top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE GESAG IN SY WONDERDADE – DRIE GENESINGS!

(Matt. 8:1 tot Matt. 9:34)


TWEEDE GENESING: DIE GENESING VAN DIE OFFISIER SE SLAAF (1) – AFSTAND GENESING!

(Luk. 7:1-10; Joh. 4:43-54)


Matt. 8:5-8 en 13 – “Nadat Jesus in Kapernaum aangekom het, het ‘n offisier by Hom hulp kom vra en gesê: ‘Here, my slaaf lê by my huis verlam en verduur baie pyn.’ En Jesus antwoord hom: ‘Ek sal hom kom gesond maak.’ Maar die offisier sê: ‘Here, ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie. Sê maar net ‘n woord, en my slaaf sal gesond word … Jesus sê toe vir die offisier: ‘Gaan terug, en wat jy geglo het, sal gebeur.’ En sy slaaf het op daardie oomblik gesond geword.”


Vergelyk ook 1 Joh. 5:11 – “En die getuienis behels dit: God het ons die ewige lewe gegee, en dié lewe is deur sy Seun.”


Nadat Jesus die melaatse genees het, kom Hy in Kapernaum aan wat geleë is aan die westelike oewer van die See van Galilea. Kapernaum was ’n belangrike kontrolepunt op die verkeersweg van Sirië na Egipte. Dit was ’n grenspos tussen die regeringsgebied van Herodes Antipas, die heerser van die gebied van Galilea. Daar was ’n tolhuis en ’n klein garnisoen onder die bevel van ’n offisier, ‘n hoofman oor honderd of kaptein. Hierdie offisier het ’n slaaf gehad wat vir hom baie werd was, en die slaaf was dodelik siek.


Die Romeinse offisier, wat sonder twyfel, ‘n magtige posisie beklee het en ‘n vername man was, doen ‘n uiters ongewone stap om na Jesus te reik en Hom te versoek om sy siek slaaf gesond te maak. Op grond van sy offisierstatus in die Romeinse Ryk, is hy veronderstel om harteloos en ongenaakbaar te wees, en tog erken hy Jesus se gesag en spreek Hom aan as Here (Meester), dieselfde as wat hy die keiser sou aanspreek. Met deernis betree die offisier as heiden, die Joodse geloofskring. Die Jode het alle ander mense as buitestanders beskou, heidene wat ver weg was van God, maar hierdie Romein het egter nie toegelaat dat dit enigsins ‘n struikelblok gaan wees nie.


Ironies dat ‘n hoë Romeinse amptenaar by die Timmerman van Nasaret hulp gaan soek – die verteenwoordiger van die Romeinse Ryk en Verteenwoordiger van God se Ryk, se paaie kruis in Kapernaum! “En Jesus antwoord hom: ‘Ek sal hom kom gesond maak.” Die offisier is as heiden daarvan bewus dat ’n Jood nie sy huis mag binnegaan nie, maar dit laat hom nie omdraai nie, in sy hart het ’n nuwe insig ontwaak. Hy het begryp dat Jesus méér is as ’n gewone mens. Sy antwoord wys dat Hy Jesus as die enigste oplossing vir sy probleem sien. Hy stort die smart van sy hart voor Jesus uit, daarom spreek hy Hom aan: “Here, ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie. Sê maar net ‘n woord, en my slaaf sal gesond word.”


Voor die Here staan die hoë heidense amptenaar sonder aanspraak op verdienste; hy staan daar as die radelose hulpsoekende mens, nie as ‘n hoë amptenaar nie, en hy pleit vir die lewe van “sy slaaf”. Hy vra nie ’n wonderwerk nie, maar sy geloof in Jesus gee hom die vrymoedigheid om Jesus te nader, dit met Jesus te waag en te pleit om die lewe van sy slaaf, “by Hom in wie daar lewe is” (Joh. 1:4). Jesus toets die offisier se geloof verder en gee hom ‘n Goddelike belofte: “Gaan terug, en wat jy geglo het, sal gebeur.” Sonder skroom het hy geglo Jesus se krag is nie afhanklik van aanraking nie!


Jesus vergesel nie die offisier na sy huis toe nie maar gee aan hom ‘n Goddelike belofte. ‘n Goddelike belofte is nie ‘n onsekere onvervulde hoop dat iets iewers in die toekoms sal gebeur nie. ‘n Belofte van God is rééds ‘n werklikheid omdat Hy lewe en omdat Hý dit gesê het. Dit is die kleed waarin Christus altyd herhaaldelik na ons toe kom. Dit is ‘n Beloftekleed – Sy werksmetode (1 Joh. 5:11). Die offisier ag die belofte betroubaar en waar. Hy neem dit aan. Hy glo die belofte is alreeds 'n realiteit – “En sy slaaf het op daardie oomblik gesond geword.”


Die genesing het op dieselfde oomblik as wat Jesus die woord gegee het, gebeur. Dit het gebeur op die oomblik toe Jesus die woord gegee het en nie toe die man geglo het nie!! Dit was om te illustreer dat God se belofte-wat-alreeds-waar-is (wat deur die sigbare teken gewaarborg is) vóórop gaan en nie die mens se geloof nie. Jesus se krag lê nie net in Sy aanraking nie, as Hy iets sê, gebeur dit, ons moet net luister, glo en vertrou. Omdat hy geglo het, het nie net die offisier se slaaf gesond geword nie, hy het deel geword van God se koninkryk, al is hy ‘n Romeinse burger!


Hierdie offisier se verhaal is ‘n bemoediging vir ons want ons mag weet: My ewige sekuriteit lê vasgeanker in God se beloftewoord. Heeltemal rotsvas - buitekant myself - geanker in Hom! My geloof vertrou dáárop, al is dit soms hoe swak. Ek kom juis weer uit my twyfelmoeras uit, deur weer en weer terug te gaan na Hom en Sy Woord – soos dit persoonlik aan my gewaarborg is in my doop. Hierdie belofte van geloofsverlossing word kernagtig in ons geloofsbelydenis saamgevat. Maak dit jou persoonlike belydenis as gebed vir vandag en elke dag hierna.


“Geloof is nie om te glo dat God sal doen wat jy graag wil hê nie. Geloof is om te glo dat God sal doen wat reg is” (Max Lucado).

Geloofsbelydenis as gebed: Dankie God dat U Uself as Vader aan my verbind. 2) Dankie God dat U U Seun Jesus as HERE oor my lewe aangestel het. 3) Dankie Jesus dat U geboorte my skuld bedek. 4) Dankie Jesus dat U lyding onder Pontius Pilatus my verlos het van my ewige geestelike lyding onder Gods toorn. 5) Dankie Jesus dat U sterwe en begrafnis my verlos het van my ewige dood. 6) Dankie Jesus dat U ter helle neergedaal het sodat ek nooit daar sal kom nie. 7) Dankie Jesus dat U opstanding my ‘n nuwe lewe gegee het. 8) Dankie Jesus dat U wederkoms my toekoms is. 9) Dankie Heilige Gees dat U in al U volheid aan my gegee is. 10) Dankie Heilige Gees dat U my deel maak van ‘n kerk. 11) Dankie Heilige Gees dat U my verseker van my sondevergifnis. 12) Dankie Heilige Gees dat U my verseker van my fisiese opstanding en ewige lewe. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page