top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE GESAG IN SY WONDERDADE.

(Matt. 8:1 tot Matt. 9:34)


JESUS SE MAGSOPENBARING OOR DIE BOSE – DIE GENESING VAN DIE BESETENES IN GADARA (3). (Mark. 5:1-20; Luk.8:26-39)


ONS VRYE WIL OM JESUS TEGEMOET TE GAAN!


Matt. 8:30-32 – “’n Hele ent van hulle af het ‘n groot trop varke geloop. Die duiwels het Hom gesoebat: ‘As U ons uitdryf, stuur ons tog in die trop varke in.’ “Gaan!’ het Hy vir hulle gesê. Hulle is toe uit die mense uit en het in die varke ingevaar. Die hele trop het meteens op loop gesit teen die hang af, die see in, en het in die water versuip.”


Op versoek van die duiwels, stuur Jesus hulle in die varke in. Meteens breek pandemonium los en die varke storm die helling af en verdrink. Die duiwels is van hulle nuwe woning beroof en daardeur buite aksie gestel. Jesus het oorwin. Dit laat ons onwillekeurig die vraag vra waarom die effek wat die duiwels op die varke gehad het, nie dieselfde met die besetenes kon regkry nie? Markus noem dat daar ongeveer twee duisend varke was wat versuip het (Mark. 5:13). Die twee manne was dus meer intensief deur dieselfde duiwels beset, en húlle het nie “selfmoord” gepleeg deur in die see te spring nie?


Dit beklemtoon natuurlik nie net hoeveel bose geeste die mans beset het nie, maar Jesus se gesag oor die bose. Hy kan met ‘n enkele woord die gang van enigiets verander: siekte met sy vernietigende krag, die see met sy verwoedende krag en die duiwel met sy verwoestende krag. Maar, het die dood van die varke, wat ook deur God geskep is, dan nie ook ‘n reg op lewe nie? Waarom laat God toe dat Jesus die bose duiwels in lewende wesens invaar, al is hulle onrein diere. Hoekom het Hy nie die duiwels se versoek geweier, en eerder teruggestuur het na hulle gevangenis in die onderwêreld nie (Luk. 8:31). Jesus kon mos die varke se lewens gespaar het!


Ons moet onthou dat alles op die aarde aan die Here behoort (Ps 24:1), en as Hy toelaat dat die dood van willose diere, ‘n positiewe doel sou dien om ‘n mens met sy eie wil te red, mag ons nie Sy besluit bevraagteken nie. God staan natuurlik nie onverskillig teenoor enigiets in Sy skepping nie, (behalwe natuurlik die duiwel en al sy trawante wat sonder God se liefde en genade bestaan), maar die twee besetenes van Gadara moes sien en bevestiging kry dat God vry maak, al is dit ten koste van twee duisend varke. (Die DBV sou natuurlik nie hiermee saamstem nie, maar niemand kla as duisende diere elke dag geslag word sodat die mens kan eet om te lewe nie. Twee duisend varke se dood om twee siele te red, is nie te veel gevra nie. Dit het die Seun van God gekos om die wêreld te red!)


Die belangrike faktor hier is die vrye wil van die duiwel, die dier en van die mens. Die duiwels het Jesus gevra om hulle los te laat in die varke. Die duiwel en al sy “engele” het ‘n vrye wil net soos die mens en sal sélf verantwoordelikheid vir hulle dade moet doen en eendag rekenskap voor die Regterstoel daarvoor moet gee. Die varke daarenteen, het geen vrye wil nie en kon nie die duiwels se versoeke weier nie, en dit het tot hulle vernietiging gelei. Die duiwels is dus verantwoordelik vir die varke se ondergang, en nie Jesus nie. Die twee Gadareners se wilsbesluit om Jesus tegemoet te gaan, het verreikende gevolge – hulle is vrygemaak van die duiwels se besetting, van die bose se afbrekende magte, hulle is gered, Jesus het oorwin!


Wanneer Jesus beheer oorneem, verander álles. Soos die twee Gadareners onderwerp was aan ‘n reinigingsproses, word ons onderwerp aan ‘n reinigingsproses. Dit beteken ons moet aanpassings in ons daaglikse lewe maak en die stukkende verhouding tussen ons en Jesus regstel. Indien ons dit nie doen nie, sal dit tot gevolg hê dat ons nie geestelik groei soos God verwag nie, en dit veroorsaak dat ons gemeenskap met Christus deur die Heilige Gees, belemmer word.


Ons wilsbesluit om soos die twee besetenes, “Jesus wat die Waarheid, die Weg en die Lewe is (Joh. 14:6)”, “tegemoet te gaan”, reinig ons van sonde en afbrekende magte. Jesus laat egter dikwels die opruiming van struikelblokke aan ons oor, maar om ons te help met die proses, gee Hy aan ons Sy Gees wat in ons woon. Dit is die Gees wat beheer van ons lewe oorneem om ons op die regte pad van oorwinning sal lei. Die keuse bly egter by elkeen van ons: wil ons tussen die grafte bly of Jesus tegemoet gaan; “Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen”(Ef. 5:17).


“Wanneer mense hulle oorgee aan die Gees van God, sal hulle baie gou leer van versoening en onsterflikheid in Christus as wat hulle in ‘n hele leeftyd buite die Gees om sou leer”

(John Brown).


Gebed: Dankie Gees van God dat U my ‘n nuwe mens in Christus gemaak het. Dankie vir die sekerheid wat ek in my hart het dat U in beheer van my lewe is. Dankie vir die troosgedagte dat U in my woon en altyd by my is. Hou my asseblief op die pad wat na oorwinning lei. Vul my met liefde, hoop en krag sodat ek kan wees wat U wil hê ek moet wees. Begelei elkeen wat nog deur die bose beheer word, om U tegemoet te gaan. Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page