top of page

Gedagte vir Vandag


Ruïnes van die Sinagoge in Kapernaum.

JESUS SE GESAG IN SY WONDERDADE.

(Matt. 8:1 tot Matt. 9:34.)

DIE DOGTERTJIE VAN DIE JOODSE RAADSLID (1)

(Mark. 5:21-43); Luk. 8: 40-56)

SORG DAT JY EN JOU GESIN OP JESUS SE ADRESLYS IS!


Matt. 9:18-19 – “Jesus was nog besig om dit vir die mense te sê toe daar ‘n raadslid van die sinagoge voor Hom kom kniel en sê: ‘My dogter het nou net gesterwe, maar kom lê u hand op haar en sy sal weer lewe.’ Jesus het opgestaan, en Hy en sy dissipels het saam met die man gegaan.”


Jesus is nog besig om die menigte mense wat saamgedrom het om na Hom te luister, (moontlik ten dele uit nuuskierigheid of sensasiejag), te onderrig, toe ‘n “raadslid van die sinagoge voor Hom kom kniel en sê: ‘My dogter het nou net gesterwe, maar kom lê u hand op haar en sy sal weer lewe.” Volgens Markus was hierdie raadslid Jaïrus. Hy was dus ’n persoon van aansien wat ‘n belangrike statusposisie beklee het. Hy was iemand wat die gemeenskap se agting geniet het. Hy was verantwoordelik daarvoor om die openbare Skriflesings in die sinagoge te bepaal, en hy het besluit wie bevoeg genoeg is om te preek. In die lig van die Fariseërs se toenemende teenstand teen Jesus, en hy ’n amp van eer beklee het, was dit nie nodig om hom voor iemand neer te buig nie, maar hy werp hom nogtans smekend voor Jesus neer.


Jaïrus val op sy knieë voor Jesus neer. Hy respekteer Jesus en aanvaar Sy meerdere outoriteit. Daardeur laat hy sien hoe groot sy nood is, en ook hoe groot sy vertroue op Jesus is. Jesus moes na sy huis kom en sy dogtertjie van twaalf jaar oud, die hande oplê sodat sy gesond kon word. Volgens Matteus was sy reeds dood en volgens Markus 5:23 en Lukas 8:42 was sy sterwend. Maak nie saak wat die werklike situasie op daardie oomblik was toe Jaïrus hulp gesoek het nie, Matteus was meer geïnteresseerd in die betekenis van die gebeure, in dié geval, die geloof van Jaïrus. Wat wel ook bevestig word, is dat Jesus se magsopenbaring oor die dood, die nuwe Koninkryk van God aan die lig bring!


Jaïrus het as ‘n pa, geen moeite ontsien om by Jesus uit te kom nie. Wanhoop dwing hom na Jesus toe. Hy vra ook iets heel ongehoords. As Jesus maar net vir haar die hande sou oplê, sou Hy haar uit die mag van die dood red, sodat sy in die lewe kon bly. Om haar aan te raak, sou beteken dat Jesus aan ‘n lyk moes raak en vir enige Jood was dit taboe. Om aan ‘n lyk te raak het beteken jy is onrein en dus onaanvaarbaar vir God.


Sonder versuim gee Jesus gehoor aan die versoek van die hartverskeurde vader. “Jesus het opgestaan, en Hy en sy dissipels het saam met die man gegaan.” Jesus volg Jaïrus om na die lyk van sy dogtertjie te gaan. Hiermee wys Jesus dat Hy hom nie steur aan die grense wat mense afbaken omtrent reinheid nie. Die feit dat Jaïrus in Hom geglo het dat Hy sy dogter lewend sou maak, het gelei dat Jesus bereid was om die terrein van onreinheid te betree soos wat Hy ook met die melaatse man gedoen het (Matt. 8:3).


Terwyl hulle na Jaïrus se huis stap, stel Jesus hom voor ’n keuse: “Moet jou nie ontstel nie. Glo net” (Mark. 5:36b). Jaïrus kon kies om ontsteld te raak of nie. Hy kon kies om te glo of om nie te glo nie. Die menslike en sigbare realiteit is dat sy dogtertjie dood is; die Goddelike en onsigbare realiteit is dat sy gesond word. Dis ’n keuse tussen wat mense en God sê, hoe mense en Jesus die situasie sien!


As Jesus se volgelinge, is ons nie sonder aanslae teen die lewe nie, maar ons het ‘n verbintenis met Hom wat oneindig groter is as onsself na wie ons vir hulp kan gaan. Dit is wat Jaïrus gedoen het toe sy dogter so siek geword het. Hy het besef dat die dokters niks vir haar kon doen nie. In plaas daarvan om langer by haar bed te bly en haar te bemoedig terwyl sy sterwende was, het hy sy trots as raadslid in sy sak gesteek en na Jesus toe gegaan. Hy het geglo dat Jesus haar uit die kake van die dood kan haal.


Baie ouers wil só graag hulle kinders vorm tot “konings” van hul eie aardse koninkryke terwyl dit elke ouer se eintlike plig is om te sorg dat hulle kinders by God uitkom, dat hulle hemel toe gaan. Hoe gaan ek dit regkry? Hoe verseker ek my kinders se beloning by die Here? Hoe verseker ek my kind gaan hemel toe? Elkeen is tog sélf verantwoordelik om te verseker dat sy eindbestemming die hemel is. Indien ek my kinders se “volmaaktheid” wil respekteer, moet ek as ouer sélf seker maak om die Here te verheerlik en naby Hom te wees en om vanuit Sy Woord te leef want “die woord van die Here is volmaak: dit gee lewe!” (Ps. 19:8).


Maak jou eie saak met God reg. Ondersoek jouself en gaan op jou knieë en bid dat God jou genadig sal wees en bely dat jy nooit jou roeping sal kan verwesenlik vanuit jou eie kragte nie. “Gee jouself aan God as lewende offer. Moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God jou verander deur jou denke te vernuwe. Dan sal jy ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is” (Rom. 12:1-2). Wees ‘n gerespekteerde voorbeeld vir jou kinders!


Die grootste geskenk wat ons vir ons kinders kan gee, eindig nie by dit wat ons vir hulle nalaat as erfporsie of sorg vir ‘n behoorlike akademiese geleerdheid nie. Die héél belangrikste wat ons vir hulle kan doen, is om vir hulle die weg na Jesus toe aan te toon. Deel van daardie daad, is om vir hulle te bid, só te bid dat hulle name elke dag in die hemelse troonsale sal weerklink. Só te bid want ons weet dat Jesus omgee vir kinders, Hy het dan omgegee om Jaïrus, een van Sy “opponente” se kind, uit die bande van die dood te gaan haal. Jesus is by magte om die kloue van die dood, permanent oop te buig vir almal wat in Hom glo, ook vir jou en my, en ons kinders!


“Die beste erfenis wat ons aan ons kinders kan nalaat, is nie om die dinge vir hulle te probeer vaslê en reël nie, maar om hulle die openheid vir Gods Woord te leer, sodat hulle ‘n nuwe tyd sélf die weg van gehoorsaamheid sal volg” (Willie Jonker).


Gebed: Here, dankie vir die genade om kinders te mag hê. As ‘n ouer is ek soms geneig om met ongeduld en sonder respek teenoor hulle op te tree. Skenk my die geduld dat ek hulle met die nodige respek sal behandel – geduld en respek vir hulle buie, hulle gebrekkige begrip, die kere wat dit blyk dat hulle nie ore het nie. Skenk my die genade om hulle groot te maak in U weë, die krag en die wysheid om hulle te vertrou in hul vermoëns en met liefde en respek hul foute ook te aanvaar. Ek kan slegs met vertroue regop staan en die uitdagings van kinders met respek groot maak, as ek eers op my knieë voor U was. Ek besef ook dat terwyl ek kinders het, my gebede op my knieë, nooit eindig nie. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page