top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE GESAG IN SY WONDERDADE.

(Matt. 8:1 tot Matt. 9:34.)


DIE GENESING VAN TWEE BLINDES (2).

(Vgl. Matt. 20:29-34)


GEESTELIKE BLINDHEID!


Matt. 9:27-31 – “Terwyl Jesus daarvandaan verder gaan, het twee blindes Hom gevolg. Hulle het aanhoudend geskreeu: ‘Ontferm U tog oor ons, Seun van Dawid!’ Jesus het in die huis ingegaan, en die blindes het daar na Hom toe gekom. Hy vra toe vir hulle: ‘Glo julle dat Ek dit kan doen?’ ‘Ja, Here,’ antwoord hulle Hom. Toe raak Hy aan hulle oë en sê: ‘Wat julle glo, sal gebeur.’ Hulle kon toe sien, maar Jesus het hulle baie streng beveel: ‘Hiervan moet niemand hoor nie.’ Maar toe hulle daar weg is, het hulle in daardie hele omgewing van Hom vertel.”


Vergelyk ook Ps. 27:1 – “Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees? Die Here is my toevlug, vir wie sou ek vrees?”


Jesus verlaat Jaïrus se huis en twee blindes volg Hom terwyl “hulle aanhoudend skreeu: ‘Ontferm U tog oor ons, Seun van Dawid!” Jesus kon net ‘n woord gespreek het en hierdie twee blindes sou onmiddellik, weer kon sien. Hy besluit egter om hier anders te werk te gaan. Hy lei hulle eintlik om Hom te volg tot binne ‘n huis, waar Hy hulle blindheid wegneem en spreekwoordelik, in ‘n nuwe lewe inlei. Hy bring lig en vul hulle harte met liefde waar daar vroeër geen liefde was nie; Hy laat geloof ontwaak waar daar net ongeloof was sodat mense vir God en ander mense op ‘n nuwe manier kan raaksien; net so verwyder Jesus die skille van my en jou oë af sodat ons uit ons blindheid van ongeloof ontwaak en Jesus erken as die “Lig en Redder” van ons lewe!


Hierdie twee manne was moontlik van geboorte af blind, ons weet nie. Hulle het nog nooit hulle ouers of selfs hulleself “gesien” nie. Hulle kon nog nooit enigiets sien nie! Plaas jouself in hierdie manne se skoene. Gaan in ‘n pikdonker vertrek in en sluit jou oë dig toe. Wat sien jy? Niks! Dit is wat hulle gesien het – NIKS, NOG NOOIT IETS GESIEN NIE! – hulle het in ‘n wêreld van niks en donkerte geleef. Al wat hulle kon doen is om elke dag te gaan bedel. Hulle het seker nie eers daaraan gedink dat hulle gesond kan word nie. Hulle kon niemand sien nie, maar die Here sien hulle: “Die Here kyk uit die hemel en sien al die mense. Van waar Hy as koning sit, sien Hy almal wat onder op die aarde woon” (Ps. 33:13). Dit is die lewende Jesus wat hulle sien en reageer! Hulle kon nooit sien nie en skielik word nie net hulle oë fisies geopen nie, hulle geloofsoë open ook: “Ja Here, ons glo!”


Is baie van ons nie dalk ook blind gebore nie? Of dalk kan ons sien, maar eintlik is ons blind? Is dit nie dalk moontlik dat moeilike omstandighede ook ons insig en geloof vervlak het dat die worsteling nie net ons oë verswak het nie, maar ons oordeelsvermoë ook? So verswak het dat ons byvoorbeeld gedurende hierdie COVID-19 pandemie, ook vra: “Waar is God nou?” Ek blaai eendag in ‘n bekende Christelike boekwinkel deur ‘n boek met die titel: “When bad things happen to good people”, en lees ‘n paar opmerkings wat die skrywer daar oor hulle kind, wat aan ‘n ongeneeslike siekte ly, te sê het. Ek kan nie eers onthou wie die skrywer is nie, maar dit wat hy skryf, hinder my, laat my wonder.


Die duiwel plaas vrae in my kop wat my angstig laat sidder. Waar was God toe duisende Boervroue en magtelose kinders in Engelse konsentrasiekampe gesterf het? Waar was Hy toe miljoene Jode deur die Duitsers o.a. in gaskamers doodgemaak is? Waar was Hy met Sharpeville? Waar was Hy met 9/11? Waar is Hy wanneer moordenaars, onskuldiges op plase aanval en vermoor? Waar was Hy toe ‘n geliefde in ‘n ongeluk gesterf het; tsoenami’s; Marikana; broodwinners hulle werk verloor; politici daagliks voortgaan met korrupsie en daarmee wegkom; COVID-19, ... en ... en? Hierdie vrae is so oud soos die mens self. Maar dis ‘n mosie van wantroue teenoor God! As iemand my sou vra “Waar is God nou?”, sou dit nie moeilik wees om ‘n eerlike antwoord te gee nie!


Die antwoord kom onwillekeurig – God sit nie êrens onbetrokke in die hemel en toekyk wat met ons gebeur nie. God het ‘n plan gemaak, Hy het sélf mens kom word! ‘n Medemens wat deur die duiwel versoek is; saam gehuil het toe Sy vriend Lasarus dood is; aan ‘n kruis Sy eensaamheid met Sy laaste lewensasem uitgestotter het: “My God, My God, waarom het U my verlaat?” My Jesus wat uit die dood uit opgestaan het en by my staan, deur dik en dun, selfs tot binne in die graf in en weer anderkant uit! Ek kan nie en ek mag nie vra waar is God of waar was Hy nie? Kyk na die kruis!!! Dít is waar Hy was, en nou is Hy by ons: “Immanuel – God by ons!!"


Die vraag is nou: “Waar is jy?” (Gen. 3:9); waar is ons? Kruip ons steeds soos Adam en Eva agter vyeblare weg as gevolg van ons sonde, of erken ons Jesus Christus wat God se lig is in ‘n wêreld van duisternis omdat Hy ons oë oopmaak om die duisternis te sien, te herken en iets probeer doen om die duisternis te verdryf in hierdie donker wêreld. Jesus is bý ons! Jesus staan nou voor jou en my en sê vir ons: “Glo julle dat Ek dit kan doen? Julle sien My. Dit is Ek wat met julle praat (Joh. 9:37); Ek is die Lig vir julle wêreld, die Krag wat julle nodig het vir al julle take en die Gids vir julle pelgrimstog deur hierdie donker lewe. Maak oop julle oë en sien My in ‘n nuwe lig en julle sal alles anders sien en ervaar.” Glo dit! Vertrou dit!


Jesus konfronteer elkeen van ons om ‘n keuse te maak: Om Hom geestelik te sien en die lewe te ontvang of vir ewig in ‘n geestelike duisternis te lewe. Indien ons antwoord: “Ja, Here,” sal Hy ons oë aanraak en sê: "Wat julle glo, sal gebeur.” Dit is oor Jesus Christus wat alles gaan! God is steeds besig om magtige dinge in die lewens van gewone mense soos ek en jy te doen. Ons het oë nodig wat deur God oopgemaak is om Jesus en die Gees se teenwoordigheid te herken en Sy heerlikheid te aanskou. Dit is Sy liefde, genade, barmhartigheid en reddende almag wat bepaal of jy sal kan “sien” of “blind” bly. Ken Hom en bly standvastig met vertroue, by Hom. Is jy bysiende, versiende of sien jy ‘n paar blinde kolle? Wil jy sien of wil jy blind bly?


“Ons kennis van God moet noodwendig lei tot ‘n intiemer verhouding met Hom, anders loop ons gevaar om blind te bly” (Douglas Rumford).


Gebed: Jesus Christus, “U wat in die gestalte van God was, wat nie U bestaan op Godgelyke wyse beskou het as iets waaraan u moes vasklem nie, maar Uself verneder het deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan ons mense gelyk te word” (Fil. 2:6-7), dankie, dankie, dankie! Dankie dat U nie net liewe Jesus gebly het wat eeue gelede in Palestina rondgeloop het en mense gesond gemaak het nie, aan hulle geraak het, met hulle gesels het en toe van die aarde af verdwyn het nie. Dankie dat U steeds God is, my God wat ek nie êrens daar bo tussen die miljoene sterre of hier onder êrens in die donker dieptes, hoef te soek nie. Ek weet waar U is – hier reg langs my! Hou my oë oop sodat ek U elke dag in ‘n nuwe lig kan sien en ek alles anders kan ervaar. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page