top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE GESAG IN SY WONDERDADE.

(Matt. 8:1 tot Matt. 9:34.)


DIE VROU MET BLOEDVLOEIING (3)

(Mark. 5:21-43); (Luk. 8: 40-56)


JESUS SE HAND IS OP JOU SKOUER!


Matt. 9:20-22 – “’n Vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het, het nader gekom en van agter af aan die soom van sy klere geraak. Sy het vir haarself gesê: ‘As ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word.’ Jesus het omgedraai, haar gesien en gesê: ‘Wees gerus, dogter, jou geloof het jou gered.’ Van daardie oomblik af was die vrou gesond.”


Wat was hierdie vrou se aandeel tot haar genesing? Sy het geglo Jesus sal haar gesond maak! Sy het onwankelbaar haar geloof net in Jesus as haar Geneesheer geplaas, en na Jesus gegaan! Vergun my asseblief, om in my amp as gelowige, ‘n stukkie getuienis wat aansluit by hierdie vrou se vertroue en geloof, met julle te deel. Die afgelope twee weke het ons gesin se lewensdrome en ideale, feitlik ineengestort. ‘n Besoek aan ‘n uroloog en daaropvolgende toetse, wat ‘n MRI skandering insluit, lei tot hospitalisasie vir verdere ondersoeke en biopsie. Kleingeloof neem oor terwyl ek na die narkotiseur luister wat my ‘n goeie slaap toewens. My gedagtes is ‘n warboel van twyfel en gedagtes van vrees: “Maar Here, ek en my vrou wil nog saam oud word; ek wil só graag nog my kleinkinders sien grootword; ek wil nog … Here, ek is bang!” En die narkose knip ál die voornemens kort …!


Terug in die hospitaalkamer wag ek angstig op die uroloog om sy bevindinge te kom meedeel. Daar op die hospitaalbed kyk ek skielik met ander oë na die lewe. Daar is nog só baie dinge wat ek wil doen. Wat as die biopsie wel bepaal dat dit kanker is? Ek dink aan my mense wat ek lief het en wat ek dalk binnekort gaan verloor, ek dink aan …, en die duiwel gaan rustig voort om twyfel in my geloof te saai, en ek luister so wrintiewaar na hom. Maar dan onthou ek Jesus se woorde aan Jaïrus: “Moet jou nie ontstel nie. Bly maar net glo!” (Mark. 5:36) en aan hierdie vrou “Wees gerus, dogter, jou geloof het jou gered.” Ek dink ook aan die Hebreërskrywer se woorde: “As ’n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.” (Heb. 11:6). Ek moet gló …!


Dan saai die uroloog wéér twyfel in my gemoed: “Ons behoort teen Donderdag die uitslag te kry van die verskeie biopsies wat ek geneem het. Ek sal julle kontak.” Net dit! En dit is vandag eers Maandag, Donderdag is nog so ver die toekoms in! Die lewe is nie regverdig nie. Die lewe is nie altyd teerpad nie. Soms word ons op ’n grondpad gegooi en baie keer nie eers weens ons eie toedoen nie. Wanneer omstandighede ons ongevraagd op hierdie roete druk, is die natuurlike gedrag wat kop wil uitsteek, om te skop en skree. Ons is menslik en sal bang en angstig raak al weet ons God sal na ons omsien. “Here, maak my tog bewus van U teenwoordigheid by my”.


Maar vir kinders van God is dit nie die regte koers om in te slaan en te twyfel nie. Dis belangrik dat ons eers rustig raak en by God gaan sit om ontslae te raak van die emosies. Jy sien, wanneer ons planne maak terwyl emosies ons vooruit hardloop, is die kans goed dat ons van koers gedruk word. Wanneer ons rustig is en deur die wysheid blaai wat ons al deur die jare van God en Sy Woord geleer het, kan ons reageer en optree binne die wil van God en kan ons bo-menslike krag kry. Buitendien, God is reeds vooruit en Hy wag al vir my by Donderdag.


Ons ontvang krag om te wag dat Donderdag aanbreek, en trane van blydskap vryelik vloei wanneer die uroloog aan die anderkant van die foon sê: “Jy is werklik een van die gelukkiges. Daar is wel baie aktiwiteite, maar geen kwaadaardige gewasse teenwoordig nie. (En hier neffens my fluister ‘n emosie belaaide Renette: “Dankie Here!”) "Medikasie behoort die huidige ongesteldheid, volkome te genees!” Dankie Here vir U genade! Dankie dokter vir u vertroosting! Dankie Here dat U teenwoordig is by My, dat U Maandag al, my vooruit geloop het, U hand op my skouer geplaas het en reeds hier by Donderdag, vir my gewag het om vertroosting te gee!


Geloof in Christus Jesus is ‘n keuse, ‘n keuse om die gawe wat die “Vader aan my gegee het” (Joh. 6:65), te aanvaar. Geloof is my twee hande wat ek in afhanklikheid, uitstrek na God toe om Sy genade-aanbod vir my toe te eien!!! Geloof is ‘n woord met ‘n ware geskiedenis, ‘n geskiedenis met die onwrikbare sekerheid van God se genade en alomteenwoordige liefde, van Sy Seun aan ‘n kruis, van ‘n leë graf, die uitstorting van die Heilige Gees en ‘n ewige lewe! “Geloof sien die onsienlike, glo die ongelooflike en ontvang die onmoontlike” (C.S. Lewis). Neem vandag ‘n oomblik en raak stil, luister na God se stem … wat is dit wat Hy vir jou sê? Is dit nie dalk tyd dat jy sy soom aangryp en jou erns in jou geloof wys en toepas nie?


“Dank God vir die feit dat jy lewe, want die lewe is nie net lig en nie net duisternis nie, nie net wit en nie net swart nie, nie net blink en nie net dof nie. Die lewe is soos die see met sy getye. Soms stoot dit in, soms trek dit weer terug. Wag vir die gety. Dit sal weer inkom” (I.L.de Villiers).


Gebed: Ewige Vader, dankie dat U my skuilplek is teen storms, siekte, en ja, selfs die dood. Dankie dat ek U kind kan wees, ek loof u Naam daarvoor. Ek is van U afhanklik vir alles wat ek in die lewe nodig het, veral my gesondheid. Dankie dat ek elke dag en nag U ondersteunende teenwoordigheid ondervind, dat U selfs rééds vir my dáár wag, waarheen ek ook al op pad is. Ek loof U dat U my vooruit loop en vir my die lewe moontlik gemaak het. Here, laat my nooit U hand los nie, want soos ‘n kind het ek opnuut geleer om by U veilig en gelukkig te voel. Gee dat ek nooit sal ophou om bewus te wees van U teenwoordigheid by my nie. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page