top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE GESAG IN SY WONDERDADE

(Matt. 8:1 tot Matt. 9:34)


HOE JESUS GEVOLG MOET WORD (2) – DIE TYD OM TE REAGEER IS NOU!

(Luk. 9:57-62)


Matt. 8:21-22 – “Iemand anders, een van sy dissipels, sê vir Hom: ‘Here, laat my toe om eers terug te gaan en my pa te begrawe.’ Maar Jesus antwoord hom: ‘ Volg My, en laat die dooies hulle eie dooies begrawe.’”


Vergelyk ook Fil. 3:7-9 – “Maar wat eers vir my ‘n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry, en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo.”


Jesus se volmag vra reaksie van ware dissipels. Die skrifgeleerde waaroor ons Vrydag berig het, was ‘n potensiële dissipel, ‘n voornemende dissipel wat op ’n skokkende manier op die implikasie van navolging van Jesus gewys is. Die koste moes eers bereken word. Vandag het ons egter “iemand anders, een van sy dissipels”, iemand wat reeds gered was, wat sê: “Here, laat my toe om eers terug te gaan en my pa te begrawe.” Dit is dus duidelik dat Jesus se roeping vir hierdie dissipel, nie ‘n roeping tot geloof in Hom was nie, maar tot toegewyde dissipelskap.


Hierdie dissipel kom met die redelike versoek om eers sy pa te begrawe. Die kulturele agtergrond vir ’n Jood van destyds, was dit ’n gebiedende verpligting wat selfs voorrang bo bepaalde godsdienstige verpligtings gehad het. Indien ‘n Jood van daardie tydperk tot sterwe gekom het, dan is daardie persoon op dieselfde dag, of in uitsonderlike gevalle, die daaropvolgende dag begrawe. Na die begrafnis het ‘n routydperk van 30 dae lank gevolg.


Indien die dissipel eers sy pa moes gaan begrawe het, sou hy nie langs die pad met Jesus gestaan en gesels het nie, hy sou by die huis gewees het. Sy pa is dalk eerder siek of oud. Dit beteken dat hy graag wou wag totdat sy vader eers tot sterwe sou kom, sodat hy sy vader ‘n ordentlike begrafnis kon gee, en sodoende eers sy erfporsie in ontvangs kon neem. Die uitstel om Jesus te volg kon dus jare lank neem.


Jesus kon nie vir hom wag nie. En hier sê Jesus dat absoluut níks, meer prioriteit kan geniet bo Hom nie. As Jesus jou roep om Hom te volg, kan jy nie sê: “Ek wil eers …” God moet eerste wees in elke gelowige se lewe. In vergelyking met die wins wat ons in Christus verkry, kan ons soos Paulus, ander dinge as gemors beskou (Fil. 3:7-9).


Daar is egter niks inherent daarmee verkeerd indien ‘n gelowige sy geliefdes wat afgesterwe het, begrawe nie, (mens sal immers so iets van ‘n gelowige verwag!) maar dit word egter sonde, indien die begrawe van geliefdes (of enige iets anders) voorrang oor God geniet. Die Here het dit baie duidelik gestel, dat alles (en dit beteken álles) die tweede plek naas Hom en Sy wil moet inneem: “En Hy sê vir almal: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis dra en My volg” (Luk. 9:23). Ons behoort mos nie aan ‘n kerk om begrawe te kan word nie, maar om saam met Jesus te kan leef!


Ons kan nie Jesus én die wêreld volg nie. Om ons begeertes te vermeng met die wêreld beteken dat ons in ‘n gevaarsone beland waar ons beheers word om “’n vriend van die wêreld te wil wees”, wat buite die konteks van God en Sy wil is. Ons mag nooit op twee gedagtes hink of ons die Here wil dien of dalk nie wil dien nie. Ons moet Hom voluit dien. Ons behoort aan Hom: “Of besef julle nie dat julle liggaam ’n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal” (1 Kor. 6:19-20). Wanneer ons ons liefde aan die wêreld verkoop, pleeg ons owerspel en verloën ons God se liefde. Satan het dan hierdie rondte gewen! Die keuse is onafwendbaar: “’n vriend van die wêreld, is ‘n vyand van God” (Jak. 4:4b).


“Kies slegs vriende wat jou op die pad na die hemel toe kan help” (John Wesley).


Gebed: Onse Here, ek is nie so seker of ek altyd staande sal kan bly onder die druk nie. Soms is dinge vir my net te veel en wankel my bene erg. Dankie vir die belofte dat ek nie alleen teen die lewe hoef op te staan nie. Selfs al loop die pad deur die donker dieptes, hoef ek dáár ook nie bang te wees nie, want U is by my. Dankie dat U nie kantoorure het nie, maar altyd daar is om ‘n stukkende sondaar te ontvang. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page