dis al wat sal werk. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page