top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE GESAG IN SY WONDERDADE.

(Matt. 8:1 tot Matt. 9:34.)


DIE VROU MET BLOEDVLOEIING (1)

(Mark. 5:21-43); (Luk. 8: 40-56)


DIE WAAGMOED VAN GELOOF!


Matt. 9:20-22 – “’n Vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het, het nader gekom en van agter af aan die soom van sy klere geraak. Sy het vir haarself gesê: ‘As ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word.’ Jesus het omgedraai, haar gesien en gesê: ‘Wees gerus, dogter, jou geloof het jou gered.’ Van daardie oomblik af was die vrou gesond.”


Vergelyk ook Lev. 15:25 – “As ‘n vrou ‘n bloedvloeiing het buite haar menstruasietyd of as die bloedvloeiing tydens menstruasie abnormaal lank aanhou, is sy onrein solank die bloedvloeiing duur.”


Op pad na Jaïrus se huis, kom ‘n “vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het”, en te midde van die gedrang van die groot menigte wat Jesus gevolg het, “druk sy haarself in” om by Jesus uit te kom. Jaïrus het seker ‘n dringende behoefte gehad om Jesus by sy kind te kry, en nou kom hierdie vrou en sorg vir ‘n oponthoud wat hom moontlik ongeduldig gelaat het. Hy was haastig maar Jesus stop eers om tyd aan hierdie desperate siek vrou af te staan!


Haar desperaatheid het haar na Jesus geneem, want sy het gewéét: “As sy maar net aan sy klere kan raak, sal sy gesond word.” Vir 12 jaar was sy alleen, iemand wat uit die samelewing verwerp was want vrouens met sulke siektes, was deur die ander Jode as onrein beskou (Lev. 15:19-30). Vir 12 jaar het hierdie siekte haar nie net van haar liggaamskragte gestroop nie, maar finansieel ook geruïneer: “… alles wat sy gehad het, het sy aan talle dokters bestee” (Mark. 5:26). Sy was dus moontlik op straat en ook nie in ‘n posisie om enige fondse te genereer nie, want alles waaraan sy sou raak, sou onrein wees. Haar situasie was vir 12 jaar hopeloos, geen toegang tot die tempel, niemand om haar eers ‘n drukkie te gee nie … behalwe Jesus: “As ek maar net …”


Op grond van wat sy van Jesus gehoor het, verwag sy van Hom stellige genesing. Die getuienis aangaande Hom het by haar die geloof gewek. Tussen die skare gaan sy waag om net “aan Sy klere te raak” en dan padgee. Jesus sou dit nie eens agterkom dat ‘n onrein vrou aan Hom geraak het nie want “die mense het van alle kante teen Hom gedruk” (Mark. 5:31). Die geloof van die vrou is nie beskaam nie. Die genesing is volkome; selfs die oorsaak van die kwaal is weggeneem: “Die bron van bloedvloeiing het dadelik opgedroog” (Mark. 5:29).


Sy het egter verkeerd gedink. Niemand wat van Jesus redding ontvang, kan verborge bly nie. Hy weet wat gebeur het, en vra wie Hom aangeraak het, nié om daardeur die vrou in die verleentheid te bring nie, maar om God te loof en te dank. Haar aanraking was nie toevallig nie, maar ’n geloofsdaad, en Jesus wil dit aan die lig bring. Die vrou besef dat sy voor die oë van die Here nie verborge kan bly nie. Haar vreugde verander in groot angs want sy het die wet oortree om met haar onreine toestand, én in die openbaar, aan ‘n vreemde man te raak.


“Die vrou het geskrik en staan en bewe, val voor Jesus neer op haar knieë en vertel Hom haar hele geskiedenis” (Mark. 5:33). Wat as Jesus kwaad is en haar beskuldig dat sy Hom onrein gemaak het; wat as Hy ...?; Sê nou maar Hy ...! Maar Jesus gee haar goeie nuus en trek haar weer terug in die samelewing in. Sy is nie meer ‘n uitgeworpene nie. As “dogter” word sy weer deel van God se gesin in die Koninkryk van God: “Wees gerus, dogter, jou geloof het jou gered.”


Tussen die twee genesinge is daar ’n treffende ooreenkoms: die vrou ly twaalf jaar aan haar siekte en die dogtertjie van Jaïrus is twaalf jaar oud; vir albei kan die mens niks meer doen nie en het hulle met Jesus gewaag; in albei gevalle geskied die genesing deur aanraking; vir albei is die genesing afhanklik van hulle geloof.


Hoe wonderlik is ons Here nie! Sy mag breek deur die grense van siekte en dood deur middel van die band van geloof en redding! Daarom kan ons ook waag om na Jesus te gaan met al ons probleme. Ons hoef nie bang of bekommerd te wees oor hoe ons Jesus sal bereik wanneer ons desperaat is nie. Ons kan maar net soos Jaïrus en hierdie vrou, in geloof ons hande na Hom uitsteek en vind dat Hy reeds naby ons is! Ons kan elke dag met geloof leef omdat ons in die verlede God se versorgende genade ontvang het, en daarom in die toekoms mag hoop op Sy beloftes.


“Geloof bring jou na die basiese lewensaanvaarding, na ‘n geborgenheid in angs, in teleurstelling, in die oorklimproses. Geloof is: ‘Ek is seker dat niks wat uit die tyd kom my weer van God kan skei nie.’ Ook nie satan nie, want ook hy is ‘n produk van die tyd” (Ferdinand Deist).


Gebed: Hemelse Vader, dankie vir die wonder van geloof. Dankie dat U self geloof in my hart gewerk het, dat ek seker mag weet dat U leef, dat U alles vir my goed sal laat afloop. Dankie dat, alhoewel U nie kitsoplossings vir my probleme of siekte gee nie, ek dit steeds met U kan waag, want U het ‘n plan met my lewe. Vergewe my wanneer ek twyfel aan U almag en U liefde vir my, veral wanneer dit donker word om my weens die aanslae van die lewe en siekte wat my vreugde wil steel. Help my om my geloof uit te leef in alles wat ek doen en sê. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page