top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE GESAG IN SY WONDERDADE – MOEDELOOS OF GEÏNSPIREERD OM TE GETUIG?

(Matt. 8:1 tot Matt. 9:34)


Matt. 8:1 – “Jesus het afgekom van die berg af, en ‘n groot menigte mense het saam met Hom gegaan.”


Vergelyk ook 2 Tim. 1:8a; 9 – "Jy moenie skaam wees om die boodskap van die Here te verkondig nie … Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het.”


Nadat Jesus met Sy Bergrede die luisteraars stom van verbasing gelaat het, klim Hy van die berg, daar langs die See van Galilea, af “en ‘n groot menigte mense het saam met Hom gegaan.” Hoe lank hulle op die berg was, weet ons nie, maar wat ons wel weet is dat die Bergrede nie net Jesus se preek was nie, maar ‘n lewenstyl vir gelowiges wat met Hom saamloop, “saam met Hom gaan,” in Hom glo en aan Hom onderdanig is. Wat ons ook weet is dat Jesus nie uit die Bergrede gehaal kan word nie, dan kan ons netsowel dit van die Christelike geloof en dissipelskap ook los maak. Jesus se Bergpreek vra van ons ‘n gesindheidsverandering sodat ons met ons héle hart, in ‘n persoonlike verhouding, “saam met Hom gaan.”


Deur die genade van ons hemelse Vader, is dit vandag die 1 000ste dagstukkie wat ons uitstuur. Ek onthou nog aan die begin in Januarie 2016, hoe ek ervaar het die Here my gelei het om die stukke wat ek n.a.v. intense Bybelstudie, reggetrek het en aan 55 mense op ons e-pos adreslys gestuur het. Aanvanklik het ek dit eers naamloos gedoen, omdat ek nie wou hê mense moet dit ontvang omdat hulle my nie in die gesig wou vat nie, en ook om seker te maak ek “is in die regte baan en ek bly in daardie baan.” ’n Klompie het sommer dadelik uitgeteken. Een dame, (haar adres was deur ‘n vriend aangestuur), het selfs geskakel en gedreig met regstappe omdat ons durf waag om Christenskap in haar keel af te druk.


My mond hang oop as ek kyk na die groei van ons gemeente se E-Kerk bediening. Nie dat getalle enigsins saak maak nie, maar “Gedagte vir Vandag” word tans wêreldwyd oor die golwe van die internet, na 700 mense gestuur wat God se Woord in vandag se woorde wil ontvang. Aan God al die eer! Tog het Jesus nie aarde toe gekom en bemarkingsplanne opgestel en bemarkers aangestel en advertensies by mense afgelaai nie. Nee, God het mense gebruik. Gewone mense. Mense wat nie noodwendig opgelei is om bemarking te doen nie. Mense wat nie noodwendig teologie studeer het nie. God het nie van die mense verwag om eers ’n kursus te loop om te weet hoe hulle presies moet maak nie. Dis eintlik ’n baie eenvoudige opdrag: “Vertel vir ander hiervan” – in vandag se terme: Share jou e-pos. Druk die share knoppie en send. Dis al! God doen die res.


Mense vra dikwels vir my om die stukke wat ons uitstuur te verkort. “Hoekom?” “Dit neem te veel tyd om dit deur te lees.” "Hoe lank neem dit vir jou om dit deur te lees?” “Seker so vyf minute.” “Is dit al tyd wat jy vir God het in jou besige dag?” vra ek sag. Ek kry gewoonlik nie ’n antwoord nie. Dis eintlik skokkend! Het ons só besig geraak dat ons net 5 minute êrens in die dag kan afstaan vir ons God? Hoeveel petrol vir die dag kan ons in vyf minute bymekaarmaak? Dit gaan dalk net te min wees om jou by jou eindbestemming uit te bring!


Elkeen van ons is geroep om God se Woord in die wêreld uit te dra (Matt. 28:19). Sommige van ons werk voltyds as predikante en pastore. Die res van ons het ander beroepe of werksomstandighede. Sommige preek deur woorde en ander deur dade. Die feit bly staan: Elkeen van ons is geroep om Jesus aan die wêreld te wys. Die wêreld het Hom só nodig. Dit help nie ons het net geluister wat Hy daar op die berg vir ons gesê het en saam met “Hom afgekom van die berg af, en as deel van die groot menigte mense, saam met Hom gegaan nie.”


Jesus se Bergpreek spoor ons aan om te gaan dóén! Dit mag ons dalk moedeloos laat. Jy kan dalk in die lig van die Bergpreek ontdek dat jy godsdienstig is, maar eintlik nog nie met Jesus ‘n verhouding aangeknoop het nie en nog kerk-kerk speel.


Dit is ’n groot opdrag wat elkeen van ons opgelê is. Net jammer dat so baie nie daarvan weet nie en baie wat wel daarvan weet, vergeet om die opdrag uit te leef. Ek vermoed dit is die rede hoekom die wêreld so sonder God lewe. Omdat baie van ons tjoepstil oor ons Verlosser bly. ’n Wêreld sonder God is chaos en as ek so om my kyk, sien ek meer chaos as orde. Ons almal het die roeping om God se Boodskap oor te vertel. Vandag is dit so maklik om net die share knoppie te druk of die e-pos adres na my te cc. As jy weer eendag geroer word deur God se woorde en wonder of jy dit moet aanstuur vir dié of daai ... wees getrou en gehoorsaam. Luister na die stem van die Heilige Gees en druk die share knoppie.


Is jy bereid om sekere vriendskappe op te gee om getrou te bly aan jou roeping om God se Woord uit te dra en Sy karakter aan ander te wys? Is ek en jy bereid om in die tronk gegooi te word, verneder en verwerp, gestroop van alles wat ons het? Gelukkig hoef ons eintlik nie die vrae te antwoord nie, want swaarkry en vernedering soos Jesus se twaalf dissipels en Paulus, ter wille van ons geloof is nie ’n realiteit nie. Ons lewe is nie in gevaar as ons ons roeping gaan uitleef nie.


Ek en jy is ook soos Paulus “gered en geroep om aan Hom toegewy te wees” om die boodskap van verlossing met ander te deel en aan hulle te vertel watter verskil Jesus elke dag in ons lewe maak. Dit help nie om net soos die “groot menigte mense saam met Hom te gaan nie.” Leef jou roeping uit net daar waar jy is en moenie toelaat dat enige iets jou stop nie. Wees ‘n dader van die Woord. Ek glo dit is presies wat Jesus met die Bergpreek in die lewe van Sy hoorders wou bereik.


“Getuienis is om die verskillende struikelblokke van ons self-liefde te verwyder, sodat Christus wat in ons woon, Homself aan ons medemens kan vertoon” (Paul Frost).


Gebed: Here, ek smag daarna om meer tyd met U deur te bring. Help my om elke dag my afspraak met U na te kom sodat ek “deur U Woord, my kennis kan bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Jesus Christus” (2 Tim. 3:15). Here, dis ’n voorreg om van U verlossingsdade te vertel. Help my om gehoorsaam te wees, al huiwer ek soms. Gee asseblief aan my die vrymoedigheid soos Paulus, om tydig en ontydig daaroor te praat. Vernuwe my denke, sodat ek in hierdie lewe kan onderskei wat vir U goed en aanneemlik en volmaak is. Mag die Heilige Gees my hierin voorgaan. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page